des05kuberkuier1a
Reise

Skip van genade

Jy weet jy’s deel van iets Groters, sê die sendingwerkers op die wêreld se grootste private rondreisende hospitaalskip, Mercy Ships se Anastasis. Suid-Afrikaners Marius  Prinsloo is van die beplanningsafdeling, André Cronjé is ’n spanleier en Stefanie Coetzee ’n onderwyseres. Dié “wonder-werkers” betaal self hul verblyf op die skip.
Stefanie deel haar kajuit met twee ander én ’n badkamer met nog ’n 3-in-1-kajuit. Maar alles, sê sy, verloop harmonieus.

AS DAAR KONFLIK IS?
Marius: As dit ernstig is, help die kapelaan.
Stefanie: ’n Mens gaan sit maar op die dek of in die biblioteek. ’n Mens pla nie iemand as hy êrens in ’n hoekie sit nie.

DIE NODIGSTE EIENSKAP AAN BOORD?
André: Aanpasbaarheid. “Blessed are the flexible, for they shall not be bent out of shape!”

WAAR DOEN JULLE ORAL AAN?
Marius: Ek is mal oor Afrika, op dié manier sien ek plekke wat vir ander geslote is.
André: Wes-Afrika is natuurlik ’n belewenis. Min mense weet van die Faroër-eilande in die Noord-Atlantiese Oseaan.

WATTER BEVREDIGING KRY JULLE?
Marius: ’n Pasiënt kom hier aan met ’n gewas wat hom versmoor en uithonger. En hy stap van die skip af – genees.
André: Jóú lewe verander ook.
Stefanie: Sendelinge soek goeie opleiding vir hul kinders, wat saam met hulle op die skip is. Hier is van chirurge tot loodgieters. Deur my beste te gee dien ek ander.

HOE WERK DIE SKOOL OP DIE SKIP?
Stefanie: Soos ’n plaasskool, met ’n Amerikaanse leerplan. Daar is 8 onderwysers met elk ongeveer 11 kinders van alle ouderdomsgroepe. My vakgebiede is Bybelkunde, Engels en Frans. My grootste uitdaging is LO vir die kleintjies!

HOE LANK BLY ‘N MENS OP DIE SKIP?
André: Party kom vir ’n paar maande. My aanvanklike twee jaar is nou nege, en ek het geen angsaanvalle oor die toekoms nie.

JULLE LEER ALLERHANDE INTERESSANTE DINGE. ANDRÉ VERTEL VAN ‘N KURSUS IN NOODHULP EN BRANDBESTRYDING.
Stefanie: Wanneer ons aan wal gaan, bou ons basiese geboue soos toilette vir gemeenskappe. Die Anastasis is ook ’n drywende ysterwarewinkel met duisende sakkies sement.

SEESIEK?
Stefanie: Ná drie dae was ek gereed om af te spring. Dan moet ek nog by my klas bly!
Marius: Solank niemand naby my seesiek word nie, gaan dit goed.
André: As die skip rol, bly ek in my bed. As die water stil is, geniet ek die oopte van die see.

VRYE TYD?
Stefanie: Wanneer ons kan, ry ons fiets. Hier is ’n hele vloot. In Kaapstad het ons om Kampsbaai gery. ’n Chirurg sal maklik in sy vrye tyd help fietse regmaak. Ons het ook ander voertuie. ’n Jeep se nommerplaat lees ewe ANA.
André: Ons het ’n goed toegeruste biblioteek met volop tydskrifte.

WAT MIS JULLE AAN BOORD?
Stefanie:
Niks. Dis ’n drywende dorp.
André: Die Burger en boerewors.
Marius: Om gou-gou ’n roomys langs die pad te koop.

KOS? ALMAL SE VERSKILLENDE EETGEWOONTES?
Stefanie:
Daar is iets vir almal, ook vegetariërs, met twee eetsale – vir gesinne en alleenlopers.

HOE VIER JULLE KERSFEES OP DIE SKIP?
Marius:
Die skip het ’n ou Mexikaanse tradisie: Op Oukersaand los jy een skoen buite jou kajuit. Nogal ’n ervaring om op Kersoggend tussen 20 en 30 geskenkies voor jou deur te kry!