Reise

Rugby is die rede waarom Beukes Cremer in Brasilië woon

In São Paulo praat die mense skaars oor die Olimpiese Spele, maar in Rio is die mense baie opgewonde. Altans, so sê Beukes Cremer. Hys speel rugby in Brasilië en hy vertel meer oor sy lewe daar.

Waar woon jy en wat doen jy?
Ek woon in die stad São Paulo in die staat, São Paulo, in Brasilië. (Dis soos New York in New York staat.) Die staat het byna 40 miljoen inwoners en die stad sowat 22 miljoen. Dis so vier ure se ry van Rio af.
Op die oomblik speel ek rugby vir Brasilië. Ons neem deel aan die Sesnasiestoernooi waar die spanne van die VSA, Kanada, Uruguay, Chili en Argentinië teen mekaar meeding. Ek is ook ’n makelaar en probeer mense van Afrika en Brasilië aan mekaar voorstel, maar dis ’n baie moeilike werk. Ek geniet die uitdaging en die netwerk wat ’n mens ontwikkel. Ek is ook besig met die ontwikkeling van Brasiliaanse rugby en professionele rugbysisteme hier … Daar is baie om oor te skryf. Ek doen ook steeds modelwerk, maar minder omdat ek nie tyd het om na die castings te gaan nie. Deesdae wag ek eerder vir mense om my direk te kontak. Ek sal seker nog ’n jaar of twee rugby speel en dan voltyds werk as makelaar. My vrou is Brasiliaans. Haar naam is Andreia en ons dogter se naam is Sofia. Andreia is nou amper vyf maande swanger. Sy werk en sy sal nooit by die huis kan sit en niks doen nie. Sy hou van die uitdagings daar buite en om mense te ontmoet.

Beukes op die rugbyveld in sy Brasiliaanse kleure.

Beukes op die rugbyveld in sy Brasiliaanse kleure.

Waarom het jy daar gaan woon?
Ek weet regtig nie waarom nie; die Here het my hierheen gestuur. Ek het in die begin hier deur baie goed gegaan. As jy my vandag vra of ek dit weer sal doen, sal ek antwoord: glad nie. Maar vandag verstaan ek die Here se plan en hoekom alles uitdraai soos dit moet. Dié land het baie, baie geleenthede.

Kon jy Portugees verstaan voor jy gegaan het?
Ek het Portugees hier geleer, met die rugby en op die straat. Ek het probeer klas loop, maar het net drie klasse gedoen en opgegee. Haha. Maar vandag hou ek vergaderings in Portugees. So ek dink ek het okei gedoen.

Beukes en sy vrou, Andreia.

Beukes en sy vrou, Andreia.

Hoe is die leefstyl daar in die algemeen – duur/goedkoop?
São Paulo, die stad, is baie duur, maar baie lekker. As jy verder weg beweeg van die stad af raak dit baie goedkoper. Die Brasiliane is baie vriendelik en warm, mal oor die besoekers in hul land. Min mense praat Engels. Dis belangrik om Portugees te leer praat. Dis ’n baie moeilike taal, maar is vol passie. Die mense is baie ontspanne, môre is nog ’n dag en middagete is groot. Middagete is ’n uur tot ’n uur en ’n half. In São Paulo werk mense tot laat. Brasilië is vir die mense hier sinoniem met naglewe!

Kry jy tyd om te reis?
Ek reis maar saam die rugbyspan. Deesdae is ek baie besig met die rugby oor naweke. Ek was al na Foz do Iguacu waar Argentinië, Brasilië en Paraguay bymekaar kom en dis baie mooi daar. Rio is ongelooflik, met die arm gebiede in die berge. Dis net ongelooflik hoe die mense daar is en hoe hulle te werk gaan. Maar Kaap is NOG STEEDS nommer 1!

Hoe is die kos?
Die braais is awesome en ek is mal oor die manier hoe hulle hier kuier en dinge doen. Die braai duur heeldag en jy eet van die vuur af. Hulle sny die wors en vleis in stukkies en almal eet daarvan. Dis nie soos ons wat braai en jy eet jou bord kos en dan is jy klaar nie. Dis ’n heeldag se geëet en gedrink en mense kuier baie lekker. Ons eet baie dieselfde kos. Dis net die manier hoe hulle die kos kook wat dit anders laat smaak. Maar die vleis hier is fantasties.

Hoe voel die inwoners van Brasilië oor die Olimpiese Spele wat in Augustus in Rio is?
Party mense is happy en ander nie rêrig nie. Die land ken net sokker en bietjie rugby, grappie! Maar Rio is meer opgewonde as die mense hier. In São Paulo praat hulle skaars van die Olimpiese Spele. Mense is meer gefokus en bekommerd oor werk en die dinge. In dié stad is daar nie nou tyd om opgewonde te raak nie, want baie mense het hulle werk verloor. Maar die sportmense is baie excited en vir Suid-Amerika is dit ’n groot ding, want voor Rio was die Spele nog nooit aangebied in Suid-Amerika nie.

Hier hoor ons ook net bangmaak stories oor die Zika-virus. Steur die mense hulle daaraan?
Ek dink dis ’n groot geldmaak storie. Maar dit bestaan, veral in arm gebiede in die noorde van die land. Dis waar meer gevaar is. My vrou is swanger en ons baba is 100 persent, dank die Here. Maar ek dink nie dis iets ergs om oor bekommerd te wees in Rio en São Paulo nie.

Ons hoor net van al die moeilikheid met die politiek daar, die president wat in ’n staat van beskuldiging is. Hoe gaan dit nou met die politiek daar?
Wat die politiek aanbetref is Brasilië en SA baie dieselfde. Hier in Brasilië los hulle net probleme bietjie vinniger op. As die mense nie gelukkig is nie dan spring hulle vinnig om te demonstreer dat hulle veranderinge soek. Maar as jy hier wil werk hê en sake doen, moet jy maar jou mense ken en weet hoe om met hulle te werk.
Die president is nou uit vir 6 maande wat baie goed is. In dié 6 maande gaan hulle besluit of sy uit is of nie. As sy uit is, sal dit baie, baie goed wees vir Brasilië; en dit lyk baie goed dat sy gaan uitgaan. Die nuwe president doen baie goed. Elke week hoor ons van die minister en daai minister wat gevang word. So hy klim regtig in om die land skoon te maak en is baie oop kop vir besigheid. Die land het nou ’n dip gevang, maar vir sakemense is dit nou die tyd om te belé, want die land gaan net groei.

Beukes as model.

Beukes as model.