marelize_en_jacques_nel
Reise

St. George, Australië

Sy vertel van hulle lewe daar.

“Ek en my man, Jacques, het twee jaar gelede Australië toe verhuis nadat hy ‘n betrekking as plaasbestuurder op ‘n katoenplaas aanvaar het. Die tipe boerdery is ‘n groot uitdaging en aanpassing vir hom, maar ook ‘n baie interessante leerproses. Ons woon op ‘n plaas sowat 20 km vanaf die plattelandse dorp St. George in Suidwes-Queensland.

Ek werk as kleuterskool-onderwyseres. Wat my werk so uniek maak, is dat ons op ‘n daaglikse basis na ander kleiner plattelandse dorpies ry wat nie kleuterskole het nie. Ons gaan bied dan daar ‘n kleuterskool-program vir die kinders aan. Teen die einde van ‘n werksweek het ons ‘n volle 1 000 km agter die rug!

Die somermaande is baie warm hier en temperature styg tot 44 grade. Die winters is nie so koud nie. Dis ‘n baie veilige omgewing en ons sluit nie eens snags ons deure as ons gaan slaap nie.

Ons het relatief vinnig aangepas hier, omdat daar soveel ander Suid-Afrikaners in die omgewing woon en ons praat net soveel Afrikaans as Engels. Die mense is baie vriendelik en behulpsaam. Ons is van dag een af met ope arms in die gemeenskap verwelkom. Naweke geniet ons waterski en kuier saam met vriende.

Die afgelope twee jaar het ons uiterste weersomstandighede beleef – droogtes, stofstorms en vloede. Twee keer in een jaar is ons met groot vloede gekonfronteer. Tydens die eerste vloed moes ons ontruim en die tweede keer was ons vir 4 weke afgesny van die dorp.

Gelukkig was daar ‘n bootdiens beskikbaar wat mense in dorp toe vervoer het om kosvoorrade te kry, belangrike afsprake na te kom, ens. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek met ‘n boot werk toe gery het! Met die tweede vloed het twee gestrande kangaroes hulle ewe kontant tuisgemaak in ons voortuin.

Hulle het vir vier weke daar oorleef totdat die water genoeg gesak het vir hulle om weer na ‘n beter omgewing te verhuis. Die Australiërs is ‘n nasie wat saamstaan in tye van nood en daar steek waarheid in hul gesegde wat lei: “Lend your mate a hand.”

Ons mis ons familie en vriende baie, maar geniet die veiligheid en rustigheid wat die land ons bied.”