Liezel Zapke. FOTO: verskaf

Liezel Zapke. FOTO: verskaf

Reise

SARIE-leser Liezel Zapke skryf uit Duitsland

Die Zapkes woon in Essen, Duitsland. Liezel se man, Albert, werk vir ’n Duitse firma in die energiebedryf. Hy is verlede jaar ’n bevorderingspos aangebied in Essen en hulle het ná sorgvuldige oorweging van al die voor- en nadele, besluit om daarheen te verhuis.

Sy vertel meer oor hul lewe daar en deel meer oor haar gunsteling-seisoen, herfs.

Albert is ’n Namibiese Duitser en my twee seuns, Hubertus (10) en Albert Jnr (13), was in die Deutsche Schule Johannesburg (DSJ) in Auckland Park, Johannesburg. Ek was as ’n jong meisie ’n au pair in Hamburg. Ons almal kan dus met die taal omgaan en dit het ons inskakeling hier vergemaklik. Die seuns is in die Goetheschule hier in Essen, ’n baie goeie Duitse gymnasium, net so kilometer van waar ons woon. My kinders geniet dit om nie deur hul ma oral rondkarwy te word nie en ry trem of fiets om te kom waar hulle moet wees.

Hubertus, Albert en Albert Jnr. FOTO: verskaf

Hubertus, Albert en Albert Jnr. FOTO: verskaf

Ek is ’n gekwalifiseerde prokureur en het vir sewentien jaar vir PricewaterhouseCoopers gewerk in hul regs-en belastingafdeling. Ek werk nie op die oomblik nie, maar gebruik die tyd wat oorbly nadat ek al die huishoudelike take verrig het (ek het nuwe waardering vir my Suid-Afrikaaanse huishulp!) om my stokperdjies te beoefen. Ek geniet dit om luisterboeke by die biblioteek uit te neem en om die Duitse tydskrifte en koerante waarop ek my hande kan lê, te lees – dit kan tot ’n week neem om Die Zeit van hoek tot kant deur te lees! Ek woon praatjies by oor kuns en besoek kunsuitstallings. Ek neem kunsklasse en in Februarie gaan ek voort met ’n gevorderde Duitse taalkursus. Ek brei, hekel en kwilt graag.

Breiwerk. FOTO: verskaf

Breiwerk. FOTO: verskaf

Sedert ons hier woon, is ons gesin ’n meer intieme eenheid. Ons is meer op mekaar aangewese, onderneem saam uitstappies en beplan ons volgende vakansie saam. Dis vir my heerlik om meer tyd met my kinders deur te bring.

Herfs in Oktober
Oktober is herfstyd in Duitsland. Nou weet ek weer waarom dit my gunsteling-seisoen is. Die temperature val geleidelik van warm na koud. Daar’s ʼn ontploffing van kleur en van my gunsteling-groente en vrugte is in seisoen.

In Oktober is daar pragtige dae met ʼn blou hemel en sonskyn. Goeie weer word optimaal benut. Oral ry mense nog fiets, stap in die woude en berge, en sit buite op hul balkonne en voor kafee’s om die laaste sonskyn en vitamiene D in te drink. Aan die einde van die maand is dit regtig al koud. Soggens om agt, as die kinders skool toe gaan, is dit nog donker. Ons word eers weer vroegoggend ʼn bietjie daglig geskenk as die tyd omgeskakel word na winter tyd – einde Oktober word die horlosie ʼn uur teruggestel. Drie uur smiddae hang die son al laag en teen vyf uur is dit feitlik donker. Bedags is dit nou meestal grou.

Maar herfs tower die mooiste kleure op. ʼn Herfskombers in skakerings van rooi, geel, goud, oranje, pers en bruin bedek die wêreld. Die kleureffek van die woude en groot groepe bome wat plek-plek bymekaar staan, is asemrowend. Die blare begin moeg na die grond toe val en oral lê ʼn roes blaretapyt.

Tapyt van blare. FOTO: verskaf

Tapyt van blare. FOTO: verskaf

Klein wit, geel en pers astertjies en die sonneblomme blom. Dahlias word gepluk en in bont bosse verkoop. Dis ook pampoentyd. Dit sorg vir iets lekkers om te eet, maar word ook gebruik vir versierings van alle aard. Oral voor deure staan pampoene in alle groottes en skakerings. Kinders weet ook natuurlik dat pampoene die beste lanterns maak om mee te gaan spook op Halloween-nag.

