Reise

Nicolene Burger skryf uit Orlando, Florida

Hoe het jy by Disney World beland?
Ek was in die verlede ‘n paar keer by Walt Disney World en Sea World in Orlando en het gewonder hoe dit sou wees om hier te werk. Dis ‘n magiese omgewing waar ‘n mens jou drome kan uitleef, al is dit net vir ‘n paar dae. Ná heelwat navorsing het ek aansoek gedoen, uiteindelik ‘n uitnodiging vir ‘n onderhoud gekry en geslaag. Heuglike dag!

Wat doen jy presies?
Ek is ‘n sogenaamde savanna-gids en ontvangsgasvrou by die Animal Kingdom Lodge. Die Lodge het tientalle Afrika-diere, onder meer kameelperde, swartwitpense, blesbokke en Ankole-beeste. Hier’s ook die grootste versameling kunswerke uit Afrika wat nie in ‘n museum is nie (ongeveer 500 stukke), en die grootste versameling SA keurwyne buite SA. Ek vertel besoekers oor die belangrikheid van bewaring en verskillende fasette van ons samelewing in Afrika – Suid-Afrika in besonder. Dan begelei ek gekeurde groepe en vertel oor die kunswerke. Dis vir my belangrik dat ek my land en kultuur verteenwoordig.

Hoe pas jou studies in by wat jy doen?
My studies in antropologie en politiek en my rol as savanna-gids vul mekaar aan. Die konsep van kultuur staan sentraal in antropologie. Om daagliks met soveel kulture in aanraking te kom verg nogal baie diplomasie en ek moet altyd oplet hoe die gaste dinge ervaar.

Enige vreemde ondervindings?
Ek was eendag met ‘n groep kinders besig toe ‘n man uit die bloute vir my sê: “Daar’s ‘n slang in die gras.” Geskok en verbaas vra ek: “Ekskuus, meneer?” Hy kyk my aan en sê: “Jy is mos van Suid-Afrika en praat mos Afrikaans? Nou ja, daar is ‘n swart slang daar anderkant in die lang gras.” Daar lê toe inderdaad ‘n swart racer- slang. Ná ‘n oor-en-weer-uitvraery vind ek uit die man en sy vrou is oorspronklik van Durban en het 14 jaar gelede Skotland toe verhuis.

Waar woon jy?
Die maatskappy verskaf woonstelverblyf. Ons betaal weekliks huur.Ek bly in ‘n ses-persoon-woonstel en deel met vroue van SA, Mexiko,China en Japan. Dis mooi, sentraal en net ‘n paar minute se ry van die Disney-parke en Universal Studios af.

Jy was in 2001 ‘n uitruilstudent in Pittsburgh, Pennsilvanië. Hoe het dit jou beïnvloed?
Ek is in my matriekjaar soontoe om my studies daar te voltooi. Dít was die jaar wat die grootste indruk op my gelaat het. Dit het vir my ‘n wêreld van verskeidenheid oopgemaak.

Jy het die 9/11-aanvalle beleef?
Vreesaanjaend, ja – vir mense binne én buite die VSA. Vir my natuurlik ook. Dis steeds vir my in ‘n newel gehul. Ek onthou duidelik die paniek van al die internasionale studente by die skool en hoe nie een van ons telefonies na ons mense kon deurkom nie. Die kommunikasiemaste bo-op die Twin Towers het ineengestort. Alle verbindings was afgesny. Om sake te vererger was daar ‘n berig dat een van die vliegtuie nie ver van Pittsburgh af nie geval het. Al die buitelandse leerders is onmiddellik huis toe gestuur.Dinge was chaoties. Dit was ‘n tragiese dag.

Op ‘n ligter noot . . . Wat mis jy van SA?
Braaivleis, biltong, Smarties, Spur se tjips, Just Juice, my ouma se speserykoekies, my ma se boontjiebredie, my tannie se tuisgemaakte gemmerbier. Maar die meeste my familie en vriende. En natuurlik Sondagmiddagetes by my oupa en ouma se huis, en my drie Ierse terriërs!

Sal jy terugkom?
Suid-Afrika is my tuisland en my huis, maak nie saak waar in die wêreld ek werk of bly nie. Misdaad in SA is tragies, ‘n mens wil daarvan ontsnap.Maar my bloed bly groen en goud!

Wat wil jy nog bereik?
Ek wil as navorser by die Wêreldgesondheidsorganisasie of die VN werk. As ek ‘n enkele lewe kan help verbeter, sal dit my groot tevredenheid gee.