Willie en Riekie Nel. FOTO: verskaf

Willie en Riekie Nel. FOTO: verskaf

Reise

Turkye is ’n welkome verandering ná Egipte.

Vir Riekie Nel en haar man, Willie, is hul lewe in Turkye ’n welkome verandering nadat hulle voorheen vir ’n paar jaar in Port Said in Egipte was. Hulle woon in die stad Izmir in die Anatoliese streek in die weste van Turkye.

Sy vertel meer oor hul lewe daar:

In die Anatoliese streek, in die weste van Turkye lê die stad Izmir. Dis waar ek en Willie ons bevind. Willie het ’n kontrak vir drie jaar by ’n Europese hawemaatskappy wat ’n nuwe hawe aan die weskus van Turkye moet ontwikkel. Ons is alreeds ’n jaar en ses maande hier. Ek werk nie en hou myself besig met alles van huishouding, kunswerkies, fotografie en aanlyn studies. Izmir is vir ons ’n welkome verandering ná ’n paar jaar in Port Said, Egipte. Ons woon in ’n ruim en veilige sekuriteitkompleks net buite die stad. Ons deel die huis met ons katjie, Sashy, ’n straatkat wat ons onlangs aangeneem het. Ons is baie gelukkig hier.

Willie en ek met ons kat, Sashy. FOTO: verskaf

Willie en ek met ons kat, Sashy. FOTO: verskaf

Naas Istanboel en die hoofstad Ankara, is Izmir die derde grootste stad met ’n geraamde bevolking van 2.8 miljoen mense. In die antieke tyd was dit bekend as Smyrna; die naam is in 1928 na Izmir verander deur die Turke. Min van die ou stad het oorgebly nadat Smyrna in 1676 deur ’n aardbewing en in 1743 deur vuur verwoes is. Smyrna was eers ’n Griekse stad, maar nadat die Ottomans Turkye begin regeer het, het hulle die Grieke uitgedryf. Die laaste Grieke het Smyrna in 1922 verlaat. Die Smyrna ruïnes in ’n ou deel van Izmir is baie goed bewaar.

Die ruïnes by Smyrna. FOTO: verskaf

Die ruïnes by Smyrna. FOTO: verskaf

Die kloktoring op die Konakplein is die hart van Izmir waar fonteine spuit, duiwe gevoer word en mense luilekker kan rondsit. Daar is ook die Keramaldi-bazaar, wat in die ou dae die Smyrnahawe se handelsgebied was. In die ou gedeelte van Izmir, ’n gewilde plek met winkeltjies en stalletjie, kan mens van Turkse matte en -aandenkings, klere, kombuisware, material, gereedskap, tot trourokke en wol te koop kry. Enigiets waaraan mens kan dink, is daar te koop. Dis ’n gewilde besienswaardigheid vir toeriste.

Die kloktoring op Konakplein. FOTO: verskaf

Die kloktoring op Konakplein. FOTO: verskaf

Vandag is Izmir ’n moderne stad en minder tradisioneel as ander dorpe en stede in Turkye, met pragtige hotelle wat uitkyk oor die see.  Izmir het ’n goeie openbare vervoerstelsel met busse, treine, taxi’s en veerbote. Met ses veerboothawens rondom Izmir se baai, is dit ’n maklike manier om die stadverkeer te vermy. Adnan Menderes Internasionale lughawe is maklik bereikbaar, sowat 40 km van Izmir af. Die stad is ideaal geleë om na Europa te reis. Griekeland en Griekse eilande is veral maklik bereikbaar, ook met skepe en veerbote.

Veerboothawe. FOTO: verskaf

Veerboothawe. FOTO: verskaf

Kordon is die naam van die promenade van 5.6k m lank wat strek vanaf die Konak-pier tot by Alsancak-treinstasie. Dit omsoom die baai van Izmir. Dis ’n gerieflike plek waar mens by een van die menigte  restaurante kan ’n skemerkelkie geniet, of in groepies op die groen gras kan sit en die pragtige sonsondergang bewonder, waar kinders veilig kan speel, fietsryers ’n rit langs die see kan neem op die fietspad sonder om iemand te steur, en vissermanne tot na sononder kan lyn natmaak. Hier’s ook winkeltjies waar mens tot laataand nog kan inkopies doen. Dié stad lewe na sononder, veral in die somer is dit ’n toeloop van mense en toeriste.  Dis ook baie veilig.

Die Kordon-promenade. FOTO: verskaf

Die Kordon-promenade. FOTO: verskaf

Die seisoene wissel van droë warm somers (April tot September) met maksimum temperature tot in die 40’s. Dis ’n winterreënvalstreek (Oktober tot Maart) met temperature wat tot onder vriespunt kan daal. Dit sneeu gewoonlik in die berge rondom die stad, en soms ook in die laagliggende gebiede. Verlede winter het dit in ons kompleks gesneeu.

