Reise

Reisdinge

WIE was WAAR?

Michelle Garforth-Venter, eko-joernalis en uitvoerende regisseur van Ezinkulu Productions, en haar man, Riaan, is albei mal oor die bos. Sy gesels oor hul vakansie-herinneringe.

Wat is jou gunsteling-vakansieplek in Suid-Afrika?
Die wildbewaarders by die Phinda-reservaat in KwaZulu-Natal is op die ouskool-manier opgelei. Ek het my man, Riaan (die Nutsman), vir ons wittebrood soontoe geneem. Die koorsbome is só mooi daar.

Gunsteling buite SA?

Kenia. Jy kan enigiets van ’n boservaring tot die strande van Mombasa beleef. Dis waarde vir geld en die mense is ongelooflik vriendelik.

Jou beste vakansie-herinnering?
Desember 2008, in Kilifi, noord van Mombasa in Kenia. Ná ’n vaart op ’n dhow het ons gaan skubaduik en op koraalriwwe tot diep in die oseaan gestap. Daarna het ons kreef op piesangrys geëet en dit met yskoue Coke afgesluk. Ons was omring deur lang wit strande en potblou water.
Beste vakansie ooit?

Verlede jaar toe Riaan my verras het: ons het ’n live show van Madonna in Londen gaan kyk. Die perfekte vakansie is wanneer jy nie op werk hoef te fokus nie, maar kan ontspan en tyd saam met jou huweliksmaat geniet.

Blaai deur ...

Leesgenot

Blaai deur . . . Lighthouses of the World deur Marie-Haude Arzur (A&C Black, R491,93). As vuurtorings jou fassineer, is dié boek vir jou. Dit het pragfoto’s en interessante inligting.

 

Koleos, gemaklik op teer en grondpad

Vir veld en teer
Naweke span jy hom in vir ’n bietjie veld-rinkink en in die week vir pendel na die werk en die mall– dis die Koleos. Renault het gebruik gemaak van Nissan se X-Trail-kennis vir die enjin, ratkas en viertrekstelsel, en die Koreane s’n vir die vervaardiging. Dié motor hanteer gerieflik op teer en grondpad. Daar is ruim sitplek vir 5 en danksy 4×4-DNS kon ons ’n paar kronkelrige grondpaaie in gerief aandurf. Groot vensters maak dit maklik om in stadsverkeer van baan te verwissel. Pakplek is ruim en jy kan dit vergroot deur die agterste sitplekke plat te vou. Allerlei bêreplekkies onder die sitplekke getuig van die Franse Renault-gene. Daar is 4 modelle en pryse wissel van R285 000 tot R369 000.
Alida Vos

Rus vir jou siel

Overbergse hartlikheid

Overbergse juweel

Ontsnap aan die stadslawaai en lê weg aan Overbergse hartlikheid op Waterkloof, die plaas van Christine en Hannes Uys. Dit lê sowat 32 km van Swellendam op die grondpad (R324) na Witsand. Aandete by die Uyse −die sewende geslag wat hier boer − is iets om oor huis toe te skryf: Skaapboud, volstruispastei en die allerheerlikste pampoenkoekies. ’n Mens bly in die mooiste kamers, elk met sy eie badkamer en ’n buitedeur sodat jy vroegoggend kan uitglip vir ’n wandeling. Witsand is ’n paar kilometer verder en die pont by Malgas ewe naby. Ontbyt is ingesluit en jy kan aandete bespreek.
Die Uyse bied ook selfsorgverblyf in ’n gerestoureerde plaashuis ’n entjie Van hul woning. En as jy nog altyd ’n handsak of beursie van volstruisleer begeer het, neem geld saam. Allerlei volstruisverwante produkte word teen billike pryse op die plaas verkoop.
Skakel 028 722-1811, e-pos info@waterkloofguesthouse.co.za of besoek www.waterkloofguesthouse.co.za  –Alida Vos