Lize en Richter Grimbeek

Reise

Richter en Lizé Grimbeek se lewe in Oostenryk

Die Grimbeeks se lewe het dramaties verander in ’n klein dorpie in die platteland van Oostenryk.

“Die middelpunt van die dorpie, Aisterheim, is die kerk en die ou kasteel (Schloss). Dis ‘n pragtige ou Renaissance kasteel. Die eienaar woon nog steeds daarin en is baie trots op sy bloedlyn wat 600 jaar oud is. Dié dorpie is ook bekend as die tuiste van die Hausruck voices, die grootste volwasse koor  (140 lede) in die gebied. Wat die dorpie ook anders maak, is sy blaasorkes, bierfeeste, vrywillige brandweer en jagtersvereniging,” vertel Richter Grimbeek.

“Hier woon ongeveer 850 mense en almal is aktief betrokke by al die verenigings. Die stadsraad bestaan uit net drie lede (burgemeester, onderburgemeester en een personeellid). Hulle versorg die tuine en  doen instandhouding en as dit sneeu,  bestuur hulle die sneeu stootskraper. Die mense is baie trots op die skoonheid van hul omgewing en alles word ge –recycle. Ons gunsteling plekke is die Attersee en Sankt Ulrich waar ons pas ons eerste ski-vakansie ervaar het.”

Waar woon julle?
Aistersheim in Oostenryk.  Ons dorpie het sowat 850 inwoners. Die naaste twee groot stede van ons af is Wels en Linz.

Wie is julle en wat doen julle?
Richter Grimbeek: Werk as koordirigent, sanger en klavieronderwyser.
Lize Grimbeek: Werk as projekbestuurder.

Was dit maklik om werk te kry daar?
Ons was genooi deur jarelange vriende. As dit nie vir die uitnodiging was nie, sou dit nie moontlik gewees het nie. Om ´n Oostenrykse werkspermit en visum te bekom is moeilik.

Hoe verskil julle leefstyl daar met jul leefstyl in SA?
Dramaties! Die veiligheidsaspek is totaal anders as in SA. Dit het ons ‘n goeie 3 maande geneem om gewoond te raak aan al die vryheid. Ons ervaar ook geen spitsverkeer nie. Hier op die Oostenrykse platteland woon en werk ons rustig voort.
Ons kinders, Amélie en Alexander,  is baie gelukkig; hulle praat altwee vlot Duits met die Oostenrykse dialek of  mondart soos hulle dit hier noem. Die land bied baie geleenthede vir families bv. uitstappies, konserte en ervarings. Met die sogenaamde Familiekaart kry mens ook afslag by baie hotelle en vakansie-oorde. Die land fokus ook baie op kultuur.  Elke dorpie hoe klein ook al, het sy eie simfoniese blaasorkes en elke persoon in ons omgewing bespeel ´n instrument.

Richter, Lize, Alexander en Amélie Grimbeek.

Richter, Lize, Alexander en Amélie Grimbeek.

Moes julle spesiaal Duits aanleer of kon julle dit reeds praat?
Lize was in 1995 ´n au pair in Duitsland.  Ek het ´n kursus gedoen, maar niks het ons voorberei op die Oostenrykse dialek nie. Mens kan dit ook nêrens leer nie. . .en dit verskil ook van streek tot streek.

Richter dirigeer.

Richter dirigeer.

Richter, jy dirigeer kore. Wat maak dit vir jou spesiaal en waarom nie eerder orkeste dirigeer nie?
Dit was my beroep in SA, Gauteng gewees. Die eerste en enigste instrument wat deur God geskape is, is die menslike stem. Die menslike sangstem was nog altyd my eerste liefde. Dit is ook verbasend hoe baie orkeste van kore verskil. Ek speel tans saxofoon in twee blaasorkeste en dis lekker om net ´n lid te wees. Hier is ´n groot aanvraag vir gekwalifiseerde koorleiers. Ek dirigeer tans agt kore hier in Oostenryk.

Lize wat was die moeilikste ding wat jy daar moes trotseer?
Om familie en vriende agter te laat was die moeilikste.  Dis ook `n uitdaging om `n nuwe begin te maak en `n nuwe werk.

Hoe ontspan julle daar?
Ons doen Nordiese stap (wanneer jy stap amper asof jy ski), woon baie konserte by, verken elke week ´n nuwe streek van Oostenryk en leer om te ski.

Ons eerste ski-vakansie!

Ons eerste ski-vakansie!

Reis julle dikwels?
Ja, ons besoek elke jaar ten minste twee nuwe lande. Ons is gelukkig, want Oostenryk is reg in die middel van Europa, ons word ook omring deur sewe ander lande.

Sal julle terugkom na SA?
Ja, vir familiebesoeke en kuier. Permanent? Nee. Die politieke, kulturele en sosio- ekonomiese landskap in SA. is nie vir ons aanvaarbaar nie. Ons wil graag vir ons kinders ander geleenthede skep.

  • Kleist

    So wat wil Sarie met hierdie artikel bereik? Suid-Afrikaners oortuig dat hulle die land moet verlaat? Wie is familie Grimbeek en hoekom is Suid-Afrika arm sonder hulle? Skryf liewer oor die musici wat die moed het hier sukses te behaal of as julle oor oorsese Suid-Afrikaners wil skryf, dan liewer oor die musici wat werklik internationale sukses bereik. BELAGLIK!!