FOTO: Phyllis Green

Reise

Ons opwindende lewe in ons nuwe tuiste, Mauritius.

Die Kaapse egpaar, Anni en Yasper het die afgelope sewe maande ’n paar opwindende ervarings beleef in Mauritius.

Hulle het verlede jaar hul besighede in Kaapstad verkoop en die groot stap geneem om hulle op dié eiland te gaan vestig. Anne-Lise vertel meer oor hulle lewe daar:

Bonjour! Ca va?

Sjoe, die tyd het gevlieg! Ons bly al sewe maande in Mauritius en het so baie dinge beleef. Hierdie eiland het soveel fasette. Daar is altyd een of ander fees wat gepaard gaan met wonderlike kos en vuurwerke.
So het ons in Augustus ons eerste Ganesh Chaturthi beleef. Dié groot Hindoe fees waar die geboorte van die god Ganesh gevier word, is iets om te beleef. Dit gaan gepaard met sang, musiek, aanbidding by die see met rituele en dan natuurlik lekker eet. Ons leer van Kadala Kurri (kekerertjie kerrie), ryspoeding en plantain fritters. Almal is vrolik en deel kos uit. Klein goue replikas van die god met ’n olifantkop word na die strand of rivier regoor eiland geneem waar dit onder water geplaas word. Die beeldjies is van sand gemaak en los op in die water.

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Oktober was dit die Divali/liggiefees. Hier kan mens kom leer van liggies en versiering. Die mense is liggie beduiwel. Huise en bome word met liggies versier om duiwel uit te hou! Klein olielampies word ook in tuine en huise geplaas. Die mense is baie godsdienstig en die meeste mense op die eiland is Hindoes. Hulle is baie verdraagsaam.

Op 10 Desember het die algemene verkiesing plaasgevind. Die “mense het gepraat” en demokrasie het geseëvier. ’n Nuwe eerste minister is gekies en die nuwe parlement sal in Februarie vir die eerste keer sit. Gedurende stemdag en die dae voor en daarna mag geen alkohol verkoop word nie. Winkels moet die drank toegooi of wegsluit. Elke vyf jaar is daar ’n nasionale verkiesing. Die vorige regering het probleme gehad met korrupsie en die ekonomie wat nie groei nie. Die 1,2 miljoen inwoners bly konstant, want jongmense gaan studeer oorsee en bly dan daar.
Die nuwe regering fokus daarop om beter om te sien na bejaardes (beter pensioene), ekonomiese vooruitgang, uitroei van korrupsie, beter arbeidswetgewing (tans kan werkers in die pad gesteek word sonder vergoeding); ook word hier gewerk aan minimum lone en ook beter werksgeleenthede vir jong mense.

Die aanloop tot Kersfees kan met een lekker Afrikaanse woord beskryf word: woes. Hier kry almal ’n 13de tjek. Die busse is tot oorlopens toe vol en die strate en strande is besig. So leer ons om vroeg die bus te haal om ons besigheid te gaan doen. Ons is gewaarsku teen swendelaars en moet oopkop inkopies doen. Kospryse is hoog, want daar is so toevloei van toeriste en almal probeer geld maak vir die maer tye. Plaaslik vervaardigde items word orals verkoop en daar is iets vir almal – van sleutelhouers tot bakke gemaak van perlemoen.

Op Kersdag is ons saam met ’n groep Suid-Afrikaners per boot na die eiland, Ile Aux Benitiers. Daar is gebraai en aartappelslaai geëet. Op pad na die eiland het ons by Crystal Rock gestop om te snorkel, my eerste snorkel hier. Die vissies en koraal baie mooi.
snorkel by Crystal Rock

En toe kom Nuwe Jaar! Nog nooit in ons lewe het ons so ’n kakofonie van klank en visuele aanslae beleef nie. Ons het op die strand gaan braai saam met honderde ander mense. Die vuurwerke het al 23:00 begin, maar met die aanbreek van 2015 het alle hel losgebars. Ons het nie geweet waar om te kyk nie. Duisende roepees is die lug ingeskiet met die “oe” en “ah” van die mense. Sjampagne het gevloei en ons het gedans tot drieuur die oggend. Nuwejaarsdag het ons net gerus. . .

In ons sewe maande hier het ons geleer hoe sake hier gedoen word. Kry maar alles op skrif. As jy tandartse toe gaan, is dit voordelig om te vra vir ’n geskrewe kwotasie. Toeriste betaal meer as inwoners. Ons dra ons verblyfspermit saam en wys dit dan by sekere plekke en betaal dan minder. Verder is die prys van ’n bottel wyn soos groot soos ’n kar paaiement. Ons ondersteun maar die plaaslike rum-industrie.

Om lede van ’n mediese fonds te word, was ’n groot leerkurwe. As jy ouer as 50 is, moet allerhande toetse gedoen word. Boonop word bestaande kondisies soos hipertensie vir vier jaar uitgesluit of dit word glad nie gedek nie.

Hier is tans ’n groot veldtog om mense bewus te maak oor Diabetes Mellitus. Een in elke vier inwoners het dié sikete onder lede, daarom kom hier baie gevalle van beroertes en hartaanvalle voor. Soos in baie ander lande is verwestering die oorsaak hiervan.

Die sikloon Bansi het ook vir ons kom kuier. Sy het sterk winde, baie reën en ’n woeste see saamgebring as geskenke. Die voorbereiding vir oorlewing is belangrik en ons moes seker maak ons het genoeg kos, water en lampe/kerse sou ons in Kategorie 3 in beweeg. Ons was hier onder Kategorie 2 waarskuwing. Skole was gesluit. Hier is ’n baie goeie waarskuwingsisteem oor radio en televisie. Hier was baie oorstromings op die eiland en bome wat omgewaai het. Tans het ons donderstorms, blitse en baie reën, net soos in die Kaap. Al verskil is dat die reën warm is. Ons was nie bang nie en het drie keer per dag see toe geloop in die reën om te gaan kyk en luister hoe die see raas. Volgens die weervoorspelling gaan daar glo nog tot Maart 10 siklone hier verby beweeg. Ons het al twee gehad.

Dis dan nou dit vir eers.

Au revoir uit ’n stormagtige Mauritius.

Yasper en Anni