mei06reisartikel1a
Reise

Verlore en verlief op Japan

As kinders het ek en my broer altyd gestaar na ’n swart roltapisserie in ons huis. Daarop was ’n goue tempel, koi-dam, houtbrug en ’n vrou in ’n kimono. “Waar sou die plek wees?” het hy altyd gevra.

Ek en my man haal ’n nagvlug van Londen na Tokio, Japan, plek van die prentjie op my ma se muur. Ons gaan kuier by Riaan Meyer, ’n jong Suid-Afrikaner wat by ’n internasionale finansieringsmaatskappy werk. Met Riaan daar is dié vakansie ’n ideale geleentheid om Japan te beleef saam met iemand wat min of meer die taal en kultuur verstaan. Die volgende oggend sit ons in ’n koffiewinkel en roer ons stomende Japannese café latte’s. Ons moet kafeïen inkry, want slaap was min en die vlugvoosheid (ons het 19 ure uit ons lewe verloor!) knaag lelik aan die ledemate. En die Japannese letters speel parte met my moeë oë. Riaan lag. “Die taal hou my op my tone. Japannese gebruik drie taalsisteme: Chinese karakters, wat hulle in Japannees uitspreek, ’n skrif (hiragana), wat jare gelede vir vroue ontwikkel is, asook ’n fonetiese taal (katakana) met leenwoorde uit ander tale, meestal Engels. Japannese is geweldig gemanierd, selfs in hul taalgebruik. ’n Mens kan byvoorbeeld nie ‘nee’ sê in Japannees, of vloek nie. As jy wil ‘nee’ sê, brei jy eerder uit oor die uitdaging van die versoek. As jy bestuur en kwaad word, is die beste wat jy kan uiter: ‘Wat doen daardie man nou?’” vertel hy met ’n glimlag.

 
Japannese is geweldig gemanierd, selfs in hul taalgebruik. ’n Mens kan byvoorbeeld nie ‘nee’ sê in Japannees, of vloek nie

 

Engels in Japan is ’n rariteit, al leer almal dit op skool. Later sou ons ons verkneukel oor die Engels. Op ’n spyskaart lees ons van ’n mixed fly (allegaartjie) en soup made of chef (sop van die dag). Die heerlike koffie is op en dis tyd vir ons eerste “besigtiging”. Riaan neem ons na Jojogi-park, waar ons monde oophang. Ons sien ’n kring Japannese mans, elkeen met ’n styfgespuite Elvis-kuif, rooi ruk-en-rol-leerbaadjie, swart broek en puntskoene beplak met maskeerband. Die Tokio hillbilly rockers in volle glorie! ’n Blêrkas dawer al die treffers van die sestigs uit. En die hillbillies ruk en rol (letterlik) op die growwe teerblad. Dié dat die skoene so geplak is!

Kaboeki en Kioto
’n Dag later ontmoet ons een van Riaan se vriende, Masaki Minami, wat ons na die Kaboeki-teater neem. Ons loop deur die strate van Ginza (plek van silwer) en verkyk ons aan al die eksklusiewe handelsname en duur winkels. Ek sien ’n spanspek vir R500 en 12 aarbeie vir R300! Kaboeki is die Japannese tradisionele teater. Die bedrywe wissel van antieke Japannese drama en dans tot moderne teater. Die kostuums, grimering, musiek, sang en dekor is ongelooflik. Die akteurs praat in hoë stemtone en die koor en orkes sit op die kant van die verhoog. Net tradisionele tromme, fluite en die sjamisen-kitaar word gebruik.

Masaki toer saam na Kioto, Nara en Hirosjima. Hy wil sy geboorteland as volwassene beleef en só word hy opsluit die toerleier en vertaler, ’n seëning. Hoe sal ons ons kos bestel as ons nie die karakters kan lees of uitspreek nie? Ons is stiptelik 6.30 vm. op Tokio-stasie, want Masaki is, soos sy landgenote, baie gesteld op tyd en treine is nóóit laat nie. Die bestemming is Kioto, antieke hoofstad van Japan, en ons bestyg die sjinkansen (sneltrein), wat teen 200 km/h ry. Tegnologie is oral. Ek dink aan derduisende munt-outomate op straat waar jy warm en koue drankies, óf warm kos soos hotdogs en skyfies, kan koop, óf die openbare toilette met warm sitplekke en ’n kontrolebord, waarmee jy verskillende waterspuite kan kies, lug kan uitsuig, en elektroniese waterklanke maak om jou eie klanke te verdoesel!

 

Die esdoringbome se winterkleed gloei oranje in die son teen die rooi tempels

 

Drie ure later en by ons bestemming trek ons die serpe styf om die nek. Die esdoringbome se winterkleed gloei oranje in die son teen die rooi tempels. Ons bewonder ook ’n goue tempel, Zen-tuine, bonsai, pagodes en waterpoele met tamaai koi. Selfs ’n kimono-modeparade verskyn in my dagboek. Teen sononder loop ons in Gion, ’n geslote deel van Kioto met tradisionele houtgeboue, waar geisjas nog werk. ’n Geisja se dienste is om gedigte te skryf en voor te lees, musiek te maak, mans met kos en drank te bedien, en daarna ander versoeke uit te voer . . . Ons sien drie geisjas verbyloop in hul geta-skoene (dit lyk soos plakkies op hakke). Hul gesigte is spierwit, die hare in ’n perfekte bolla met sierlike haarpenne, en die kimono’s glinster soos die toeriste se kameras flits . . .

Twee jong geisjas in Gion, Kioto se geisja-distrik.

