Reise

Op reis in die beeldskone Kanada

Alet en Robbie Gilliland vertel van die interessante plekke waarheen hulle in hul nuwe tuisland, Kanada, gereis het.

Ons het deur die mooiste dele van Wes-Kanada gereis, en dit sluit die Kananaskis, Rockies, Vancouver-eiland, Sunshine Coast, die weskus en die Kootenay in. Ons het 6 500 km ver gery, deur woude en berge, oor en om mere, langs die kus af, en tot bo in die Rockies.

Kananaskis is die streek tussen Canmore en Long View, waar sneeubedekte pieke op die berge die agtergrond vorm vir ysblou mere en reuse-dennebome.

Kanada reis storie

 

Bergskape loop en soek sout op die teerpad en oral in die omgewing is daar waarskuwingstekens teen swart bere.

Hier stap jy met jou beersproei in jou sak. As jy dit moet gebruik, is die beer heeltemal te naby aan jou. Boomklim gaan niks help nie, want bere is ratse boomklimmers. Jy moet hulle net nie verras nie, veral nie as daar kleintjies by is nie. Jy gesels dus heeltyd hard en duidelik!

Hier’s baie interaktiewe museums. Gerestoureerde dorpies uit die dae van die goudsoekers, halfwegstasies vir die poskoetse en plekke wat die lewe van die Noord-Amerikaanse Indiane (First Nations) uitbeeld. Almal wat daar werk, dra tradisionele drag. Jy kry so ‘n goeie idee  van vervloë dae. Hier kan jy goud delf, op ‘n poskoets ry, sien hoe perde beslaan word en nog baie meer. Name soos Bar U Ranch, Fort Steel en Barkerville wek ‘n nostalgie na die romantiese dog gevaarlike tye uit vorige eeue.

Dié reuse-vragmotor is Sparwood se gelukbringer, want dit sou te veel kos om dit te verwyder. Dis die grootste vragmotor wat nog op die steenkoolveld gebruik is. Bykans elke dorp het by sy ingang een of ander gelukbringer, iets wat met die dorp en omgewing geassosieer word. So het ons al reusagtige beelde van krewe, muskiete, bere, moose (Amerikaanse elande) en salm gesien.

Kanada reis storieKanada reis storie

Stanleypark is ‘n groen oase in die middel van die bedrywige Vancouver en het panoramiese uitsigte oor die see. Dit neem omtrent twee uur se stap teen ‘n stewige pas om óm die park te stap. Hier is een van die vele uitsigte op Vancouver vanuit die park.

Kanada reis storieAlet by ‘n totempaal. Die pale beeld die geskiedenis van die Noord-Amerikaanse Indiane uit en is byna soos ‘n familiewapen wat die trots of hartseer van die vorige tydvakke aandui. Dis nie soos algemeen aanvaar ‘n teken van hul godsdiens nie, al word die plekke waar die pale voorkom as heilige grond beskou deur die Indiane.

Kanada reis storieOns is met die veerboot van Vancouver na Vancouver-eiland. Butchart Gardens is wêreldbekend. Die burgemeestersvrou van Victoria, me. Butchart, het die steengroef in 1904 in ‘n ongelooflike tuin omskep. Daar is ‘n Japannese tuin, roostuin, gesonke tuin met watervalle, hangende mandjies met fuchsias en begonias en ‘n Italiaanse tuin met ‘n formele stervormige visdam. Saans word die tuin omtower in ‘n sprokieswêreld met pragtige vuurwerkvertonings. ‘n Permanente span tuinwerkers hou dit heeljaar in stand.

In die hoofstad van Brits-Columbië, Victoria, is daar sowat 300 hangmandjies met blomme aan die lamppale om die hawefront. Die stad het ‘n kostelike samevoeging van ou en nuwe argitektuur. By The Empress Hotel word daar in Engelse tradisie high tea aangebied, kompleet met komkommertoebroodjies en fyngebak.

Kanada reis storieDie Craigdarroch-Kasteel is gedurende 1878-1890 gebou as private woonhuis vir die Skotse steenkool-magnaat, Robert Dunsmuir, die rykste en invloedrykste man in Wes-Kanada. Die Victoriaanse gebou het vier verdiepings, met 39 vertrekke wat ryklik versier is met loodglasvensters, dak-tot-muur-houtafwerking en hout-wenteltrappe.

 

Kanada reis storieChemainus het in 1858 tot stand gekom toe daar saagmeulens opgerig is. Dit was ‘n vooruitstrewende gemeenskap totdat die meulens in 1980 gesluit is. Die dorp het tot stilstand gekom en sou tot niet gegaan het, was dit nie vir die stadsklerk se briljante idee om dit ‘n toeristedorp te maak met 39 muurskilderye teen die besighede en huise se mure nie. Kunstenaars van Kanada, die VSA, Skotland, die Bahamas en Duitsland het meegewerk om van dié dorp ‘n trekpleister vir riesigers van oor die wêreld te maak. Die muurskildery beeld drie plaaslike Indiaanse stamme uit.

Kanada reis storieDie woud Cathedral Grove in die MacMillan Nasionale Park is die tuiste van reusagtige Douglas-dennebome, sommige tot 800 jaar oud en met ‘n deursnee van 9 meter. Jy voel klein as jy daar deurstap en word stil en staan in absolute verwondering oor die grootsheid daarvan.

