Reise

Viëtnam – land van die ‘hallo-kinders’

’n Paar dae voor haar vertrek kry ek dié e-pos: “Wel, alles is gefinaliseer . . . ek het gepraat met ’n gawe ou by die Viëtnamese ambassade. Hy kon nie eintlik praat nie, want hy is nie Engels magtig nie. Hy sal vir my ’n visum gee kort voor my vertrek volgende week. Die padkaart sal beskikbaar wees teen 68 000 dong (sowat R30) wanneer ek in Hanoi (Noordoos-Viëtnam) aankom. Soos jy weet, moet ’n mens baie aanpasbaar wees met dié soort reise, want dinge kan met ’n bang verander . . . ”

Sy was nog altyd gefassineer deur eksotiese plekke en hou daarvan om haar liggaam uit te daag. Toe besluit sy op dié Oosterse avontuur. En só haal Deirdre Holtzer, Johannesburgse grimeerkunstenaar en avonturier, ’n vliegtuig met haar ou aluminium-Vitus-padfiets met Hutchinson-bande. “Ek was totaal onfiks. Maar ek het al baie myle op my bene, soos ’n vier weke lange fietstoer van Nice, Frankryk, na die eiland Sicilië oor 2 650 km. Ek het geweet ek moet net vasbyt.” Met temperature van 38 °C tot 40 °C (en hemelhoë humiditeit) was Deirdre al soggens sesuur aan die trap. “Ek het nie langer as twaalf uur per dag gery nie en nooit ná donker nie. Soms was ek die enigste vrou in ’n streek. In sekere dele was geen verblyf nie. Dikwels was dit moeilik om water te kry en ’n mens het 6 tot 10 liter vloeistof per dag nodig, anders dehidreer jy. Gelukkig het ek meestal ’n windjie van agter gehad. Daar was soms geen padaanwysings nie. Ek hou daarvan om dinge wat ek aanpak te voltooi en wonder altyd of jy régtig van die spreekwoordelike ‘krans’ kan afval en ás jy kan, hoe ver kan jy dan nóg val . . .”

 

Ek weet nou nog nie hoe ek my pad deur die land gevind het nie

 

Sy beskryf Viëtnam as “die land van die hallo-kinders”. “Oral het klein kindertjies my ‘hallo, hallo’ gegroet as ek klein dorpies binnery. Soos ’n Afrika-trom wat jou aankoms aankondig.” Sy het gou besef: Viëtnam is ’n land van kontraste. “Baie Viëtnamese hou nie van toeriste nie en sal sommer weier om jou by ’n restaurant te bedien. Party vroue het my weer vasgedruk en al kon hulle nie Engels praat nie, sou hulle kommunikeer deur prentjies te teken. Ek weet nou nog nie hoe ek my pad deur die land gevind het nie. Die toeriste-atlas van Viëtnam is pateties.”

Die mense
Die meeste Viëtnamese is baie gesteld op persoonlike higiëne. Veral mani- en pedikure, die regte haarstyle, en oorskoonmaaksalonne word druk besoek. “Ironies genoeg, gooi hulle sonder om te skroom huis-vullis in die see of straat. Hulle maak rustige Zen-tuine, maar motorfietse maak ’n onaardige geraas en motoriste toeter onophoudelik in die verkeer. ’n Ligte velkleur is ’n statussimbool vir vroue. Mans word toegelaat om ’n sonbruin gelaat te hê.” Vroue se sonbeskerming werk só: Hulle dra ’n tradisionele of moderne hoed en ’n gesigmasker om die son uit te hou (nié weens besoedeling nie). Of ’n lang hemp met ’n serp, handskoene of ’n kortmouhemp met lang handskoene en sokkies. Jy kan net hul oë en ore sien. As jou vel lig is, beteken dit jy het ’n goeie beroep en dat jy in ’n kantoor met lugreëling werk. “Ek het opnuut besef: Daar is geen kuur vir menswees nie,” sê sy filosofies.

Terwyl Deirdre bedags gery het, het sy baie tyd gehad om te dink. “Fietsry is ’n vorm van meditasie. Die trap van die pedale kalmeer my. Dis gesond, jy kan stop wanneer jy wil. Dis eenvoudig, jy hoef nie aan te pas by lugdienste of treine en busse se roosters nie. Jy volg jou eie ritme.” Hoewel dit goedkoop vervoer is, stel dit heelwat eise. “Jy raak moeg, vuil en verdwaal. Jy het baie beskermengele nodig. En jy moet ‘op jou pedale’ kan dink en weet waar noord en suid is, en belangriker nog: Hoe om daar uit te kom!”

Hoewel Viëtnam baie vreedsaam lyk en geweldsmisdaad nie volop is nie, wou sy dit nie waag om met duur juweliersware rond te loop nie. “Die gemiddelde inkomste is sowat R420 per maand. Mense was besorg oor my as Westerse vrou wat dit waag om op haar eie te reis.” Sy sal nie sommer die “grusame” verkeer van dié land vergeet nie. “Die paaie is vreesaanjaend. Almal doen wat hulle wil. Padreëls word nie juis gevolg nie. Baie rook en praat op selfone terwyl hulle bestuur. Hulle steek mekaar sommer in die donker verby om draaie, sonder motorligte, terwyl voetgangers oor die pad loop. Jy hou jou hart vas.”

Glimp op die Verbode Pers Stad van Hue.

