sr0904reisdinge_4_
Reise

Reisdinge April 2009

WIE was WAAR?

Die aktrise Jana Strydom vat graag die wandelpad . . .

In Suid-Afrika: Na Zebula Lodge net buite Pretoria. Dit het vyfster-geriewe – ’n spa, gholfbaan en safari-ritte. Dis een groot bederf. Ek het ook ’n sagte plekkie vir die Tanamerarestaurant buite Hazyview, waar ek en Hannes verloof geraak het.

Buite Suid-Afrika: Phi Phi-eilande in Thailand, waar ons wittebrood gehou het. Jy kan heeldag swem, lees onder die palms gaan draf, kanovaar en kokosneut-skemerkelkies drink.

Hoe rus jy op vakansie? Ek draf, kuier saam met my man, vriende en familie, maak kos en lees.

Lekkerste vakansie-kos?

Heuning-geglasuurde eend, soesji, slakke met bloukaas, en camembert met bessiesous.

Watter plek wil jy nóg graag

besoek? Nog baie, maar in Januarie het ’n groot droom waar geword toe ons in Oostenryk gaan ski het.

Vakansies is nie volmaak . . . sonder die regte geselskap nie.

Ek pak altyd . . . my Environgesigprodukte, jel en ’n pet om my hare te tem.

Blaai deur . . .

Nog altyd gedroom van ’n vakansie op ’n seiljag?


Essential Sailing Destinations (AA Books, R429) is vol pragfoto’s en inligting oor seil-mekkas soos die waters om Nieu-Seeland, Thailand, Australië en vele meer – maak die droom waar!

Wiele vir pendel én ver ry


Sportief, sexy en astrant – nee, dis nie Conrad Jantjes op pad doellyn toe nie, dis die nuwe Fiesta. Ford se ghoeroes het dié motor ’n stylvolle en moderne nuwe voorkoms gegee en veiligheidsaspekte verbeter, onder meer om passasiers beter te beskerm in ’n botsing. Lugsakke is in al 3 die modelle beskikbaar, sowel as ABS-remme met eBd (elektroniese remverspreiding). Die Fiesta hanteer gemaklik  in druk verkeer en ook op kronkelrige heuwelpaaie. In die kattebak is genoeg plek vir al jou vakansiebagasie. Van r136 990 vir die 1.4 Ambiente tot r168 990 vir die 1.6 TivCT Titanium. – Alida Vos 

In Johannesburg – Sterweelde in Sandton

As jy soos ’n ster behandel wil word, maak ’n draai by die Sandton Sun Hotel. Dis stapafstand van al Johannesburg se beste winkels en glansryke vermaak- en uithangplekke. Die binneversiering is weelderig en van internasionale gehalte – en die diens? Puik! Daar is ook ’n oorvloed plekke om heerlik te eet. Skakel 011 780 5000, stuur ’n faks na 011 780 5002 of stuur e-pos na sales@sandtonsun.com vir inligting. – Fanie Cronjé

Koninklike kuier


In die hartjie van die Riebeekvallei, in Riebeek-Kasteel, wag die ouwêreldse, luukse Royal Hotel. Sit behaaglik met ’n lang glas op die reuse-stoep en sink in weelde weg terwyl jy dié statige hotel se waardigheid saam met jou drankie geniet. Dis gebou in ’n koloniale styl en spog met 2 terrasse, 10 kamers en ’n 150 jaar oue kroeg met hope karakter. In die tuin kyk jy uit op die Kasteelberge, en saans smul jy aan ware fynproewer-geregte, met eg tradisionele kos soos lamskenkels. •Skakel 022 448 1378 vir  meer inligting of besoek www.royalinriebeek.com. – Nerisa Coetzee