broadcasting
Reise

René Janse van Rensburg vertel van haar avonture in Suid-Korea

Die Janse van Rensburgs woon sedert Februarie 2012 in Korea. Hulle gaan beslis terugkeer na Suid-Afrika, nie omdat die gras nie altyd groener is aan die ander kant nie, maar omdat daar byna geen gras is nie! “’n Mens se siel smag maar na ruimte en natuurskoon, buiten familie, boerekos en Afrikaans,” volgens René.

“Korea is piepklein en oorbevolk: verbeel jou die bevolking van Suid-Afrika in ‘n spasie so groot soos die Wes-Kaap, minus 40%. Sowat 70% van die oorblywende ruimte bestaan uit bergagtige gebiede. Sê vaarwel vir persoonlike ruimte!

Busan, die hawestad waarheen ons twee weke ná ons wittebrood verhuis het, is enorm en Eerstewêrelds. Hier gee ons skool in klaskamers toegerus met platskerm-TV’s, rekenaars en vinnige internet. Tog hoef ons nie ver te reis om Koreaanse tradisie te beleef nie. Tempels, feeste, vismarkte, dormante vulkane en perdevleis-restaurante – been there, done that

In Suid-Afrika kan jy Survivor speel deur met ‘n paar luukse items deur Hillbrow te hardloop en te kyk of jy lewend aan die ander kant uitkom. In Suid-Korea laat die laer misdaadvlak ‘n mens genadiglik toe om dag of nag vreesloos in die straat te stap. Nogal ongelooflik, want die bevolkingsdigtheid in Suid-Afrika is ‘n skamele 41 mense per vierkante meter teenoor 504 siele in Suid-Korea.   

Jy kan ruik as jou buurman ‘n sigaret aansteek en wat hy vir ontbyt eet. In die middae hoor jy hoe die buurt se kinders onder op die parkeerterrein baklei en baljaar. Jy piekel op na die dak met jou nat wasgoed. As jy smag na ‘n bietjie viervoetige liefde, hou jy maar ‘n antisosiale krimpvarkie aan. Aan die positiewe kant het jou woonstel vinnige en bekostigbare internet, lugversorging, ondervloerse verhitting en ‘n omgewingsvriendelike rommelverwyderingsisteem.

Daar’s natuurlik een probleem wanneer soveel mense bo-op mekaar bly: parkering. En dít in ‘n land waar die meeste voertuie groter en luukser as die meerderheid woonplekke is. Dus kan jy in Suid-Korea ‘n weergawe van Money or the Box speel, herdoop as Weer of Verkeer. As jy ‘n Koreaan met ‘n kar is, het jy ‘n keuse wanneer jy êrens heen wil gaan: gaan jy in jou motor klim, of gaan jy ‘n kombinasie van die uitstekende Koreaanse openbare vervoer plus jou eie twee bene gebruik? Elk het sy (handjie vol) voor- en (oordonderende getal) nadele . . .

Verkeer

Tegnies is die meeste paaie breed genoeg sodat twee motors langs mekaar pas, met een wat in elke rigting ry soos dit enige funksionele straat betaam. Op die besige brûe en snelweë is ‘n ekstra baan vir openbare busse. Die res van die paaie dien ‘n dubbele doel as half pad, half parkeerplek. Al met die straat af, aan albei kante, staan ‘n ry Santa Fe’s, Camrys en Daewoos, wat die breedte van die pad halveer. Niemand kan verbysteek sonder om brieke en toeters tot die uiterste te toets nie. Voeg ‘n paar motorfietsryers sonder valhelms by, wat sommer op die sypaadjie ry, waar voetgangers van alle ouderdomme in mekaar se pad is, en scooters hul weg vind om wegneemetes af te lewer, en jy kry die idee. 

Die gevolg: Verkeersknope. Verlore tyd. Frustrasie. 

Maar ten minste het jy alle gerief wat ‘n hedendaagse blik met vier wiele kan verskaf.  Dit sluit in: lugversorging in die somer, ‘n verwarmer in die winter, droogte in die reënseisoen, ‘n driedimensionele GPS, en wanneer jy uiteindelik jou bestemming bereik en wil parkeer, ‘n TV-beeld wat jou wys wat agter jou kar aangaan sodat jy in niks vasry nie.

Weer

As jy ‘n buitelander sonder ‘n internasionale rybewys is, is openbare vervoer jou enigste opsie. Dalk ook maar beter so, want as ek aan die linkerkant van ‘n kar moes sit en bestuur en tegelykertyd aan die regterkant van die pad moes bly, sou die bevolkingsdigtheid in my woonbuurt aansienlik afgeneem het.

Openbare vervoer is fantasties. Die ondergrondse trein stop ongeveer elke twee minute om passasiers by stasies op en af te laai, en het gratis Wi-Fi. Taxi’s is veilig omdat die bestuurders glad nie in jou lyf, lewe of besittings belangstel nie, én hul voertuie is padwaardig. Tog moet jy steeds klou vir jou lewe. ‘n Rooi verkeerslig is vir party bestuurders ’n mooi straatversiering, niks meer nie. Hierdie vervoermiddels het genadiglik ook verwarmers en lugversorging.

