FOTO: verskaf

Reise

Suid-Afrikaanse egpaar se idilliese lewe op Switserse platteland.

Hanlie en Jaco van Niekerk het die geleentheid aangegryp om op die Switserse platteland te gaan woon en werk. Hulle het ’n idilliese en rustige leefstyl op die klein dorpie waar die gebeier van koeiklokke die landelikheid verkondig.

Waar woon julle?
Ons is baie bevoorreg om in ’n klein plattelandse dorpie, Konolfingen, naby die Switserse hoofstad, Bern te bly. Hier is al die huise omtrent tipies Switsers en die koeie bly in ’n stal onder die huise in die winter. Die dorpie is geleë in die Kanton (provinsie) van Bern en is bekend vir sy melkboere. Daarom is hier ook kaasfabrieke in ons omgewing.

Hanlie en Jaco van Niekerk met Bern in die agtergrond.

Hanlie en Jaco van Niekerk met Bern in die agtergrond.

Wat doen julle daar?
My ma, Jaco is ’n ingenieur en is op ’n “expat” program hier. Weens sy wonderlike geleentheid moes ek my loopbaan as mondhigiënis onderbreek. Ek werk nie en gebruik my kans om soveel moontlik te reis.

Hoe is dit om in so klein dorpie te woon?
Die atmosfeer en leefstyl is absoluut ongelooflik. Almal is rustig en die koeie wei amper tussen die huise. Jy hoor van vroeg tot laat koeiklokke rondom jou huis. Engels is nie ’n amptelike taal nie en dis soms ’n frustrasie dat hier baie min van die ouer garde is wat regtig dié taal praat. Gelukkig vir ons woon hier baie verskillende kulture en nasionaliteite van regoor die wêreld as gevolg van die fabrieke in die omgewing. Hier is so goeie publieke vervoerstelsel dat ek binne ’n uur of twee op enige plek in die land kan wees, al bly ek in ’n klein plattelandse dorpie. Die vervoerstelsel is beslis van die beste in Europa, altyd betyds, skoon en nie oorvol nie.

Wat val jou die meeste op van die land en sy mense?
Die Switsers is ’n ongelooflike trotse en eerbare nasie met die hoogste vlak van integriteit. Ter illustrasie: Aan die rand van ons dorpie is ’n plaasmark wat van soggens 06:00 tot saans 22:00 oop is. Hierheen bring boere en vroue hul vars vrugte, groente en blomme, maar verder is dit onbeman. Elkeen gaan en neem wat jy nodig het, tel die verskuldigde bedrag op en laat die geld daar. Niemand neem ’n eiervrug vir 50c nie! Dis die mees ongelooflike belewenis vir my familie. Ook in die groot winkels neem jy self jou skandeerder en trollie, skandeer jou items en betaal by ’n onbemande kasregister.

Hulle is ook bekend vir die presiesheid waarmee hulle dinge doen. Dit sien jy ook aan die netjies uitgelegde groentebeddings op die omringende plase. Elke boer, sy vrou en kinders doen al hul eie plaaswerk. Hier is weinig wat werkers gebruik om te help, soms help hulle net mekaar. Ons sien gereeld vroegoggend ’n vrou wat ’n trop beeste aanjaag na die melkstal, of wat dalk lusern sny!

Almal hier is ook vreeslik bewus van herwinning. Hier gaan ons met ’n sak vol vullis (plastiekbottels/glas/ou klere) winkel toe en by elke winkel is ’n groot area vol herwinningsdromme.

Die leefstyl is beslis heelwat rustiger as waaraan ons gewoond is. Meeste winkels op die platteland maak toe tussen 12 uur en 2 uur. Almal neem dan middagete en gaan huistoe. Daar’s ook geen winkel oop op Sondag nie. Dit was aan die begin nogal ’n groot aanpassing.

Hier is ook baie mere, piekniekplekke en staproetes. Almal hier het ’n groot liefde vir die natuur en lei ’n baie aktiewe leefwyse. Almal stap, ry fiets of ski. Opvallend is ook die wyse waarop kinders hier grootgemaak word om onafhanklik te funksioneer. Jong kinders ry alleen trein gedurende vakansietye om vir oupa en ouma te gaan kuier. Vyfjariges mag nie by die skool afgelaai word nie. Daar is ’n veilige aflaaipunt waar hulle self vandaan skool toe moet stap.

Somer in Konolfingen. FOTO: verskaf

Somer in Konolfingen. FOTO: verskaf

Is dit duur om daar te woon?
Ek dink almal wat al in Switserland vakansie gehou of hier gebly het, sal vir jou sê dis beslis die duurste land in Europa. Ons klomp “expats” hier doen een keer ’n maand inkopies in Duitsland. Dis regtig die moeite werd en dan besef jy eintlik hoe duur Switserland is. Om te vergoed daarvoor verdien die mense regtig baie goeie salarisse in vergelyking met die res van Europa; so hulle word nie regtig benadeel nie. Die land het ook fantastiese voordele vir afgetrede persone oor 65 jaar, soos: Hulle kan ’n jaarlikse kaart teen ’n baie billike tarief koop en dan van enige publieke vervoer gebruik maak. Die busse stop selfs by die hospitaal en daarom kan enige ouer persoon baie lank onafhanklik bly.

Het jy ’n gunsteling plek daar?
Die hele Switserland het ’n ongelooflike natuurskoon. Ons het ’n paar gunstelinge, een daarvan is om op te gaan in die Alpe tot by Murren, Grindelwald of Kleine Scheidegg. Daar’s heerlike staproetes en ski-oorde. Hierdie is alles in die Jungfrau-omgewing wat die hoogste piek van die Alpe in Europa is. Ons is so gelukkig dat dit net ’n klipgooi van ons huis af is. Bern se ou stad is ook baie mooi en is verklaar as ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied. Thun is ’n ander pragtige dorpie nie te ver van ons nie, wat omring is deur die Alpe, met die mooiste kasteel.

Thunn, met sy pragtige kasteel in die agtergrond. FOTO: verskaf

Thunn, met sy pragtige kasteel in die agtergrond. FOTO: verskaf

Was dit maklik om vriende te maak met julle Switserse bure, kollegas?
Ja, die wat Engels kan praat, is regtig baie vriendelik en so behulpsaam, en ek moet byvoeg in die besighede en openbare sektor, baie effektief. Ons het vriende en kollegas van verskillende kulture en nasionaliteite wat so interresant is.

Kleine Scheidegg

Kleine Scheidegg

Kom julle terug na SA?
Beslis. My man se program is begin volgende jaar verby en dan kom ons terug SA toe. Ek sal niks verruil vir ’n sonnige Suid-Afrika, vriende en familie nie.

Sjokolade is een van my gunstelinge!

Sjokolade is een van my gunstelinge!