renette van der walt
Reise

SARIE-leser blog uit Brasilië

Die 24-jarige Renette van der Walt van die Strand werk sedert die begin van die jaar as au pair in São Paulo, Brasilië. En nou blog sy eksklusief vir SARIE.com oor die atmosfeer en gebeure in dié land tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi wat verlede maand afgeskop het. (As jy die eerste keer die blog lees, lees dit van onder af boontoe).

17 Julie 2014

“Om so goedkoop moontlik te kan toer moet jy seker maak dat jy die land se kalender ken. Wetend dat die eindstryd van die sokkerwêreldbeker Sondag sou wees en dat die meeste mense na Rio de Janeiro sou gaan, het ek bietjie gaan sit en dink waar in Brasilië ek die verste van die magdom mense kan wees … die Amasone!

Ja, dis waar, ek het die laaste wedstryd van dié internasionale toernooi in die middel van die Amasone gekyk.

renette amasone 1

Om die Amasone te bereik moet jy na die hoofstad van die Amasone-staat, Manaus, vlieg. Daar aangekom, moet jy na die hawe gaan. By die hawe klim jy op ’n klein passasiersboot wat oor die groot Rio Negro vaar om die kleiner hawe van die Amasone te bereik. By die kleiner hawe vat jy jou volgende taxi wat vir ’n uur op die ‘hoofweg’ ry, totdat jy links afdraai om op die volgende passasiersboot te klim. Dié boot beweeg dan rats tussen die bome deur om jou na die oornagplek te neem. Jy is dan 100 km van Manaus af.

renette amazone 2

So het ek die hele Saterdag op pad na my oornagplek deurgebring. Teen afskoptyd van die wedstryd tussen Brasilië en Nederland het ons per boot na die naaste ‘kuierplek’ gery. Met ons aankoms het Nederland reeds twee doele gehad en die mans het toe maar hul eie wedstryd gespeel. Dít was ’n belewenis – aan my regterkant was die internasionale wedstryd op televisie en aan my linkerkant ’n sokkerwedstryd in die middel van die Amasone, reg langs die rivier!

renette amasone 3

renette amasone 4

Dit was duidelik dat die mense reeds opgegee het op ’n derde plek in die toernooi en toe maar eerder hul eie wedstryd begin speel het. Die kinders het wel die televisie meer interessant gevind!

Sondag het ons vroegoggend die sonsopkoms gaan kyk en ’n paar pienk dolfyne in die rivier gewaar. Tydens middagete het ons die afsluitingsermonie van die toernooi gekyk.

renette amasone 5

Daarna het ons per boot en kar (’n Uno) ons pad teruggevind na Manaus. By elke stop het ons die eindstryd gevolg. Eers op televisie en toe op radio. Ek het die grootste gedeelte van die wedstryd op die lughawe gekyk.

 

Ek het met ’n paar sokker-ondersteuners gepraat. Hier is my opsomming:

  • Niemand het vir Duitsland ondersteun nie (ek het wel)
  • Jy is óf vir Argentinië óf teen Argentinië
  • Argentinië is Brasilië se grootste vyand en daarom het baie hulle nie ondersteun nie
  • Die motiering van diegene mense wat wel Argentinië ondersteun het, was dat hulle wou hê ’n land in Suid-Amerika moet die toernooi wen

Noudat die wêreldbeker verby is, het alles weer terug na normaal gekeer. Die strate is stil, daar is nie meer lawaai in die aande nie en dit is asof Brasilië weer kan asemhaal.

Die buitelanders wat ek op die lughawe ontmoet het, was natuurlik hartseer dat hul spanne nie die eindstryd gehaal het nie, maar meeste van hulle het die natuur en die kultuur van Brasilië geniet en dít het die reis vir hulle die moeite werd gemaak!

7 Julie 2014

“Ek het in Maart twee uur voor die rekenaar gesit om dié sokkerkaartjie te koop. Ek het vir twee maande gesukkel om billike akkommodasie te kry. Ek het uiteindelik die wedstryd gaan kyk …

En wat ’n belewenis was dit nie! Die plek waar ek bly is ’n uur van die stad en die stadion af. Ek stres al die hele naweek oor wat ek met my tas gaan doen, want ek vlieg twee uur ná die wedstryd. Ek is nie lus om terug te gaan huis toe en weer ’n bus te vat na die lughawe nie … Gelukkig oorreed ek my gasvrou om saam met my die wedstryd te gaan kyk (ek kan dus my tas in haar kar los). Só soek ons vir ’n halfuur parkering naby die stadion. Parkering gevind, stap ons 3 km stadion toe. Die weer was gaaf, nie te warm en nie te koel nie. Aangekom by die stadion, is daar duisende mense. Dis net geel en rooi waar jy kyk. Ek val toe maar in die naaste ry en bestudeer my kaartjie: Hek H, vloer 4, blok 416, ry X en sitplek 14.

renette van der walt sokker blog (2)

In die ry ontmoet ek ’n Amerikaner, ’n vrou van Peru en twee Switsers. Net voordat ek die sekuriteitstoets slaag, stel ek my vinnig voor aan ’n gesin van Kenia. Ja, ons was bly om mekaar te sien!

Die stadion is baie mooi en dit was ook die duurste stadion wat gebou is! Soos ek na my sitplek beweeg kan ek nie ophou glimlag nie, ek was daai weirdo met ’n plastiekglimlag, want met elke tree wat ek gee, oorweldig die atmosfeer my.

renette van der walt sokker blog (3)

Ek het die veld en pawiljoen met trots aanskou, want as ’n “vier maande oue” Brasiliër was ek trots op die organisasie, die mooi veld en stadion. Ek het dadelik begin foto’s neem. Foto’s met my foon moes ek WhatsApp en Facebook toe stuur, foto’s op my kamera is vir ’n foto-album op Facebook.

