sr0902lesersbotrivier_3_bigrz
Reise

Stoom op Botrivier

Aan die voet van die Houwhoek-berg, sowat ’n uur se ry van Kaapstad en omring
deur fynbos, lê die rustige dorpie Botrivier. Hier, by die KolKol Mountain Lodge
op die Van der Stel-pas, kan jy régtig rus. Die hutte is van hout en klip uit die
omgewing, en luukse permanente tente is privaat en ingerig as selfsorgeenhede.
Elke hut en tent het ’n plonspoel wat verhit kan word – deur vuur te maak in ’n
stofie in die water! Ons het heelaand ontspan in die warm water met ’n glasie
rooiwyn in die hand en ons aandete wat op die kole sis. My avontuurlustigheid
is geprikkel deur 2 staproetes en ’n bergfietsroete, en ons kon heerlik piekniek
hou in die berg. Daar is selfs ’n lyntjie natgemaak in die plaasdam. Die Botrivier
Hotel bied op Sondae ’n heerlike vyfgang-middagmaal. Vir iets ligters is daar
The Shuttin Shed. Met ’n uitsig op eindelose koppies en laslappie-landerye, voëls
wat al vroegdag kwetter en die geluid van kabbelende water is dit die perfekte
wegbreek vir ’n moeë stadsiel. – Margot Bosman, Durbanville.

Deel Jou Avontuur Met SARIE!
Stuur ’n foto van jouself en ’n mooi foto van die plek wat jy besoek het, asook ’n beskrywing van jou reiservaring (sowat 150 woorde) saam met jou kontakbesonderhede aan mvanwyk5@sarie.com of
Sarie-Reisdinge (Lesersbydraes), Posbus 1802, Kaapstad 8000.