nov05reisartikel1a
Reise

Verborge Suid-Amerika

Suid-Amerika is ’n kontinent met nimmereindigende verrassings, wat selfs die mees verwenne reisiger sal inspireer. Voor my onlangse kuier daar het my onmiddellike assosiasie met daardie wêrelddeel nie veel verder gestrek as die Amasone en Andes, Argentinië se geliefde (berugte?) Evita Perón, en brons Adonisse op die wit strande van Rio nie. Hoewel Buenos Aires besig is om ’n gewilde vakansiebestemming te word, is dit omtrent net deurwinterde reisigers wat dié vasteland verder verken. Suid-Amerika het baie te bied, en groot dele is deesdae toerismevriendelik. Dis merendeels goedkoper as ons suiderland, langafstand vervoer is betroubaar, en daar is eersteklas-verblyf én -kos.

Welkom in ’n woonbuurt-restaurant
Buenos Aires is ’n uiters bekostigbare bestemming wat herinner aan ’n gesofistikeerde Parys. Maar die inwoners leef met ’n ligter aanslag, byna soos in Rome of Barcelona. En waaroor selde ’n woord gerep word, is Buenos Aires se bodegóns, sekerlik een van die stad se grootste onontdekte geheime. Dis woonbuurt-restaurante wat nie voorgee om iets spoggerigs te wees nie. In ’n bodegón word gawe porsies kos voorgesit, waar (hoofsaaklik plaaslike) klante kuier-eet. Álmal kuier hier – van Pablo en Anna tot Roberto en Carmen. Jong bulletjies in ontwerpersklere sit in gelid langs sjiek Argentynse vroue wat probeer immerjonk bly, ook lywige ooms. Dis eenvoudige, eersteklas-etes. En min koop baie, want die eienaars is selde winsbelus. Dís ’n wenkombinasie: Lae pryse en produktiwiteit gekombineer met gehalte. Eintlik is dit eienaardig dat die bodegón-konsep nog nie in ander lande posgevat het nie. Of dalk is dit soos met Italiaanse roomys . . . net in Italië smaak dit soos dit moet.

As jy gelukkig is, kry jy ’n glimp van ’n hoë, wit waterval of ’n Spaanse fort

Probeer beslis Argentinië se rooiwyn. In ’n bodegón kom dit meestal per glas uit ’n vat in die kelder. Dié wat ons geproe het, was hemels – die smaak byna preserveerbaar. Toe ons kelner hoor ons is van Suid-Afrika, roep sy die sjef om ’n foto van ons te neem, toe neem ons ’n foto van die sjef, en toe neem die kelner ’n foto van ons al drie. Die kiekie hang deesdae bokant my rekenaarskerm: ’n Prentjie as bewys van ons reusesukses om “bloot mens te wees”. Soos Hennie Aucamp eens gesê het: “Om mense te bereik moet jy bereid wees om sélf mens te wees.” En watter beter manier as om met plaaslike inwoners te meng in ’n tipies-Argentynse bodegón?

Wat ’n eiland!
Chiloé Grande, oftewel Islae Grande de Chiloé, is die grootste Chileense eiland (180 km x 60 km) en die tweede grootste in Suid-Amerika naas Tierra del Fuego. ’n Veerboot vaar gereeld daarheen vanaf Pargua, digby Puerto Montt. Kaartjies vir die halfuurvaart kos ’n skrale $1. In die mosblou waters van die Chacao-kanaal sien jy spelende klein dolfyne (toninas). Dis ook die kalf-waters van blouwalvisse. As jy ’n natuurliefhebber is, sal jy dol wees op Chiloé se wilde weskus. Die Chiloé-nasionale park (43 000 ha) spog met strande van tot 20 km lank, en immergroen, onbewoonde reënwoude. Dis die habitat van dwergtakbokke, bergape, seeleeus, vosse en voëls. Nie dat dit altyd maklik is om die diere te sien nie, want die reënvalsyfer is tot 3 000 mm per jaar in die Piuchén-berge. Dis ’n landskap van varings, rotse met veelkleurige korsmosse, donkergroen woude, ruie oerbos in diep klowe, en mere waarin die omgewing weerkaats word. En as jy gelukkig is, kry jy ’n glimp van ’n hoë, wit waterval of ’n Spaanse fort.

In die see tussen Chiloé en die vasteland is ’n paar kleiner eilande wat deur kanale van mekaar geskei word. Sommige is so naby dat jy met laagwater tussen die eilande kan stap. Die kalm waters van die Castro Fjord en Chauques-eilande is ideaal vir seekajakke. In die somers kom hiasinte oral voor. By plase se uitdraaipaaie staan melkkanne tussen veldblomme, reg vir lorries wat dit sal oplaai en na ‘n jogurtfabriek neem. Die gebied is ook bekend vir sy uitvoerhout, aartappels, koring en wolhandwerk. Chiloé-eiland se hoofsentrum is die dorp Castro, wat bekend is vir sy vloot geel skuite, asook huise wat in die water staan op houtpilare (palafi tos). Castro is die beginpunt vir avontuurtoere, visvang-ekskursies, fietsritte en seevaarte. Hoewel hier baie te doen is vir avontuurlustige toeriste, is dit ’n wêreld waar die inwoners nog volgens die ritme van die see en die veranderende seisoene lewe. Motors is min en elektrisiteit ’n luukse. Lande word geploeg met osse. Tradisionele Chileense kultuur vier hoogty. ’n Vermenging van die inheemse en Katolieke gelowe het gelei tot ’n fantasie-mitologie waarin baie van die inwoners steeds glo. Dié wonderwêreld word bevolk deur eienaardige figure soos die stinkende, trolagtige Trauco, wat maagde verlei, ’n magiese seekreatuur, en spookskepe vol vissermanne wat ter see dood is. Dan is daar ook La Fiura, wat mans nader lok met haar kleurryke klere voordat sy hulle laat slaap deur haar asem oor hulle te blaas . . .

