FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Reise

Reiswenke vir avontuurlustige reisigers

Renette van der Walt woon in São Paulo, ’n enorme wêreldstad. Sy is ’n avontuurlustige reisiger en gebruik elke geleentheid wat sy kan om die wêreld te ontdek.
So het sy al baie dinge geleer wat haar help om gemakliker te reis. Sy deel van haar beste reiswenke met ons. Lees ook meer oor haar lewe in São Paulo in die April 2015-uitgawe van SARIE.

Renette met São Paolo in die agtergrond.

Renette met São Paolo in die agtergrond.

Oorfone! Veral in ’n land waar jy nie die taal verstaan nie en waar jy alleen toer. Wanneer ek in die lughawe is, op die bus ry of in die vliegtuig sit, is my oorfone altyd byderhand om na Laurika Rauch, Koos Kombuis of Karen Zoid te luister. Dit hou my rustig, laat my hart weer Afrikaritmes klop en help my met my Afrikaans.

Facebook: ‘like’ al die lugrederye en toeragentskappe in die land waar jy toer se Facebook bladsye. Daardie bladsye lig jou in oor promosies. Koop baie kaartjies vooruit op ’n promosie. Byvoorbeeld, ek het verlede April reeds my vliegtuigkaartjies tot en met daardie November gekoop teen ’n baie goedkoper prys.

Toeps op jou foon: Worldmate maak my lewe as toeris baie georganiseerd. Jy e-pos al jou vliegtuigkaartjies en besprekings na die toep en dit organiseer al die inligting per dag. Wanneer jy die toep laai, dan kan jy presies sien hoe laat jy vlieg, waar jy bly, watter kar jy bespreek het ens.
Vertaler: Ek vertaal daagliks nog woorde na Portugees, dis net baie makliker as mense jou verstaan.
Google Kaarte: In São Paulo is daar baie eenrigtingstrate, jy kan dus nie terugkom soos wat jy gekom het nie. Google Kaarte help om die pad aan te wys en kan selfs vir jou busse voorstel wat jy kan gebruik.
Elke dorp het ook sy unieke toeps, byvoorbeeld die ondergronds treinkaarte, taxi en bus toeps, restaurante en museum toeps. Gebruik tegnologie, dis verniet tot jou beskikking.

Reis net met handbagasie, dis moontlik. Ek reis met ’n 25-liter rugsak. Ek weet presies wat ek kort, waar ek wat gepak het en ook hoe om te pak. Jy en jou rugsak word beste vriende, so hanteer mekaar met liefde en respek! Wanneer jy net met handbagasie toer, spaar jy baie tyd en is jy altyd verseker dat jou bagasie veilig is.

Navorsing: Dit klink altyd avontuurlustig wanneer mense sonder ’n plan begin reis, maar jy mis soms baie goeie geleenthede en unieke ervarings. Deur vooruit te beplan oor ’n land of dorp, weet jy wat die beste manier is om al die toeriste attraksies te besoek. Deur deeglike navorsing te doen, het ek geweet dat ek ’n fietstoer deur Buenos Aires kan doen en met ’n oopdakbus die mooiste dele van Salvador kon besoek. Belangrike aspekte wat jy moet navors, sluit in: jou behuising, vervoer, tye, pryse en spesiale aanbiedings. Vergelyk Lonely Planet en Tripadvisor, Booking.com en Hostelworld.com. Dis belangrik dat jy nie net na prentjies kyk nie, maar ook mense se kommentaar lees.

 

Hier is ek in Rio de Janeiro.

Hier is ek in Rio de Janeiro.