sr0906lesersreise10
Reise

Van Bali tot Turkye en Knysna

Mariska van rooyen
SARIE-skoonheidsredakteur, Johannesburg
Istanboel, met sy donkerbruin Turkse koffie
en Turkish delight, het my hart gewen. Dis
die enigste stad wat met een voet in Europa
en een in Asië staan – juis dié uiteenlopende
invloede maak dit so uniek. My gunsteling-plek
was die Basilica Cistern, ’n ondergrondse dam wat in die 6de eeu gebou is om die
tuine van die destydse Konstantinopel nat te lei. Dis ook die spookagtige water
met goudvisse waarop James Bond roei in From Russia with Love. Heelparty
skrywers is al deur dié stad geïnspireer. Agatha Christie het in kamer 411
van die Hotel Pera Palace gebly toe sy Murder on the Orient Express geskryf het.
Dié trein, wat van 1889 tot 1977 tussen Parys en Istanboel geloop het, was die
inspirasie vir 19 boeke, 6 rolprente – selfs ’n musiekstuk. Nog plekke om te sien
is die Blou Moskee, Grand Bazaar en Spice Bazaar. Die stad betower jou sinne en
voed jou kreatiwiteit met sy geure, kleure en klanke.

Bali-vriendelik
Lynne Julie, kampusdokter, Universiteit Stellenbosch
Pragtige strande, warmwater en
vriendelike inwoners – dis waaroor ’n
vakansie in Bali gaan. Daar is soveel
om te doen: Huur ’n motor om die
eiland te verken, besoek die kunsdistrik,
silwersmede, prentjiemooi rysplantasies,
die vulkaan of tempels, of vaar per boot
na een van die omliggende eilande. Die
meeste hotelle sal jou help om by die
reënwoud uit te kom. Jy kan ook op
’n olifantrit gaan of branderplankrylesse
neem. Bali is ryk aan kultuur en ’n
mens sien dit oral – daar’s standbeelde
by verkeerkruisings en offerandes word
daagliks buite huise en winkels gelaat.
Verkeersknope word selfs veroorsaak deur
godsdienstige feesvierings. Dis beslis ’n
“anderste” soort eilandvakansie.

In’n boomhuis
Carina Stander, digter en skrywer, Nature’s Valley
Tussen Plettenbergbaai en Knysna ontdek ek en my
man ’n betowerende boomskuilte: ’n Plankpad hoog in
die lug lei ons na een van Tsala Treetop Lodge se luukse boomhuise.
Skemertyd sit ons op ons eie dek tussen die boomtoppe. Langs
ons stort die swembad se water oor die rand van die boomhuis
tot onder in die vallei. Dis te koel vir swem en ons kuier voor die
keramiekkaggel . . . Ontbyt is onvergeetlik, met alles van turksvye
en bessies tot ’n magdom kase, neute, oondwarm brode, salm en
kaviaar. Hoe heerlik om te ontsnap van die vakansie-skares, maar
steeds naby aan die strand, berge en Tuinroete-dorpies te wees. ’n
Geheime hoekie, suiwer Afrika-sjiek. Besoek www.hunterhotels.com.

Deel Jou Avontuur Met SARIE!
Stuur ’n foto van jouself en ’n mooi foto van die plek wat jy besoek het, asook ’n beskrywing van jou reiservaring (sowat 150 woorde) saam met jou kontakbesonderhede aan mvanwyk5@sarie.com of Sarie-reisdinge (lesersbydraes), Posbus 1802, Kaapstad 8000.