’n Vermenging van die inheemse en Katolieke gelowe het gelei tot ’n fantasie-mitologie waarin baie van die inwoners steeds glo

So baie Puerto Montt, so min tyd
Met sy 100 000 inwoners is Puerto Montt ’n groot stad, sê hulle, maar vir my lyk dit eerder soos ’n groterige dorp. Aan die ander kant – mens kan sy stadstatus seker maklik miskyk omdat erwe groot is en die geboue maar laag (dis aardbewing-gebied). Maar vir die rustelose reisiger is hier wel baie te doen. ’n Brosjure beveel aan ’n mens bly vir minstens vier dae: Om vis te vang of jou te verkyk aan die pikkewyne (60 000 van hulle), om jou oë op te slaan na ‘n fjord of gletser, om ‘n perd op te saal en die eiland plat te ry. Boonop is daar vulkane te sien en lafenis te vind in ‘n warmwater-poel. Dieselfde brosjure stel dit nogal treffend: In Puerto Montt is meer te doen “as wat ‘n vakansie dae het”. Dis trouens die hoofstad van Los Lagos, die Región X-provinsie, en jy sal heelwat anderlandse konsulate hier aantref. En salmboerdery is gróót hier. As jy lus is vir nóg seekos en graag by handwerkstalletjies rondsnuffel, maak ’n draai op die vissersdorpie Angelmó, net sowat 2 km wes. Dis ’n waterfront van dosyne seekos-restaurantjies wat nie jou beursie te veel sal skud nie.

Sjokolade in Bariloche
Bariloche is ’n móét, nie net vir sy Duits-Switserse sjokoladewinkels nie, maar as ’n toegangspoort tot Patagonië. San Carlos de Bariloche (of eenvoudig Bariloche) is naas Buenos Aires die gewildste bestemming in Argentinië. Die lokkrag lê in die talle buitelug-aktiwiteite, besigtigingstoere, bootvaarte, uitstekende restaurante en inkopie-geleenthede. Besoekers kan, ongeag die seisoen, dae lank hier deurbring. Die Nahuel Huapi-nasionale park en ’n meer met dieselfde naam omring Bariloche. Maar ten spyte van sy ligging het hierdie stad deur die jare van sy sjarme verloor. Weens ’n immergroeiende toerisme-bedryf, Argentyne wat naweke uit Buenos Aires ontvlug, en twee dekades van ongereguleerde ontwikkeling, is Bariloche nie meer die idilliese bergdorp van vroeër nie. Besoekers word soms oorweldig deur die hoeveelheid lelike woonstelgeboue, disko’s en hordes mense in die middedorp. Dis veral besig hier van middel Desember tot einde Februarie, en weer in die ski-seisoen in Julie. Buite die dorp is jy onmiddellik omring deur digte woude, silwerskoon mere, en sneeubedekte bergpieke wat maklik met die Alpe kan meeding. As jy smag na ’n stil vakansie, bespreek eerder buite die dorp, soos langs die pad na die Llao Llao-skiereiland.

Per boot deur die Andes
Vanaf Llao-Llao vertrek bote na Puerto Blest vir ’n voldagtoer. Dis hoogs aan te beveel. Die vaart lei deur tipiese fjords en digte plantegroei, bekend as die Valdiviese woude. Van Puerto Blest is ’n busrit na Laguna Frías, gevolg deur ’n bootrit na Puerto Frías, en dan weer terug na Puerto Blest. Die terugtog na Puerto Pañuelo sluit ’n stop in by die pragtige Los Cántaros-waterval. Daar is ’n restaurant in Puerto Blest, maar jy kan ook ’n piekniekmandjie saambring. Die boot klief feitlik heeldag deur die waters van die Nahuel Huapi-nasionale park. Die grootste trekpleister is ’n 3 500 m hoë onaktiewe vulkaan bekend as Tronador, oftewel “donder”. So genoem as gevolg van die geraas van die ys wanneer dit van hierdie Andes-piek tuimel. Maar die park is ook bekend vir die Nahuel Huapi-meer, wat deur gletsers gevorm word, en waterweë wat vergelyk word met dié in Suid-Patagonië en die fjords van Noorweë. Gedurende die wintermaande word die park se ander piek, Cerro Catedral, ’n gewilde ski-plek.

Suid-Amerika is vir baie Suid-Afrikaners nog grootliks ’n geslote boek. Maar juis hierin lê die lekker – jy verwag min, maar word ryklik beloon met baie.