Reise

Ons reis na die Griekse eilande en Alaska

SARIE-lesers deel hul reis-ervarings van oor die wêreld heen.

Elma de Koker, bemarker en kommunikasiebeampte van Port Elizabeth:

 

See, son en ontspanning teen die mooiste agtergrond van ruwe wit huisies met blou spatsels deure, luike en kerkkoepeldakke – dís waar ons soos blaasoppies luilekker diep in die see gedryf het. Later het ons heerlik tussen die mooiste winkeltjies rondgedrentel en ons verwonder aan die grootste verskeidenheid silwerjuweliersware.

 

Laurika Rauch se liedjie “Blou” kom dadelik by jou op as jy na dié toneel kyk. Dis boonop bekostigbaar as jy jou huiswerk doen. Ons het aan die einde van die seisoen gegaan en die weer was nog lekker warm en die pryse billik – én daar was nie soveel toeriste nie.

Ons het toeriste-mekkas soos Mykonos gekombineer met meer tradisionele eilande soos Sifnos, ‘n hele paar keer in restaurante tussen plaaslike inwoners geëet, Mythos-bier gedrink en gyros in pita geniet (gebraaide varkvleis of hoender in ‘n wrap met skyfies, tzatziki en slaai en feta-en-spinasiepasteitjies). Gedeelde voorafbespreekte verblyf in die sentrale deel van die hoofdorpie en die heerlikste brode, kase en vrugte wat ons by supermarkte gekoop het, het gesorg dat ons twaalf dae kon kuier vir minder as R8 000 per persoon.” – Elma de Koker

Mykonos-eiland

Elma de Koker in Santorini
Elma in Santorini
Santorini-eiland
Santorini-eiland

Ysmooie Alaska

Zelda Muller, funksiekoördineerder van Silver Lakes, Pretoria

Zelda Muller in Sitka

Zelda in Sitka

“Wát ‘n opwindende reiservaring! Ek is met die
Holland America Cruise Liner Alaska toe.
Dit het van Seattle vertrek en ons het Alaska aangedoen by Juneau,
Sitka en Ketchikan (en Victoria Bay in Kanada). Alaska,
met sy honderde gletsers, talle bergreekse en duisende riviere,
is heeltemal ongerep. Ek was dol op Seward, ‘n dorpie in die
Kenai-skiereiland in die suide van Alaska. Ek het daar koffie gedrink
in ‘n kafee met groot vensters en sagte leerbanke en gesukkel om my
oë weg te skeur van die hoë, sneeubedekte bergpieke wat die hawe
beskermend toevou. My gidsboek kon dit nie beter stel nie:
Seward is so scenic that it hurts.
Nóg ‘n onvergeetlike uitstappie
was ‘n vroegoggend-boottoer in die Kenai Fjords National Park.
‘n Mens is stomgeslaan deur die natuurskoon.”

 

Deel jou avontuur met SARIE

Stuur ‘n foto van jouself en ‘n mooi foto van die plek wat jy besoek het, asook ‘n beskrywing van jou reiservaring (sowat 150 woorde) saam met jou kontakbesonderhede aan mvanwyk5@sarie.com of Sarie-reisdinge (lesersbydraes), Posbus 1802, Kaapstad 8000.

 

  • Heleen

    Hi, ek wil ook graag na die griekse eilande toe gaan vir ‘n 7 dag toer. Waar kry mens reisagente vir daardie deel. Ek sukkel of soek net nie op die regte plekke nie.