Reise

Suid-Afrikaanse gesin se lewe in Australië

Die Bartelsgesin het tien jaar gelede Stellenbosch verruil vir Perth, Australië.

Beter werksomstandighede vir ’n beter gesinslewe is een van die redes waarom André en Christina hul kinders, Alain, Lize en Lara ontwortel het vir ’n nuwe lewe op ’n ander kontinent. Hulle woon in ’n stil woonbuurt nie te ver van die stad nie en wat ook heerlik naby aan die see is. André werk net buite die stad en Christina werk deeltyds vir ’n pêrelmaatskappy. Alain (21) studeer ingenieurswese by die Universiteit van Wes-Australië, Lize (18) is in jaar 12 en Lara (14) in jaar 9. André geniet langafstand hardloop, driekamp en bergfiets ry en Christina blog en maak tuin en biltong in haar vrye tyd. Hulle hou daarvan om ou gunstelingplekke te besoek en nuwes te ontdek en Wes-Australië is so groot dat daar nooit ’n tekort aan bestemmings is nie!

FOTO: verskaf

FOTO: verskaf

Sy skryf oor hul ervarings van die afgelope jare.

10 Jaar in hierdie Wonderlike Suidelike Land

Ons het 10 jaar gelede in Afrika op ’n vliegtuig geklim en ongeveer 9 ½ uur later in Perth geland. Die wete dat ons niemand hier geken het nie, het dié gesin ’n bietjie verlore laat voel en ons het redelik verwese by die deur uitgeloop om ’n taxi te vind.

By ons gehuurde woonstel in die stad het ons vlugvoos kinders in die middel van die dag sittende in stoele aan die slaap geraak, terwyl André uitgegaan het om vir ons ’n motor te huur. So het ons eerste week verbygegaan in ’n warrelwind van reëlings van vestig in ’n nuwe land. André het sy nuwe werk begin en ek en die kinders het rondgery van een huis na die ander op soek na ’n gepaste een om te huur. Ons het 10 dae gehad om alles uit te sorteer voordat die skole begin en die kinders die nuwe skooljaar moes aandurf. Dit was ’n uitdaging in die middel van ’n opbloei in die mynwese en gepaardgaande akkommodasietekort. Die huurkontrak is geteken die Vrydagmiddag voordat die kinders Maandagoggend hul nuwe skole moes instap.

Net minder as ’n jaar tevore het ons Doebai toe getrek en ons almal was gek oor daai avontuur. Om twee keer in minder as 12 maande ontwortel te word en te vestig in ’n nuwe land, om vriende te maak, seker te maak die kinders is gelukkig en doen goed op skool, plaasvervangers in die winkels te vind vir produkte waaraan jy gewoond is, ’n haarkapper te vind wat my hare sny soos ek daarvan hou en al die ander goed wat daarmee saamgaan, het nie vanself gekom vir iemand wat lief is vir haar gemaksone nie. Maar ek het geweet hierdie trek is die beste ding vir ons gesin. So ek was vasbeslote om seker te maak dit werk.

Tydens ons besoek hier in Augustus 2004, terwyl ek nog geworstel het dat ons gaan wegtrek uit Doebai, was ek onder soveel druk van André om van Perth te hou. Eendag tussen my trane deur sê ek vir hom: “Jy sit te veel druk op my om daarvan te hou”, maar tydens dieselfde besoek terwyl ek in Hay Street afgeloop het, het ek besef ek sal in hierdie stad kan woon. Dit was genoeg vir my op daai stadium. Dié leefstyl sal beter vir die kinders en die hele gesin wees op die langtermyn. Die eerste jaar was beslis die moeilikste, maar ons het goeie vriende gemaak en blywende vriendskappe gesmee, wat met tyd ons “Perth-familie” geword het. Die mense is baie vriendelik en verwelkomend. Ons het weer gewoond geraak daaraan om aan die linkerkant van die pad te ry en dat almal streng 100 km/h op die snelweg ry (na die maniese spoed op die paaie van Doebai), die groen van die Eucalyptus wat baie anders is as die helder- en lewendige groen van die eike- en plataanbome van Stellenbosch. Dis een van die dinge wat ek aanvanklik gemis het. Ons hoor elke dag baie verskillende aksente. In die somer geld ’n algehele verbod op enige vure weens die gevaar van veldbrande.

Op 'n reis na êrens!

Op ‘n reis na êrens!