Die Viëtnamese ervaring
Sy het baie Boeddhistiese tempels, veral by Hoa Loe (naby Hanoi), en Katolieke kerke op haar reis gesien. “Verbasend genoeg is ek in my fietsryklere in die tempels toegelaat. Maar
ek was nie mal oor al die mense binne en die wierook nie.” Sy is dol oor die land se heerlike kos. Hoi An se geure bly haar nou nog by. Deirdre het teen sowat R100 ’n kookkursus gevolg. “Wát ’n prentjiemooi eeu oue Unesco-stad – en die sjef het Engels geleer, danksy BBC-programme.” In haar dagboek skryf sy by Hoi An: “Selfs die honde hier is vriendelik. Die mense is lieflik. Ek is só geseënd. Ek kan ’n maand hier bly.” Sy vertel ook van ’n eenvoudige ete op ’n straathoek by Phan Rang in die suide. “’n Maaltyd vir konings, spotgoedkoop! Rysnoedels, vark, geprosesseerde vleis, diepgebraaide ryspapier, rissiesous en ander atjarsmere berei met primitiewe kombuisgereedskap op ’n gasbraaier.

“Die laaste uur van elke dag is gewoonlik die ergste. Dis moeilik om verblyf te vind in ’n vreemde stad met swak kaarte. Jy dink menigmaal: Ag, asseblief, laat iets net nie verkeerd gaan nie, ek is amper daar. Gewoonlik het ek teen halfses koffie gedrink, iets geëet en die laaste skof aangepak.” Sy het soveel moontlik van die land ingeneem en onder meer gaan snorkel aan die suidelike kusgedeeltes soos Nha Trangh. “Daar is onbesoedelde strande en allerlei eksotiese visse, seekatte, skulpe en vir lafenis skemerkelkies by die seiljagklub,” vertel sy. “En moenie die strande van Qoei Nhon vergeet nie. Min toeriste en dierbare mense.” Deirdre raak toe selfs onbepland deel van die laaste fase van die Laos-Viëtnam-fietsren, waar die pad oor 50 km vir die fietsryers afgesper was. “Wát ’n wonderlike dag,” skryf sy in haar dagboek. “’n Oop pad.”

 

Daar is onbesoedelde strande en allerlei eksotiese visse, seekatte, skulpe en vir lafenis skemerkelkies by die seiljagklub

 

Die kameramanne wat die fietsren verfilm het, het haar die hele pad gevolg. ’n Kronkel-rit, afdraand deur groen teen koffieplantasies. En ’n fotograaf het foto’s geneem van haar in haar oudste kortbroek met gate in! Die volgende dag pryk sy toe in die plaaslike koerant met ’n onuitspreekbare naam.“Viëtnam het my geïnspireer. Die mense werk hard, die ekonomie floreer, hulle is só lief vir kleur. Almal is mal oor detail en bestee ure aan die bereiding van disse, aanbieding van geskenke, die ontwerp van geboue en tuine, die versorging van bonsai. Die armste mense probeer dinge mooi maak. Hulle is ontvanklik vir nuwe dinge. Dis wonderlik om te sien hoe hulle oud en nuut vermeng.”

In Sentraal-Viëtnam, met die heerlike rit van die skoon stad Hwe (’n gawe stad vol stokou mooigoed) na Hoi An, was sy veral beïndruk deur die stilte en mooi natuurskoon. Die laaste dag van haar toer het sy Saigon (Ho Sji Minh) binnegery – per bus. “Sowat 80 km voor Saigon het ek baie bang begin raak vir die mal verkeer en besluit om ’n huurmotor te kry na die busterminus. Ek wou eerder bly leef as om ’n punt te bewys. Van daar het ek ’n bus geneem na my hotel. Fiets op die bus. Sónder angs.” Een van haar eerste e-posse voor die reis was: “Ek dink dis een van die kranksinnigste dinge wat ek nóg beplan het.” Haar laaste dagboekinskrywing bevestig dit: “Dit was waarskynlik die heel gevaarlikste ding wat ek nog ooit gedoen het.”

Maar die ewige avonturier in haar rus nie. Deirdre maak klaar weer planne vir haar volgende uitdaging: Die sy-roete – 9 000 km deur die Midde-Ooste en China. Oor gebergtes en deur woestyne. “Dit sal bepaal hoe sterk en aanpasbaar ek werklik is. Dit gaan ’n harde, meedoënlose roete wees en ek sal elke stap fyn moet beplan.”

Deirdre se wenke

  • ’n Bergfiets is beter as ’n padfiets. Paaie is nie watwonders nie.
  • Medisynekissie: Inenting teen malaria en hepatitis A (nie verpligtend nie, maar raadsaam), Zam-Buk-salf (saalsere), sonblok, antiseptiese wasmiddel, Immodium (diarree), teeboomolie (anti-inflammatoriese olie vir jeukplekke).
  • Koste: Vliegkaartjie (sowat R10 000), R500 (visa), sowat R3 000 (verblyf, kos en vermaak). Onderhandel oor pryse.
  • Eerbiedig landswette – die kommunistiese regering is streng.
  • Vermy kraanwater.
  • Steek strate oor op die plaaslike manier – moenie links of regs kyk nie, stap net.
  • Wees geduldig.
  • Pak in: 2 fietsrybroeke en -hemde, -skoene, reënbaadjie, helm, fietsgereedskap, swembroek, sarongs. Die res kan jy daar koop. Dis billik.

Viëtnamese ambassade (Pretoria), 012 362 8119.