Dit bring ons by die ongerief van genadelose en onvoorspelbare weerpatrone. Toe ons aanvanklik hier gekom het, was die koue van winter ‘n skok op sy eie. Toe dit nog koel was, het ons gedink somer is ‘n lesser evil, en iets waaraan ons gewoond is. Ons het ons misgis. As Gautengers is humiditeit vir ons iets wat mens se hare so drie dae ‘n jaar laat krul wanneer jy aan die Suidkus vakansie hou. En sweet is iets wat my pa doen wanneer hy ‘n marathon hardloop. Nie meer nie. Nog nooit in my lewe het ek gesweet soos nou nie: in die middel van die nag, tien minute nadat ek soggens opgestaan het, en veral wanneer ek die vyf blokke straataf stap tot by my skool. Te oordeel na hoe moeilik dit is om enige soort deodorant op te spoor, en die prys daarvan wanneer jy dit wel vind (sowat R100+), sit die Koreane nie met hierdie probleem nie.

Ek het altyd gedink daardie oulike Japanse waaiers wat so sigsag in ‘n halfmaan oop- en toemaak is net vir versiering. Toe nou nie. Hier kan jy kies uit verskeie soorte handwaaiers. My persoonlike gunsteling is die pienk Hello Kitty-een waarmee ‘n groot, ernstige oom homself nou die dag koudgewaai het! Een van die ander onderwysers vra my ‘n ruk terug: “Do all South African classrooms also have air-conditioning?” En nadat ek hom mooi reggehelp het – deur uit te bars van die lag: “So they just have fans?” Dus koel ek darem vinnig af wanneer ek, half ontwater, by die werk kom.

Die humiditeit bou op en bring die reënseisoen mee. Ek kom van ’n plek waar ons hartstogtelik sing, “O, gee ons net so ‘n bietjie reën . . .” Wanneer dit wel die dag hard genoeg drup om jou hairdo op te mors, lei dit tot ’n haastige gesoek na ‘n sambreel. Gewoonlik gee jy op voor die soektog suksesvol is, en hardloop met ’n koerant oor jou kop tot by jou kar.   

Nie hier nie. Hier sien jy sambrele in elke kleur en grootte. Onder party kan jy byna kampeer, en ander wat vir die son bedoel is, is oorgetrek met die fraaiste, fynste kant. Winkelingange het óf sambreelhouers waar jy jou reëndakkie los totdat jy weer uitkom, óf spesiale sambreeljassies. Voordat jy met jou nat sambreel ingaan, druk jy dit kop eerste in ‘n gadget met ’n lang plastieksak daaraan. Jy lig dit uit, en so kry jou sambreel ‘n reënjas. By restaurante trek jy jou nat skoene uit voor jy ingaan. Alles bly mooi droog en skoon. Alles behalwe jy, want teen die tyd dat jy binne kom, het die moesonwind (monsoon) die reën onder jou sambreel ingewaai.

Dis dus jou twee opsies: weer of verkeer. Wat sou jy kies?

  • Mariska Janse van Rensburg

    As skoonsus wat in Suid Afrika agter gebly het is ons so bly dat hulle weer terugkeer. Die verhaal en ander wat ons gekry het, was ons konteks van hoe dinge daar werk en wat die twee elke dag moes deurgaan.Mooi geskryf Rene:)

  • Johannes

    Dit is baie interessant, die tipe storie wat ek self sou wou beleef!

  • Marié Janse van Rensburg

    Dis ‘n wonderlike ervaring wat julle opdoen. Alles is so anders as hier en volksvreemd. Dankie René dat jy met jou vertellings ons so bietjie kan laat beleef en verstaan wat julle daar ervaar.

  • Erika

    Ek dink julle het op hierdie stadium al ‘n hele paar sakke sout saam opgeeet – wat staan nog die spreekwoordelike (een) sak sout! In die wereld waarin ons tans woon is dit so belangrik dat jongmense ook deur ‘n ander bril na die wereld kyk.

  • Annelie Jordaan

    Wat ‘n belewenis, Rene! So saam met my verwondering oor alles wat jy en jou wederhelfte daagliks beleef is ek stilletjies dankbaar dat dit nie ek is wat die Monsoon hoef te trotseer nie. Die ervaring is tereg perfek vir die jonger geslag – ons ouer garde sal dit saam met jou beleef voor ons rekenaars op Sarie.com. Geniet elke oomblik (alhoewel dit soms ‘n uitdaging blyk te wees); die tyd snel verby en voor jy jou oë kan uitvee bly net die herinneringe en fotos oor van ‘n ongelooflike ervaring. Dit is ‘n uitstekende en insiggewende artikel met pragtige fotos.

  • Snoekie

    Dalk ken julle my neef, sy naam is Zippie, hy hou skool in Seoul.

  • Petra Jerling

    Thea en ek het dit baie geniet om so te lees van julle wedervaringe! Die hoogtepunt vir my is die LAAAANG brug. Thea dink weer die krimpvarkie is die beste. Sy sal hom aanneem as julle hom nie meer wil he nie…. Ek twyfel of hy mag saamkom Suid-Afrika toe.

    Geseende Kersfees vir julle so ver van die huis af!

  • Sonja

    Dit kos baie deursettingsvermoe om so ‘n ervaring aan te pak en vas te byt. Dankie vir die interessante artikel wat soveel ervaringe met ons in SA deel! Dis beslis ‘n lewenservaring wat ek ook sou wou beleef as ek ‘n paar dekades jonger was… Willemien se dit klink ver en vreemd en allleen! Geniet ‘n gelukkige WIT Kersfees!

  • Rolene Senekal

    Hi Rene. Ek het toevallig op jou artikel afgekom toe ek gesoek het vir ‘n beskuit resep. Hier in Kanada kry ‘n mens nie beskuit te koop nie. Jou vertelling van julle ervaring gee die mense in SA ‘n goeie kykie in ‘n wereld wat min mense ooit sal beleef. Geniet elke oomblik want dit gaan so gou verby. Groete aan Wikus.

  • Tjaart Herbst

    Heerlik om sulke vertellinge te kan lees!