Nadat ek ’n werkslewe van rekeningkunde, finansiële state, belastingopgawes, salarisstelsels, en gekompliseerde kontantvloeivooruitskattings opgegee het om ’n tuisbly-ma in Doebai te wees, het iets so eenvoudig soos om die kinders by die skool op te laai soos ’n uitstappie gevoel weens die afstand, verkeer en soms wilde padgebruikers waarmee rekening gehou moes word. Om daarna weer ’n tuisbly-ma te wees in ’n stil voorstad van Perth, waar alles op ’n ordelike wyse werk, het dit nie lank geneem nie voordat ek gevoel het my wêreld het gekrimp tot ’n driehoek van beweeg van huis na skool na supermark en terug huis toe. Ek het ’n mate van engtevrees beleef, maar na ’n naweek se kuier in die dorpe, Yallingup en Margaret River so vier maande na ons aankoms, het ek gevoel asof my horisonne weer effens verbreed het en ek kon weer asemhaal.

Walvis naby Rottnesteiland.

Walvis naby Rottnesteiland.

Met al André se reise vir werk het hy nie hierdie probleem ondervind nie. Hy het darem ook vir ons interessante plekke met die mooiste natuurskoon ontdek wat ons as gesin kon besoek. Ek het lief geraak vir die prag van die Wes-Australiese kus en veld. Die mooi, skoon strande, die kleur van die water, of dit nou die vars, helder Suidelike Oseaan rondom Esperance of die warm, turkoois water van Broome is; die unieke sjarme en aantrekkingskrag van Rottnest Island; die rooi (pindan) sand van die Kimberley; eeu-oue woude van die Suidweste en die eindelose oop vlaktes. Ek’s baie lief vir die platteland en het die behoefte om nou en dan uit die stad weg te kom en vars lug in te asem.

Ek besef dat ek sekere goed van ons lewe in Suid-Afrika mis net wanneer ek daaroor dink. Daardie tye daal ’n sterk hunkering na sommige van daai dinge of plekke oor my en dan mis ek die baie onderskeidende atmosfeer wat so kleurvol deel is van die reënboognasie. ’n Foto van die Afrika-son wat opkom of ondergaan, trek aan die hartsnare soos geen ander nie. Maar die lewe hou ’n mens besig en daar’s nie sin daarin om na iets te verlang wat nie deel van jou daaglikse lewe is nie. Ek is bevoorreg, want my familie (naby en ver) is gesond. Ons mis hulle en moet onsself herinner dat baie mense deesdae ver van hul familie woon.

Ons woon in ’n veilige, pragtige plek en het so baie om voor dankbaar te wees. Die eerste dag van die kinders se tweede skooljaar staan uit in my geheue. Na die veranderinge van die voorafgaande 24 maande het ek konstant gevoel asof ek nog besig was om aan te pas, toe die gedagte my daardie dag tref: “Ek kan dit doen. Ek hét dit al gedoen.” Dié eenvoudige wete het op daardie stadium so baie vir my beteken. Ons is nie meer die nuwelinge nie en dat ons werklik hier behoort. Ons het baie elemente van die Aussie-leefstyl aangegryp soos gasbraaie (nadat ons altyd op kole gebraai het); “blower vacs” (’n blaas-en opsuigmasjien vir die tuin); om ’n broodmasjien te hê en ons eie brood sonder preserveermiddels te bak; om vir ure aaneen te ry en dan na die kaart te kyk en te sien dat ons maar net ’n klein deeltjie van hierdie uitgestrekte land gedek het, en om “No worries” te sê, om op te hou om ’n verkeerslig ’n robot te noem.

Ons het die burgerskapstoets geskryf en op Australia Day in 2009 burgers geword. Ek het ’n boekklub saam met vriendinne waarna ons maandeliks uitsien. Ek het my tuisbly-ma status prysgegee en ’n deeltydse werk aanvaar in 2008. Ek sukkel nou om telefoonnommers in Afrikaans, my eerste taal vir meer as 30 jaar, te sê (ek voel nou asof ek twee eerste tale het). Ek sê soms wanneer ons huis toe ry na ’n ver reis dat ons gaan terug Kaap toe en nie Perth toe nie. Dis steeds hartverskeurend wanneer die Springbokke ’n toets verloor. Na 10 jaar hier kan ek sê dat ons wedervaringe van oral bygedra het om ons te vorm as mense. Ek sal niks daaraan verander nie. Hierdie kind van Afrika sal altyd ’n onbreekbare band met moeder Afrika hê, maar ek is onteenseglik ook Australies en is lief daarvoor om in Perth te woon. Fair dinkum.

'n Uitsig van Perth gesien vanaf Kings Park

Uitsig oor die see by Broome.

Rottnesteiland

Coral Bay

Die kuslyn noord van Perth met uitsig oor Hillary's Boat Harbour