Reise

Swem, olifantjie, swem!

In die voëlskuiling by Lake Panic, naby Skukuza in die Krugerwildtuin, het iemand op die houtblad uitgekrap: “What I saw here you could not even imagine.” Wat sou dit wees? Dalk net ‘n grapmaker wat andere wou jaloers maak? Werklik ‘n onvergeetlike natuurbelewenis?

Ná ‘n dag in die winter van 2008 stem ek vir laasgenoemde. Toe het ‘n groepie vriende van die private natuurreservaat Sabiepark, oorkant die Sabierivier, op dieselfde plek ‘n ervaring gehad om oor huis toe te skryf.

‘n Troppie van 12 olifante, waaronder vier kleintjies, twee sierlike njalabulle, ‘n proesende seekoei onder ons voete en ‘n krokodil wat al om die skuiling swem, het daardie oggend saam met die volop bosbokkies en watervoëls – alle soorte reiers, grootlangpote, slanghalse, riethane en die hele reeks visvangers – die kamera-lense oortyd laat werk. Dawie Strydom, Wildtuin-veteraan van baie winters, se kommentaar was kort en kragtig: ‘Die hoogtepunt van ál my besoeke.’

Die Grootvoete het die aksie ingelui. Soos skimme uit die bos het hulle gekom en onverstoord op die eilandjie vlak voor ons kom wei – naby genoeg om elke brekende takkie te hoor en elke ou grote haarfyn van slurp tot stertjie te bestudeer, selfs die wimpers. ‘n Broeipaar groenrugreiers, waterdikkoppe en kiewiete moes verontwaardig skarrel. ‘n Stuk van die reiers se nes het voor ons verbygedryf.

Die hoogtepunt was toe die tyd aanbreek vir waterpret, met gevorderde swemlesse vir die klein olifantjies as deel van die kurrikulum. Die moeders het eenvoudig koers begin kies oorkantste wal toe en die kleintjies moes teen wil en dank agterna, hul slurpies soekend na die troos van moeder-nabyheid. Uiteindelik was net die tippies soos snorkeltjies bo die water sigbaar.

Asem is opgehou elke keer as ‘n kleintjie pens en pootjies onder die water verdwyn. Die verligting was groot as die nat lyfie – soms met die hulp van ‘n flukse tiener – heelhuids vaste aarde bereik.

Jong olifante wat sonder ouerlike of gesinsverantwoordelikheid die oortog kon aandurf, het terselfdertyd hul eie kameë gelewer deur heerlik, sonder inhibisies, voor ons te plas en te speel.

Toe die laaste olifantjie, slurpie na bowe, manhaftig in die bosse verdwyn, het ek soos die onbekende boodskap-uitkrapper gevoel. My vreugde het ek egter stilletjies in my hart bewaar. My ouers het my geleer: net gekke en dwase krap hul name op mure en glase.

* Vir nog dierefoto’s en -stories gaan na www.hennievandeventer.com