Die spanne het begin opwarm en ek het my Budweiser geniet. Ek kry steeds hoendervleis as ek dink hoe die mense hul volksliedere gesing het. Ek het Nkosi Sikelel’ hardop gesing, vuis op die bors!

Met die afskop van die wedstryd was my foon se battery reeds pap.

renette van der walt sokker blog (4)

Ek kan nie veel van die wedstryd self sê nie, die bal is geskop, baie doele is gemis, Switserland het 2 doel gekry en Ecuador 1. Aan die begin het Equador baie sterk gelyk, maar hier teen die einde het Switserland koning gekraai. Daar was baie meer Ecuador-ondersteuners as Switserse ondersteuners, so elke keer wat Switserland iets goed of sleg doen, dan hoor jy net: ‘BOOOOOOOOOOOOOOOOOOO!!!!!!!’

Rustyd het ek met die jongman langs my gesels, tussen my swak Portugees en sy swak Engels het ons vinnig vriende geword. Ons het ook  foto’s van mekaar geneem sodat ons kan bewys ons was wel by die wedstryd. Tussen ons geselsies deur het ek springmielies gekoop (R50!). Ná die wedstryd het ek nog ’n paar foto’s geneem en afbeweeg na die grondvloer.

renette van der walt sokker blog (1)

Daar was 68 000 mense by hierdie wedstryd en ek was een van hulle!”

10 Junie 2014

“Ek is 24, ’n wiskunde-onderwyseres en Afrikaanssprekend. Ek is tans in Brasilië en hiér praat niemand Engels nie. En ek praat nie Portugees nie …

Bem-vindo ao Brasil (welkom in Brasilië) is nou oral in die strate, op plakkate en in winkelvensters te sien, want die Fifa-Wêreldbeker begin een van die dae!

Dit is ’n geleentheid wat ek nie wou misloop nie en ek het al op 15 Maart twee uur voor die rekenaar gesit om kaartjies te koop. Die goedkoopste opsie, nadat ek vliegtuigkaartjies en verblyf ingesluit het, was om ’n wedstryd in die hoofstad, Brasilia, te kyk. En al is die wedstryd tussen Switserland en Ecuador, gaan ek steeds die sokkerkultuur van Brasilië ervaar.

Ek het vandag my Fifa-kaartjies by São Paulo se kultuursentrum gaan haal. Dit was nie net ry-en-kry nie, nee meneer, ek moes eers op Google Maps die aanwysings van my woonstel na die kultuursentrum kry. Bus 875C is my gunsteling-bus om te gebruik, want dit stop voor my woonstel. Openbare vervoer is ’n goedkoop (sowat R15 per rit) en maklike manier om rond te beweeg in hierdie groot stad. Ek klim in Avenida Ibirapuera af en stap oor die straat om bus 5391-10 na die kultuursentrum te kry. Alles mooi vooraf beplan om nie te verdwaal op pad na dié belangrike afspraak nie.

brasilia sokker

Brasilië se sokkerkultuur.

Aangekom by die kultuursentrum (busnommers nog in swart op my hand geskryf), kan ek in my gebrekkige Portugees verduidelik dat ek ’n afspraak het om my sokkerkaartjies te kom haal. Ek gebruik Google Translate om vir my sinne en frases van Engels na Portugees te vertaal, maar hulle verstaan darem – net-net – wat ek wil sê.

Ek het hierdie kaartjies met my Brasiliaanse ID-nommer gekoop en ek stres al vir twee maande dat hulle daarmee gaan fout vind. Genadiglik verloop alles seepglad en sit ek nou met die twee kaartjies in my hand! Trots op myself, loop ek nog ’n paar draaie in die sentrum. Daar was ’n interessante uitstalling oor sokker in informele nedersettings – hulle noem dit favelas.

Renette se sokkerkaartjie vir die wedstryd tussen Switserland en Ecuador

Renette se sokkerkaartjie vir die wedstryd tussen Switserland en Ecuador.

Die atmosfeer in Brasilië is vir my anders as wat dit in Suid-Afrika voor die Wêreldbeker was. In SA het dit gevoel asof alle Suid-Afrikaners opgewonde was oor die gaste wat hul land kom besoek. Ons het buitelanders met ope arms verwelkom en ontvang. Ja, die infrastruktuur was plek-plek nog nie heeltemal klaar nie en ander probleme het kort-kort opgeduik, maar Suid-Afrika was kinderlik opgewonde oor die internasionale aandag wat op ons gewag het.

Hier in Brasilië ervaar ek spanning tussen die mense oor die geleentheid. Almal gons oor die stadions wat nog nie klaar is nie en die mense sloer om alles in Engels te vertaal. Brasilië is nie ’n maklike land om in te toer nie, juis omdat min mense Engels praat (of wíl praat) en min padaanwysings, spyskaarte, advertensies of verduidelikings in Engels is.

Terug op bus 669A-10 huiswaarts sien ek ’n paar mense wat die groen-en-geel vlag van Brasilië in hul vensters hang. Die openbare telefoonhokkies word met sokkertemas versier en selfs die bekende straatkuns bevat sokkertemas.

En net daar in bus 669A-10 is ek ’n trotse Suid-Afrikaner wat kan spog oor ons land se vriendelike verwelkoming van buitelanders en ons land se omgee-kultuur. En ons land wat ander inspireer!”

Hou SARIE.com dop vir nóg van Renette se blogs uit Brasilië.