Reise

Polsende Rio

Wanneer die vliegtuig laer sirkel, sien jy in die Atlantiese Oseaan spikkels rotseilandjies met blinkwit sandsome. Ons dreun Guanabara-baai met sy seiljaghawe en die Pão de Açúcar (Suikerbroodberg) binne, en voor jou lê wit strande, luukse wolkekrabbers en vervalle favelas (krotwoonbuurte). Dan sien jy die vredige figuur wat hoog teen die heuwels met uitgestrekte arms oor Rio de Janeiro troon, en jy voel onmiddellik welkom. By die lughawe reeds kleef die hoë humiditeit aan jou, en jy kom agter in hierdie seestad in suidoos-Brasilië vat die cariocas (soos die inwoners hulself noem) die pas rustig en leef hulle meestal onverstoord tussen mekaar.

Dis waarskynlik omdat feitlik almal Portugees praat en Rooms-Katoliek is, verklaar die taxibestuurder Paolo. “No worries, here go with flow of sea,” sê hy. Tog werk Paolo op pad na die Copacabana-strand die Fiat se ratkas vinnig en flink, terwyl hy skuins teen die oop venster leun, elmboog na buite, een hand op die stuur. Dit klop met wat ek gelees het, dat heelparty taxi-bestuurders hulle verbeel hulle is wafferse renjaers. Nes Ayrton Senna, hul Grand Prix-held, wat sedert sy dood in die negentigerjare ’n Brasiliaanse legende is. Paulo besorg my nietemin veilig by my hotel en verseker my dat ek in Rio só tuis gaan voel dat ek langtand gaan terugkeer huis toe. Veral as ek met ’n glimlag en gebaretaal met die cariocas selfs net die basiese Portugees praat, soos olá (hallo), tchau (tot siens), por favor (asseblief) en obrigada (dankie). Hoewel hier volop sakkerollers is, sal jy hulle kan vryspring as jy nie in agterstrate rondloop en met ’n geldsak om die middel en kamera oor die skouer adverteer dat jy ’n toeris is nie, sê Paulo. En, voeg hy by, moenie jou aandag laat aftrek deur iemand wat jou op straat die tyd of ’n aansteker vra nie. Dis juis dán dat ’n medepligtige jou besittings gryp en verdwyn. Met dié raad groet Paulo, en met ’n windmaker-wegtrek gooi hy ’n duim in die lug en skree “tabong!” – menende als is in die haak.

 

Heelparty taxi-bestuurders verbeel hulle hulle is wafferse renjaers

 

Strandjolyt
Jy is skaars by die hotel of die geruis van die branders langs die Copacabana-strand lok jou. Soos elke Sondag is die Avenida Atlântica langs die strand vir verkeer gesluit. Dit woel van drawwers, stappers, fietsryers en gesinne met hul honde wat kom litte losmaak in die soel seelug met sy aansteeklike energie. Op die mosaïekpatroon-sypaadjie is vrugtesapstalletjies met van vars kokos-sap, wat jy met ’n strooitjie uit die dop teug, tot caipirinha, ’n lemmetjiesap met cachaça, oftewel suikerrietbrandewyn, die Brasiliaanse witblits. Eetgoedventers draal op en af met gebraaide mielies aan die stronk, babagarnaal-sosaties en vars klapperhappies. Dit neem nogal ’n uur of wat om gewoond te raak aan die mengelmoes vroue-figure op die strand wat in die beroemde Rio-uitrusting, die tandevlosbikini, paradeer. Maar anders as verwag, is daar geen bostukloses in sig nie. Vyftien jaar oud of diep in die sewentig en ver oorgewig of bewonderenswaardig goed bedeeld, in Rio is inhibisies laag op die leefstyl-lys. Negentig persent van die vroue dra hierdie eina-klein kostuumpies en swaai hul agterstewe oormatig en met die grootste gemak en selfvertroue. Selfs van die bedelaars kruip saans in die warm aandlug met hul bikini’s onder hul kartonskuilings in, net om die volgende oggend weer daarmee die strate te vat.

Wanneer die strandmusikante eers op hul tromme lostrek, is dit nie lank nie of ’n verbyganger steek vas en begin ritmies en spontaan-sensueel die tradisionele samba dans. Terwyl jy luilekker op die fyn sand lê of in die lou water dryf, kan jy jou verkyk aan die sandkunstenaars wat beelde van veral meisies in deurtrekkers optower. Elders bons vlugbalspelers met hul blinkbruin gespierde arms uithaler-houe oor die nette. Dis beslis die moeite werd om aan die einde van Leme-strand, reg langs die Copacabana, rustig met die pad op te stap tussen tropiese plante en volop vlinders deur tot by die ou fort op ’n granietkoppie. Dis op die terrein van ’n militêre akademie en dis net oor naweke oop vir besoekers. Dit neem jou sowat ’n halfuur tot bo, van waar jy ’n treffer-uitsig op veral die Suikerbroodberg en die Copacabana het.

 

Selfs van die bedelaars kruip saans in die warm aandlug met hul bikini’s onder hul kartonskuilings in

 

Eetplesier
Vleisliefhebbers kan hulself bederf in ’n gesellige churrascaria (braairestaurant) waar geroosterde vleis (van vark tot hoender en bees) in die rodizio-styl – op reusemetaalpenne – na jou tafel gebring word. Jy kies jou gunsteling-stuk en die kelner sny dit vir jou. Slaaie, bone en aartappels word ook voorgesit. Teen gemiddeld 25 tot 30 reale (R88 tot R105) eet jy dat jy omlê. Jy smeek naderhand die kelner om weg te bly van jou tafel af.

Tipies van die trope is dit die een oomblik nog ’n pragtige wolklose dag en ’n paar minute later blits, donder en reën dit. Dit klaar gewoonlik ewe gou op en jy loop ’n paar minute later kortmou in die son.

Soveel te sien
Dis ’n nuwe dag, en vanoggend wag die Suikerbroodberg. Jy ry eers met ’n kabelkar na ’n eerste heuwel, waar jy wag vir ’n tweede karretjie wat jou na die spits neem. Op albei heuwels het jy ’n wonderskone uitsig oor die baaitjies en eilandjies. Daar is piekniekhoekies en wandelpaadjies en as jy fyn kyk, sien jy streepstert-apies in die bome kerjakker. En die Cristo Redentor (Christus-beeld) wat van oorkant op die Corcovado-heuwel onmiskenbaar oor die tropiese woude en wolkekrabbers rys. Die volgende twee dae val die klem op prettige vervoer – eers met ’n trem ’n hobbelrige op- en afdraandrit deur die heuwelagtige kunstenaarsbuurt Santa Teresa met sy klipsteenstraatjies en fraai outydse winkeltjies en kafeetjies. Daarna is dit met die veerboot na Niterói, ’n stad oorkant die baai wat bekend is vir die kunsmuseum wat die Brasiliaanse argitek Oscar Niemeyer in die vorm van ’n vlieënde piering ontwerp het. Vanaf die boot het jy ’n panoramiese uitsig op Rio.

Dis die laaste dag en die hoogtepunt is ’n rit teen die Corcovado-heuwel op in die trenzinho (tandrat-treintjie) – al met die tropiese Tijuca-woud langs. Tot byna bo, waar jy in afwagting met trappe die laaste gedeelte uitstap. Dan staan hy hier reg voor jou. Jy kyk op na hom, 35m hoog, met oop arms en salige uitdrukking op sy gesig – die oorweldigende mooi Christus-beeld, waarvan jy sedert jou aankoms elke dag bewus is. Hy straal soveel vrede en rustigheid uit; jy bly die hele dag by hom.