Pampoene by die dosyne! FOTO: verskaf

Pampoene by die dosyne! FOTO: verskaf

Om vars produkte in seisoen aan te koop en te benut, is waarde vir geld, én ʼn waarborg vir geur en smaak. Ek maak die heerlikste pampoensop volgens ʼn resep uit ʼn plaaslike kostydskrif: pampoen, wortels, selery, ui, knoffel, rooi brandrissies, kerriepoeier en groenteaftreksel vir 30 minute saamkook totdat al die groente sag is, sop fyn maak en dan geur met sout, peper en muskaat. Roer ʼn blikkie kokosneutmelk deur. Verhit en sit voor met ʼn klontjie room. Ek lees dat pampoen jou slank maak: dit bevat net 24 kal per 100 g. Dit bevat ook sure wat goed is vir jou hare en naels. ʼn Masker van pampoen pamperlang jou vel.

Nog pampoene! FOTO: verskaf

Nog pampoene! FOTO: verskaf

By die plaaslike plaaswinkel en supermarkte is verskillende soorte appels in groot maat te koop, want dis nou appeltyd. Die verskillende soorte appels lyk, ruik en smaak almal anders. Dit word gebruik in terte, koeke en poedings. As jy fluks is, maak jy appelkompot of appelmoes, en lê apples in sodat jy heel jaar voorraad het om saam met jou varkvleis, oor jou muesli in die oggend, of as nagereg te geniet.

Federweisser kondig die begin van herfs aan. Die naam kom van die Duits Feder, veer, en Weiss, wit, en beskryf die voorkoms van die drankie. Dis lig van kleur en die gisdeeltjies wat soos wit veertjies daarin sweef, gee dit ʼn troebel voorkoms. Dit word gemaak van die eerste gefermenteerde varsgeparste druiwe. In Suid-Afrika ken ons dit as mos. Dit lyk en smaak soos herfs, soet met ʼn kruie-spesery ondertoon. Dit word tradisioneel met Zwiebelkuchen, ʼn uie tert, geëet.

Die neute en kastaiings word ryp. Besige eekhoringtjies lê wintervoorraadkamers aan en begrawe hul proviand. Ek eet vir die eerste keer geroosterde kastaiings wat ek koop by ʼn stalletjie in Aachen se Altstadt. Ek lees in ’n artikel dat dieeetbare kastaingsoorte 700 mg kalium per 100 g bevat en dis besonders goed vir jou senuwees en jou hart. Kastaiings kan gekook of gerooster word; of as ʼn vulsel vir gebraaide eend of hoender, as garnering saam met rooikool, of as puree. Die Franse geniet blykbaar versoete en geglasuurde kastaiings, Marons glacés, en Mont Blanc, ’n nagereg van fyn gemaakte, versoete kastaiings bedek met geklopte room. Dié nagereg, opgedien, lyk blykbaar soos ’n sneeubedekte berg.

Kool en kwepers is in seisoen en plaaslike kostydskrifte besing hul lof.  Hier’s ʼn groot aanbod van kool. Dit word beskou as ʼn Superfood en jy kan kies tussen witkool, Duitse wirsing, blomkool, broccoli, koolrape, rooikool, groenkool, Brusselse spruite en Chinese kool. Kool is ryk aan vitamiene C, foliensuur, dieetvesel, kalsium, vitamiene K en anti-oksidante. Die inlê en fermentering van kool is nou hoogmode. Groente is oorspronklik suur ingelê om dit te preserveer. Deesdae is hierdie metode hip weens die gesondheidsvoordele wat dit inhou. Die bekendste Duitse gefermenteerde groente is Sauerkraut.

Die kweper word gekroon as die ster van die seisoen en sy nuwe gewildheid is te danke aan die behoefte van mense om seisoenaal te kook en te eet. Kwepers, veral die appelkweper wat ons in Suid-Afrika ken, is baie hard om te skil en kan net gaar geëet word. Maar jou moeite word beloon – kwepers ontwikkel ʼn wonderlike soet, kruie-spesery smaak. Die hoë pektieninhoud van kwepers maak dit uiters geskik vir die maak van konfyt, jellie en kweperlekkers. Maar dis nie waar die vrug se veelsydigheid stop nie. Kwepers maak heerlike kompot wat saam met wildsvleis of roomys geniet kan word. Kweperstroop gemeng met mineraal- of sodawater is ʼn verfrissende drankie. Ek het ook afgekom op ʼn heerlike kweperchutney resep wat ek gaan toets,  want Mrs Balls kry ons nie hier te koop nie! Ek het geleer dat daar twee soorte kwepers is: appel- en peerkwepers. Appelkwepers het redelike harde rooi vleis. Peerkwepers is heelwat sagter en gee ʼn helder rooi sap af. Beide soorte kan nadat dit gepluk is nog ryp word. Ek het peerkwepers persent gekry by ʼn ma van een van my seun se klasmaats. Dit lyk soos ʼn pragtige groot, geel peer en die smaak was sensasioneel.

November is nou hier en ons deel van die stad se Kersliggies is gisteraand vir die eerste keer aangeskakel. Hierdie tyd beloof ook om ʼn fees vir die sintuie te wees!

 

Formele tuin. FOTO: verskaf

Formele tuin. FOTO: verskaf