Die kuslyn by Izmir. FOTO: verskaf

Die kuslyn by Izmir. FOTO: verskaf

Aan die suidelike kant van Izmir lê dorpe soos Urla, wat bekend is vir druiwe verbouing en wyn produksie. Verder wes teen die Egeïese See lê vakansiedorpe soos Alaçati en Ceşme. Van Ceşme af kan mens binne twintig minute met ’n snel-veerboot na die Griekse eiland Chios toe vaar.

 

Een van die vele veerbote. FOTO: verskaf

Een van die vele veerbote. FOTO: verskaf

Sowat 74 km suid van Izmir is die dorp Selçuk geleë. In hierdie omgewing is die geskiedkundige ruïnes van Ephesus (Efese soos ons daarvan in die Bybel lees), die Huis van die Maagd Maria en die Grot van die sewe Slapers te sien.

Aan die westekant van Izmir teen die Egeïese See is kusdorpe soos Foça, Yenifoça, Aliağa, Alsançak en Dikili te sien. Van Alsançak af is daar veerbote wat na die Griekse eiland Lesvos toe vaar. Verder na die binneland toe is die dorp Bergama, waar nog ryk geskiedenis en oorblyfsel uit die antieke tyd sigbaar is. Daar kan die Pergamon ruïnes besigtig word.

 

Die Pergamon ruïnes in Bergama. FOTO: verskaf

Die Pergamon ruïnes in Bergama. FOTO: verskaf

Die Turkse kookkuns wissel oor die hele land. Izmir en die res van die Egeïese streek het baie van die Ottomanse kookkuns geërf, met ’n ligter gebruik van speserye, ’n voorkeur vir rys eerder as bulgur, koftes en ’n wyer beskikbaarheid van groentebredies (türlü), eiervrug, opgestopte dolmas en vis en seekos. Turkye is ook ’n ryk landbouland, en rondom Izmir is baie boerdery. Daar word ook daagliks groot onderdak boeremarkte gehou. Dan bring almal hul produkte om te verkoop. Mens kan enigiets kry, van groente, vrugte, eiers, kaas, melk, botter, neute, heuning, olywe en ander olyfprodukte, vis en seekos, asook vars gebakte brood, alles vars gepluk of gemaak. Hier is ook baie heuningboere. Katoen word ook verbou. Rooivleis is meestal skaapvleis. Beesvleis is skaars en duur. Hoendervleis maak ook ’n groot deel van hulle kookkuns uit. Plein jogurt word meestal saam met etes bedien, so ook tuisgebakte brood. ’n Sout jogurt drankie, of Ayran, is eie aan Turkye. Tee en koffie is hul algemeenste drankies. Tee word in klein glasies bedien met ’n suikerklontjie, geen melk. Alkohol is beskikbaar, maar duur. Wyn en bier word plaaslik verbou, asook ingevoer.

 

Vissermanne. FOTO: verskaf

Vissermanne. FOTO: verskaf

In Izmir kon ons kon nog nie met ander Suid-Afrikaners kennis maak nie, maar het wel ’n paar landgenote ontmoet in Kuşadasi en Didim, twee pragtige dorpe verder suid teen die kus.

Kommunikasie is nogal ’n taai stryd. Turks is die taal wat gepraat word en Engels is maar dun gesaai. Turks is ’n moeilike taal om te bemeester. Hoewel ons al ’n paar woorde kon baasraak, het ons berus daarby dat ons nie Turks magtig gaan wees teen die einde van ons tydperk hier nie. Die plaaslike geldeenheid is die Turkse Lira, wat op die oomblik teen sowat R4.80 vir ’n Lira verhandel.

Die onlangse gebeure wat in Turkye plaasgevind het, het nie ’n sigbare invloed op Izmir gehad nie. Daar is wel ’n noodtoestand deur die president afgekondig wat op almal in Turkye van toepassing is. Dit is meestal veiligheidmaatreëls wat ingestel is. Ongeag die gebeure voel ons steeds veilig in Izmir en omgewing, hoewel ons plekke vermy waar groot skares mense byeenkom. Tot dusver was daar nog geen voorvalle of bedreigings in Izmir nie.

Ons geniet dit hier, maar mis Suid -Afrika en ons mense baie, veral ons kinders. Ná ons tyd in Turkye is daar ‘n moontlikheid vir nog ‘n buitelandse kontrak, maar tyd sal leer. Ons is gereed om enige tyd terug te gaan huis toe, na ons mense toe.

Izmir-baai. FOTO: verskaf

Izmir-baai. FOTO: verskaf