Reise

Toe’s daar blou . . .

Noem dit een van die wêreld se bes bewaarde geheime! Hierdie paradys in die middel van die Indiese Oseaan. Eeue lank het nét seevaarders en avontuurlustige handelaars die vreugde geken van “een van die wonders van die wêreld”, soos die Marokkaanse reisiger Ibn Battuta in die 14de eeu daarna verwys het.

Ek het die Maledive die eerste keer so tien jaar gelede besoek, en net daar halsoorkop verlief geraak. Daar het hulle gelê, soos ’n pêrel-halssnoer – 1 193 eilande net suid van Indië, noord van die Seychelle-eilande, met Somalië en Sri Lanka weerskante. Elk net ’n kolletjie palmgroen en wit sand in ’n nimmereindigende see van blou. 

Dis perfek, eintlik te volmaak vir hierdie wêreld, het ek destyds op ’n veerbootrit na die eiland Kuredu in die noordelike Lhaviyani-atol gedink. Vir my was die Maledive byna onwerklik. Iets soos ek nog nooit gesien of ervaar het nie.

Dié keer vlieg ek en my reisvriende na ons eiland, en dis dán dat die werklike prag en grootsheid van die Maledive jou tref. Die eiland-see is 50 miljoen jaar gelede gevorm en rus gemaklik op ’n vulkaniese rif. So ver soos jy kan sien, lê koraal-eilande in twee stringe, 822 km van noord na suid. Hoeveel kleure is daar tog om dié tropiese see te beskryf?

Hemelsblou, jade, turkoois, saffier, smarag . . . Die Republiek van die Maledive is 99% see, en die meeste eilande só klein dat hulle jou net ’n paar minute sal neem om te verken. Dit móét een van die uniekste lande op die planeet wees. Met sonsondergang lê ons klein eiland blink en wag. Waterpluime skiet die lug in toe ons vliegtuig die see voor ons vakansieoord, die W Retreat&Spa, tref.

Ons is op Fesdu-eiland in die middel van die Noordelike Ari-atol, so 25 minute se vlieg van die hoofstad, Malé. Die humiditeit is hoog en jou lyf vertel jou sommer jy’s so te sê óp die ewenaar. Kokospalms (die nasionale boom) beweeg darem so effe in die bries, en ek druk dadelik my voete in die water. Dis so helder soos glas en ek kyk tot op die bodem van die vlak lagune en sien hoe vissies met reënboogkleure teen my been verbyflits.

Met die horison wat verkleur na pienk en ’n ongelooflike lila, geniet ons skemertyd ’n glas sjampanje en ons eerste maal op die eiland. Die vis is seevars en ons tafel staan sommer teenaan die water. Ek druk my voete nog dieper in die sagte, wit sand en voel ’n tinteling van opwinding, want dís nes ek dit onthou het. Hierdie perfekte prentjie wat ek sedert my eerste besoek so saam met my dra.

Dit bly byna ondenkbaar (maar seker ook ’n seën!) dat toerisme die Maledive eers so vier dekades gelede begin ontdek het. Eeue lank het die eilande grootliks geïsoleerd in die Indiese Oseaan gelê, totdat hulle in  die Middeleeue bekend geraak het as die Geld-eilande oor hul waardevolle muntskulpe (cowries), toentertyd se betaalmiddel. Eers in 1972 is twee eilande vir toerisme oopgestel: Kurumba en Kuredu, maar vandag is nader aan 100 van dié eilande vakansieplekke – oorde wat wissel van natuurlike, kaalvoet-eenvoud tot vyfster wonders in harmonie met die omgewing, soos ons W-oord op Fesdu. Die Maledive-bevolking van sowat 400 000, almal Soenni- Moslems, woon op ’n verdere 200 eilande.

Ek gooi die deure van my “oseaan-oase” met sy houtdek, private swembad, buitelugstort en trap tot in die lagune wawyd oop. Voor my, langs my, onder my lê blou . . . en nogmaals blou, en in die verte die koraalrif wat die eiland teen ’n onstuimige see beskerm. By die glas-paneel in die vloer van my chalet gaan sit ek sommer kruisbeen. Dis ’n akwarium van visse;  ’n mariene skatkis – die Maledive se eintlike rykdom! Hierdie eilande is ’n duik- en snorkelparadys wat jaarliks 600 000 toeriste lok, en die hoofrede waarom die Maledive in 2006 en 2007 as die top-vakansiebestemming in die Indiese Oseaan bekroon is.

 ’n Onverwagse tropiese stortbui keer ons nie om met snorkel en paddavoete die rif sommer net daar voor die hotel te gaan verken nie. Ek sien dadelik al die Nemo’s raak – die nuuskierige anemoon-vissie wat ons in die rolprent Finding Nemo so goed leer ken het. Ons duik-instrukteur wys vir ons al die ander onderwater-skatte uit: blaasoppies, vlermuisvisse, rubberlippe, blou-en-geel koffervisse, vuurvisse en geelstreep-snappers. Selfs die rifhaaie lyk heel gemoedelik!

