Jeanie van der Merwe. FOTO: Verskaf

Jeanie van der Merwe. FOTO: Verskaf

Reise

My opwindende lewe in Moskou

Johannesburger Jeanie van der Merwe het na Moskou getrek om haar droom om in die ruimte te werk, te verwesenlik.

Sy het in 2013 Moskou toe gegaan om ruimtevaart-ingenieurswese te studeer aan die Moskou-lugvaartinstituut, want sy wil in die toekoms op die Internasionale Ruimtestasie werk. In die Novemberuitgawe van SARIE kan jy meer lees oor Jeanie se lewe in Moskou.

Die kos en die mense daar?
Ek verlang elke dag na my ouma se kos. Ek leer myself maar hoe om te kook deur video’s te kyk op YouTube. Elke keer wanneer ek by die huis was, dan bring ek vir my rooibostee, speserye en natuurlik biltong en droëwors saam terug. Ons vars produkte word meestal ingevoer omdat die winters so lank is en daarom nie altyd so vars nie.
Toe ek die eerste keer hoor van “borscht” (beetsop), was ek maar skepties, maar nou geniet ek dit, veral in die winter. In die somer geniet hulle ook iets wat amper vergelyk kan word met ’n braai. Hulle sit alles op ’n stokkie soos ’n sosatie en dit word op ’n vuur gebraai. Viseiers word op alles geëet, maar ek kan dit nie gewoond raak nie.
Ek was bevoorreg om ander Suid-Afrikaners hier te ontmoet wat my bederf met Suid-Afrikaanse geregte. Ek het baie kontak met ander buitelanders omdat ek in die internasionale koshuis bly. My eerste kamermaat was Colombiaans en my tweede een is van Serbië af. My ander vriende kom van Maleisië, Equador, Costa Rica, Albanië en Amerika, asook Suid-Afrika. In die begin het ek gedink dat die Russe nors is en nie baie behulpsaam nie, maar sodra jy hulle leer ken, besef jy dat hulle regtig wonderlike mense is. Die kultuur is net baie anders en ek moes dit gewoond raak. Ek het gou geleer om op ’n bus, metrotrein of trem my plek op te gee vir ouer persone as ek nie wou aandag trek nie. As hulle hul stemme verhef, beteken dit nie noodwendig dat hulle kwaad is nie.

y die Moninovliegveld waar al die oorlogvliegtuie uitgestal word. FOTO: verskaf

By die Moninovliegveld waar al die oorlogvliegtuie uitgestal word. FOTO: verskaf

Kry jy bietjie tyd om te reis?
Ek het tyd vir reis, maar ek verkies steeds om huistoe te kom vir my vakansies om my familie en vriende te besoek. Ek het Januarie saam met my neef wat kom kuier het na St. Petersburg toe gereis. Ons het ’n jazzklub ontdek wat ons baie geniet het. Ons het die Hermitage Museum besoek wat van die beste kunswerke in die wêreld uitstal. Ek het ook stede rondom Moskou besoek. Moskou is verskriklik groot en ek is steeds besig om dit te verken en wonderlike plekke te ontdek.

Saam my groot sneeuman. FOTO: verskaf

Saam my groot sneeuman. FOTO: verskaf

Hoe bring jy jou aftyd deur oor naweke?
Hier glo hulle nie vreeslik in naweke nie. Ek het klas van Maandag tot Saterdag en het selfs op Kersdag klas! Moskou slaap nooit en ek kan dwarsdeur die nag inkopies doen as ek moet. Ek geniet dit baie om snowboarding te doen en het nou al my eie toerusting. Dit laat my nogal voel of ek ’n egte Rus is. Ek speel ook graag sokker saam met Suid-Amerikaanse vriende en dan geniet ek dit ook om gimnasium toe te gaan. Dis heerlik om net in die stad rond te loop en nuwe plekke te besoek. Moskou is ryk aan kultuur met pragtige ou geboue en baie groot parke. Ek het ’n opvoering by die asemrowende Bolshoi Teater bygewoon en het die Tretyakov Galery besoek. Die Moskou Space Museum was ’n hoogtepunt omdat dit my passie is. Hier het ek Mark Shuttleworth se ruimtepak gesien. Ek geniet dit om Sondae kerk toe te gaan en bemoedig te word deur nuutgevonde vriende sodat ek verfris die nuwe week kan aandurf.

 

Ek sneeubord graag saam vriende. FOTO: verskaf

Ek sneeubord graag saam vriende. FOTO: verskaf