FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Reise

SARIE-leser se opwindende lewe in Lagos, Nigerië

 

Renette Rheeder woon in die grootste stad in Nigerië.

Daar’s baie debatte oor presies hoe groot die bevolking van Lagos is, maar die algemene siening is dat hier ongeveer 20 miljoen mense woon; dis ’n ‘megacity’ en die grootste stad in Afrika. Lagos is geleë teen die kus in ’n moerasagtige gebied met verskeie strandmere en bestaan uit verskeie eilande wat met brûe aan mekaar en aan die vasteland verbind is.”

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Die versekeringsmaatskappy vir wie Renette werk het ongeveer drie jaar gelede bedrywighede in Nigerië begin en het haar daarheen verplaas vir ’n periode van 2 jaar om te help om die besigheid op die been te bring. Sy is ongetroud, en daarom was die ja-sê vir dié avontuur vir haar ’n bietjie makliker.

Lees meer oor haar lewe daar in SARIE se 2015 Desemberuitgawe.

Wat staan vir jou uit van die mense van Nigerië?
Die geweldige warmte, gasvryheid en vrygewigheid van die Nigeriese mense. Van dag een af het hulle my hartlik ontvang en tuis laat voel. Ek het al by verskeie geleenthede geskenke ontvang van verskillende mense sonder enige spesifieke rede – sommer omdat hulle aan my gedink het op reis of omdat ek belangstelling toon in hul gebruike en kultuur en dan kry ek ’n lap van daardie stam! Hulle is ook mal oor ‘celebrations’ en gebruik elke geleentheid om iets te vier en hul voorspoed met ander te deel. As ’n kollega byvoorbeeld ’n nuwe kar gekry het, kry almal in die kantoor ietsie te ete en te drinke en op die vraag van waarom die geleentheid, kom die antwoord: ‘he is washing his new car’. Nigeriërs is ook ’n baie trotse nasie en hulle is uitgesproke oor die ooglopende probleme in hul eie land, maar hulle staan saam as iemand van buite durf kritiek lewer. Hulle herinner jou graag daaraan dat Nigerië nou die grootste ekonomie in Afrika het. Daar word gereeld vriendelike geskerts oor wie tussen SA en Nigerië nou eintlik die leeu van Afrika is!

Groente en vrugte by Lekki-mark.

Groente en vrugte by Lekki-mark.

Enige interessante ervaringe daar?
Alhoewel hier deesdae meer Suid-Afrikaanse en internasionale winkelgroepe te vinde is, vorm die plaaslike informele markte nog ’n groot deel van die kultuur. Dit wissel van klein individuele tamatiestalletjies langs die pad tot reuse gebiede waar honderde handelaars groter stalletjies of winkels het. Dis elke keer ’n ervaring om ’n mark te besoek. My gunsteling is die Lekki-mark waar jy enige iets van eksotiese kruie, ongewone vrugte en kosse tot antieke kuns en handwerk van regoor Wes-Afrika kan kry, asook die mooiste plaaslike materiale. Dis groot pret om jou onderhandelingsvernuf op die proef te stel. Jy betaal nooit die eerste prys nie en alhoewel die handelaars baie uitgeslape is, gebeur alles in ’n goeie gees. Ongelukkig is daar ook hier en daar onwettige goedere soos ivoor en luiperd- en jagluiperdvelle te koop.

Handwerk te koop by Lekki-mark.

Handwerk te koop by Lekki-mark.

Hoe bestee jy jou vrye tyd daar?
Ek speel graag gholf en kuier saam met nuwe vriende wat ek hier gemaak het. Hier is heelwat Suid-Afrikaners en daar is genoeg geleenthede vir braai. Die opwinding is groot as iemand onlangs tuis was en ’n stukkie kwaliteit boerewors of filet kon in smokkel!

Die tonele op straat is kleurvol en daar word sommer net daar handel gedryf!

Die tonele op straat is kleurvol en daar word sommer net daar handel gedryf!

 

  • Tjaart Herbst

    Ai, lekker gelees aan jou vertellinge.