Die Maledive se helder anemoon-vissies

Hier, onder water, staan tyd stil. Die stilte suis behoorlik in jou ore en die kleure is intens, soms oorweldigend. Ek kom op vir asem en kyk vas in twee ogies: ’n seeskilpad wat self die wêreld bo die water verken. Hy duik weer na onder en ek volg sy rustige bewegings totdat hy net ’n silhoeët in die blou verte is. Daar waar die vlak water ophou en die branders teen die rif slaan, is waar duikers en onderwater-fotograwe die hemel ervaar. Dié wat al ’n Maledive-duik gedoen het, sê dis van die beste ter wêreld. ’n Duisend visspesies is hier opgeteken, en meer as 200 koraalsoorte. Swewende manta, walvishaaie en tuine van koraal bring bewonderaars weer en weer terug na hierdie paradys.

Die eilande van die Maledive bly fassinerend, want hulle lê slegs ’n meter of wat bo seespieël. Hier voel jy nooit ’n afstand tussen jou en die see nie; hier kyk jy nooit af op die oseaan nie. Nee, hier’s jy déél van ’n eindelose akwa-wêreld. Elke stukkie ontwerp van Fesdu se oord – die restaurants, die kuierplekke, die chalets (selfs jou badkamer!) – sê “maruhabaa” (welkom!) en nooi die see binne. Daar’s ook geen heuwels of berge (of slange!) op die eilande nie, en juis dít plaas die Maledive in die kollig van debatte oor aardverwarming en styging in die planeet se seevlakke.

Die uitsig vanaf my eie swembad

Dit was onvermydelik dat die eilande deur die tsoenami van 2004 getref sou word. So 49 bewóónde eilande (net vir die Maledive-bevolking) en 19 vakansie-eilande is oorstroom, en 12 000 mense is dakloos gelaat. Vandag word al dié eilande weer bewoon. Tog glo kenners die skade kon veel groter gewees het, maar omdat die eilande só laag en plat is, het die tsoenami eenvoudig oor die meeste gespoel.

Niemand is bestand teen die sjarme van Fesdu nie. Binne ure aanvaar jy die genot van niksdoen uitgelate. Die kombinasie van son, see en sand en W se unieke stylvolheid is eenvoudig verleidelik. Voeg sommer daarby nog ’n s – soos in spa! Want die Maledive – wat sy tradisionele leefwyse van grootliks visserye en landbou in die laaste jare omskep het in ’n moderne ekonomie waarin toerisme ’n primêre rol speel – word vandag gereken as ’n internasionale spa-mekka. Wêreldklas-spa’s is nou oral tuis – die eilande se afsondering maak hulle die perfekte bestemming vir almal wat rus vir liggaam en siel soek.

Die Away Spa met sy wit seile

Omring deur die geur van sitrus, oreganum, anys en basiliekruid, en wit drapeersels wat soos seile in die seebries bol, verbeel ek my ek is op ’n outydse dhow in die middel van die oseaan. In die oord se Away Spa kyk jy uit oor die see terwyl elke stukkie stres wat nog in jou lyf oor is, eenvoudig weggestreel word! Met eksotiese kruie en olies en growwe seesout word jy van kop tot tone gepamperlang, bederf en weer mens gemaak. Whatever you want, whenever you want, is die filosofie van die W-hotelgroep, onthou ek terwyl ek in ’n semi-beswyming op my spa-bed lê. Wat meer as hierdie natuurlike paradys sou ’n mens kon vra?

Hierdie eilande is sekerlik van die mooiste op ons planeet; en Fesdu, wat ná die tsoenami deur W ontwikkel is, ’n huldeblyk aan hul prag. Ná ’n ete van die beste wat die see kan bied, stap ons strandlangs terug na ons “oases op stelte”. Ek klim vir oulaas af met die trap van my houtdek tot in die lagune en druk my kop onder die water. Dis wonderlik warm – steeds heeljaar se 26 grade. Die rustigheid van die eiland spoel oor my en ek wéét net, hierdie ís ’n stukkie hemel.

Ek kan net raai of ek ooit weer die kans sal hê om na die magiese Maledive terug te keer. Dalk nooit nie, maar die kosbare poskaartblou in my gedagtes sal ek altyd saam met my dra. Net ’n kort verblyf was ’n leeftyd van herinnerings.

 SARIE se tyd op Fesdu is moontlikgemaak deur Starwood Hotels & Resorts. Ervaar W Retreat & Spa se groot bederf in jou eie tyd op www. starwoodhotels.com. Met ‘n gemaklike besigheidsklasvlug van Qatar airways (www.qatarairways.com) via Doha aan die Persiese Golf het ek van Johannesburg na die Maledive gevlieg. Om die maan oor die woestynstad Doha te sien opkom, is ‘n unieke ervaring.