sr0902lesersbotrivier_3_bigrz
Reise

Van Botrivier tot in Pole

Botrivier

Aan die voet van die Houwhoek-berg, sowat ’n uur se ry van Kaapstad en omring deur fynbos, lê die rustige dorpie Botrivier. Hier, by die KolKol Mountain Lodge op die Van der Stel-pas, kan jy régtig rus. Die hutte is van hout en klip uit die omgewing, en luukse permanente tente is privaat en ingerig as selfsorgeenhede. Elke hut en tent het ’n plonspoel wat verhit kan word – deur vuur te maak in ’n stofie in die water! Ons het heelaand ontspan in die warm water met ’n glasie rooiwyn in die hand en ons aandete wat op die kole sis. My avontuurlustigheid is geprikkel deur 2 staproetes en ’n bergfietsroete, en ons kon heerlik piekniek hou in die berg. Daar is selfs ’n lyntjie natgemaak in die plaasdam. Die Botrivier Hotel bied op Sondae ’n heerlike vyfgang-middagmaal. Vir iets ligters is daar The Shuttin Shed. Met ’n uitsig op eindelose koppies en laslappie-landerye, voëls wat al vroegdag kwetter en die geluid van kabbelende water is dit die perfekte wegbreek vir ’n moeë stadsiel. – Margot Bosman, Durbanville.

Namib-toer

Net buite Solitaire, op pad na die Namib- woestyn Eldre en Rohan
Net buite Solitaire, op pad na die
Namib-woestyn
Eldré en Rohan

Nie ek of my man, Rohan, is juis kampeerders nie, maar toe ’n vriend ’n toer deur die Namib voorstel, het ons na die woestyn se roep geluister. En só daag ons met ’n gehuurde viertrek in Solitaire op vir die Faces of the Namib-toer, wat eindig in Walvisbaai. Wat ons daardie 5 dae beleef het, is iets wat ek elke mens toewens. Die stil, die reuk van grond en reën, windstil, stergevulde aande om die kampvuur en geen bekommernisse oor gister of môre nie. Die reis het ons van duine na spook-myndorpe geneem, en ons het die Eduard Bohlen-skip, wat 100 jaar gelede aan die Skedelkus gestrand het, van nader bekyk. Namibië en sy sand het ná die avontuur in meer as net ons hare en tussen ons tone ingekruip.– Eldré Strydom, projekbestuurder, Durbanville.

Poolse plesier

Die Katolieke kerk op Czestochowa Jano
Die Katolieke kerk
op Czestochowa
Jano Schoeman

Jy kan sien Pole se ekonomie het die laaste jare verbeter, want oral is advertensieborde langs die pad. Poolse bestuurders is baie aggressief, maar jy leer vinnig om te kyk vir mense wat voor jou indraai en jy kan dan die ou geboue bewonder. Op die markplein in Krakow, een van die oudste universiteitstede in Europa, het ons ure lank bier teen ’n billike prys geniet. En aangesien ek in Oos-Europa was, móés ek vodka drink. My gunsteling was Mad Dog – verkoelde vodka met aarbeistroop en Tabasco. Op ’n gastronomiese noot is daar nie veel oor Pole te sê nie. Daar is varkvleis en nogmaals varkvleis . . . en beetsop – spinasie-ravioli in ’n beetaftreksel. Die hoogtepunt van my reis was egter die indrukwekkende Katolieke kerk op Czestochowa, een van die belangrikste Katolieke simbole in Europa. – Jano Schoeman, ingenieur, Kaapstad.