So bad en eet hulle . . .
’n Aand later beleef ons ’n groot bederf. Ons twee “toerleiers” het ’n nag in ’n riokan (tradisionele Japannese hotel) bespreek. Die tuin is die ene Zen en die klippaadjie nat, ’n teken van verwelkoming. Reeds by die deur is dit skoene uit en pantoffels aan. Ons kamer is 5 x 5 tatami-matte groot (dit word nie in enkel- of dubbelgrootte bemark nie). Ná ’n amptelike groentee-seremonie word die presiese badtye in die gemeenskaplike badkamer bepaal. Die bad-ritueel is ’n groot avontuur. In die eerste vertrek trek ek en my man uit. In die badkamer sit ons op lae houtstoeltjies (my lang bene!) en begin natspuit vir ’n vale. Met die vloeibare seep op die waslap skrop ons ’n paar keer dat die skuim dik sit. Ore, neus en keel, hande, hakke en elmboë. Met die skuim weer afgespuit, klim ons in ’n reuse-sederhoutbad met vuurwarm water. En week die lywe tot ons vingerpunte pruime word. Ons trek die joekata’s (huisjasse) en pantoffels aan en gaan na die kamer, waar ’n feesmaal op die lae tafel voorgesit word. Ons plons neer op kussings en tel die stokkies op. Dis ’n tiengang-kaiseki-maal. Alles is in klein bakkies, maar geweldig vullend. Die kleur en vorm van die bakkie moet die kos kompleteer en die kos word soos ’n kunswerk aangebied. Ons smul aan neute en spinasie met sesamsaad, krapsop, sasjami-harder met radys, baba-tuna met spriet-uie, gebraaide aartappel, sjiitake-sampioen, bokwiet-noedels met vleisrepe, vissop (effe gomagtig), motsji (’n taai gluten-ryskoekie met harder-eierstokke), rys, en miso-sop (gemaak van gefermenteerde sojabone en seegras). Nagereg is peer en kiwi met kersie-sorbet. Die sake (ryswyn) word voorgesit met warm water en ’n souterige, ingelegde pruim, wat jy stukkend druk vir smaak. Vreemd, maar drinkbaar. Ná ete pak die gasvrou die tafel en kussings weg en rol die foetons uit.

Hirosjima
’n Paar dae later arriveer ons in Hirosjima en sien ’n blinknuwe, polsende stad. Asook die geraamte van die enigste gebou wat staande gebly het op 6 Augustus 1945 – die atoombomkoepel, wat destyds die Hirosjima Trading Centre was. Die gebou is bewaar ná drie restourasie-projekte. In die Vredesmuseum is gesmelte glas, verwronge metaal, ’n horlosie wat stilstaan op 8.15, die menslike skaduwee wat in ’n muur ingebrand is, ’n kosblik met verkoolde kos. Ook verhale van mense wat jare daarna nog aan allerhande kankers gely het. ’n Mens is skoon stil as jy uitstap. Maar nie vir lank nie. Ons eet fantastiese okonomijake (pannekoek-omelet) en drink koffie by mnr. Omoto, wat in Hirosjima gebore is en die bom oorleef het. Mnr. Omoto is nie kwaad vir die Amerikaners nie en glo hulle het die Japannese ook ’n guns gedoen. Die bomme het die lyding van onwillige Japannese soldate en gemartelde krygsgevangenes beëindig. Die mag van die keiser is gebreek en Japan het demokraties geword met ’n konstitusionele monargie. Van Hirosjima klim ons op die nozomi-trein, wat teen 300 km/h voortsnel. Flitsende beelde van ryslande en neonligte.

 

Die vis is murgsag, sappig, geurig – ongelooflik. Die geur en tekstuur is gewis baie beter as gaar vis

 

Terug in die hoofstad
Terug in Tokio smul ons aan dik en dun noedels, onderneem ’n daguitstappie na die berg Foedji, speel in ’n sneeu-neerslag, geniet elektroniese inkopies, eet seekatbolle in die ou deel van Tokio (Asakoesa), waai vir die keiser en slaan ons tande in soesji op die vismark genaamd Tsoekiji. Dis nege-uur in die oggend en ons teug al aan bier. Ons wil skaam voel, maar in Japan maak jy soos die Japannese. En almal drink lustig aan hul halfliters. Die kokke is baie behendig en entoesiasties. Wanneer klante inkom of uitgaan, word hulle hardop verwelkom en gegroet. Ons verluister en verkyk ons. Soesji is rou vis op ryskoekies (sasjami is net rou vis). Die rys word gegeur met asyn, wasabi (Japannese peperwortel), vars gemmerrepe en sojasous. Ons eet makriel, kammossels, tuna, garnaal, salm, salm-eiers, blokkies gebakte eier en maki (klein rolletjies met seegras, rys en tuna) en tongvis, wat effe gaar gemaak is met ’n gasvlam, voorgesit met ’n ryk, soet sojasous. Die vis is murgsag, sappig, geurig – ongelooflik. Die geur en tekstuur is gewis baie beter as gaar vis. Op Nuwejaar (net so belangrik soos Kersfees vir Christene) vat Riaan ons na Masaki se familie. Sy ma gesels aanmekaar – met Masaki wat vertaal – en is so beïndruk met ons drie Westerlinge (wat baie tale praat en in vreemde lande bly) dat sy ons elk twee kimono’s en ander geskenke in die hand stop. En ’n feesmaal voorsit.

Ek is tevrede. Nou het ek die tempels, houtbrûe en kimono’s (en soveel meer) op my ma se tapisserie intens beleef. Met elke sintuig. En die bonus? Dat my broer Riaan ons gids was. Hy wat eens gewonder het waar dié vreemde plek is, het Japan vir eers sy tuiste gemaak.