Verder noord op Vancouver-eiland is Campbellrivier. Reuse-houtstompe lê op die strand gestrooi. Sommige kunstige inwoners gebruik dit om pragtige houtsneebeelde te maak wat oral op die sypaadjies te sien is. Van die beelde word met kettingsae gemaak. Die see is nie breed nie; eiland op eiland is sigbaar en dié deel word die Inside Passage genoem. Reuse-passasiersbote vaar naby die kus verby op pad na Alaska. Moordwalvisse beur hier uit die water, seker ook maar nuuskierig om te sien wat op land aangaan.

Kanada reis storie

Die Sunshine Coast is ‘n soort skiereiland tussen die vasteland en Vancouver-eiland wat net per veerboot bereik kan word. Hier het ons pragtig gekleurde seesterre gesien so groot soos ‘n broodbord.

Kanada reis storieKanada reis storie

 

Whistler is ‘n baie moderne ski-oord met mooi argitektuur. Huise word kunstig gebou met dik houtblokke. Hier word winter en somer geski, want selfs in die somer is daar sneeu op die bergpieke.

 

Kanada reis storie

 

Jy kry ‘n panoramiese uitsig oor die gebied as jy met vier kabelkarre en ‘n busrit tussenin tot bo ry. Ons het byna verkluim in ons sandale en drimax-baadjies, want ons het nie rekening gehou met hoe koud dit daar bo is nie!

Dié swartbeer het my kom verras waar ek gesit en lees het. Hy het rustig verbygestap. Ek’s so bly ek kon ‘n foto neem, want niemand sou my glo nie.

Kanada reis storieKanada het drie miljoen mere; meer as 60% van die wêreld se mere is in Kanada. Die water wissel van ysblou, inkblou, blouselblou tot smaraggroen en daar’s gewoonlik sneeubedekte pieke in die agtergrond.

Kanada reis storie

Upper Lake in die Kananaskis

Kanada reis storie

Die meer by Nakusp

Die Duitse invloed is nogal sterk. Hier is ‘n Duitse restaurant in kenmerkende Beierse styl. Kanada lê baie klem op die beskerming van verskillende kulture.

Kanada reis storie‘n Interessante huis van ‘n boheemse houtsnee-kunstenaar by Invermere. Op die dak is ‘n boerbok aan ‘n tou en toegangsgeld is $3. Met die geld wat hy by toeriste kry, toer hy elke jaar na ‘n bestemming iewers in die wêreld.

Kanada reis storie

Kanada reis storie

Revelstoke se gelukbringer is twee brons grysbere.

Kanada reis storie

 

Hier is ook een van Kanada se hoogste nasionale parke, Meadows in the Sky Nasionale Park. Die naam is beskrywend van die pragtige veldblomme wat tot laat in die somer daar voorkom.

Van Revelstoke is ons met ‘n gratis veerboot na die Kootenay, die streek tussen Kelowna en die Banff Nasionale Park wat bestaan uit mere, berge, woude, riviere en baie warmwaterbronne. Die hoofpad loop dood teen ‘n meer en jy wag nooit langer as ‘n uur vir ‘n veerboot om jou oor die meer te neem nie – tot waar die pad verder gaan tussen pragtige dorpies waar baie kunstenaars woon en werk. Nakusp is een van die mooi dorpe langs die Upper Arrow-meer.

Kanada reis storie

Ons het gaan soek na die salm wat in die riviere op swem om eiers te gaan lê voordat hulle vrek en die omgewing na vrot vis laat ruik. Ons het op dié skouspel afgekom. Die bere hou dan fees, maar omdat die bere so gevaarlik is, laat die natuurbewaarders toeriste nie toe om hulle te gaan soek nie. Ons het al 30 000 kilometer deur Kanada en Alaska gery en nog nooit een grysbeer gesien nie, net swartbere. Baie frustrerend!

Kanada reis storie

 

Banff is een van die mooiste dorpies in Kanada, en die geboue is met reuse-houtblokke gebou.

Die Banff Springs Hotel was aanvanklik gebou vir die ryk steenkool-magnate, maar het spoedig ‘n wonderlike toeriste-trekpleister geword. Dit het sy eie warmwaterbron.

Kanada reis storieOns RV (recreational vehicle) waarmee ons reis. Naweke vat die Kanadese pad na die mere en berge toe en die stede loop leeg. Die RV’s het groot varswater- en vuilwatertenks. Ons verkies provinsiale parke sonder geriewe, want dis stiller en gewoonlik privaat tussen bome. Elke kamp het ‘n “dumping station” waar jy van die vuilwater ontslae raak en weer vars water inneem. Drie groot batterye voorsien genoeg krag, en gas word gebruik vir die stoof en waterverwarmer.

Kanada reis storie

Die Icefields Parkway verbind Lake Louise met Jasper in die Kanadese Rockies. Jy ry langs riviere met watervalle, mere en tussen gletsers in die berge deur. Oral is daar wild. Amerikaanse elande (moose) met hul pragtige horings en bergskape is volop. Die geboue is tipiese houthutte (log cabins) omdat die hout hier so volop is. Baksteen-geboue bestaan byna nie. Hier en daar sal mense nagemaakte bakstene op die buitekant van geboue plak om die illusie te skep van steen.

Kanada reis storie

Die Icefields Parkway