Reise

Wageningen, Nederland

Waar woon julle?
In Wageningen, ‘n klein dorpie in die ooste.

Hoekom is julle uit SA weg?
Ons het verhuis toe my kêrel, Joe, verplaas is na sy maatskappy se Nederlandse kantoor.

Wat doen julle daar?
Joe is ‘n chemiese ingenieur. Ek was voorheen kreatiewe hoof by ‘n advertensie-agentskap,maar werk nou van die huis af as kopieskrywer en radio-konsultant.

Was die weer ‘n aanpassing?
Aanvanklik, ja. Ons het hier aangekom in die middel van die koudste winter in 12 jaar. Die Nederlanders was in ekstase – uiteindelik kon hulle weer skaats op natuurlike ys. Ons was minder ingenome. Niks van my klere of skoene was geskik vir ys, sneeu en temperature onder vriespunt nie. ‘n Nuttige verskoning om ‘n nuwe klerekas aan te skaf!

Moes julle Nederlands leer praat?
‘n Mens kom goed oor die weg met Engels en Afrikaans. As Afrikaanssprekendes verstaan ons byna 90% van die woordeskat. Maar die sinskonstruksies, verlede en toekomstige tyd, besitlike naamwoorde en spelling is heeltemal anders. Verder vind die meeste Nederlanders my aksent en uitspraak vreemd en nogal grappig. Ons het besluit om grammaties korrekte Nederlands te leer praat en is besig met klasse. Dis ‘n moeilike taal om te leer, maar mooi met fantastiese beskrywende woorde, soos byvoorbeeld rotjonges (jong seuns wat in groepe rondhang en moles maak) en tussendoortje (‘n happie tussen maaltye).

Lekkerste ding wat julle al daar gedoen het?
Dis maklik en taamlik goedkoop om die wêreld van hier af te verken. Verder gee Nederlandse maatskappye hul werknemers tot 40 dae verlof per jaar. Meer as genoeg tyd om vakansie te hou. Begin vanjaar het ons ook besluit om saam met 10 000 Nederlanders die Nieuwjaarsduik by Scheveningen te doen. Groot pret, al was ons potblou van die koue.

Verskil jul leefwyse van waaraan julle in SA gewoond was?
Dis baie anders as in SA.Om die huiswerk self te doen is nogal ‘n aanpassing; jy besef vinnig dat die stoffies op die vensterbank niemand rêrig pla nie. In SA is mense bederf met lang sonskyndae, baie ruimte en dinge soos taamlik goedkoop uiteet. Hier is nie sulke luukshede nie. Om uit te eet is ontsettend duur. Om ‘n fliek te gaan kyk kos R100 per kaartjie en daar word geen springmielies verkoop nie! Maar daar’s ook positiewe veranderinge, soos dat ons nou een kar tussen die twee van ons het. Een van ons is dus altyd op ‘n fiets. Ons lei ‘n baie gesonder lewe. Ons herwin, ons koop bewus, ons is aktief en ons het meer vrye tyd, want dis dinge wat vir Nederlanders belangrik is. Ongelukkig is ons ook baie meer afgesonderd sonder ons vriende en families.

Lekkerste eetgoed daar?
Soetgoed en melkprodukte. Sjokolade-vla en zoute drop is groot gunstelinge. Ná inkopies op die mark is daar niks beters as warm kibbeling met puntzak frites (vis en skyfies) nie.

Sal julle terugkom SA toe?
Sekerlik. Dis waar ons mense is.

Ons sien die pragtigste dekorgoed in Nederlandse tydskrifte. Is dit regtig so mooi en modern?
Dekor en ontwerp is uitnemend hier. Baie van die dekor het sterk Skandinawiese invloede met reguit lyne, minimalisme en unieke ontwerpe. Selfs die mees alledaagse gebruiksartikels word interessant ontwerp, met die oog op benutting van ruimte. Nederlanders hou maar eenmaal van mooi goed – byna soveel as wat hulle daarvan hou om ou goed op te gaar en te versamel.

Wat mis julle die meeste?
SA se diens is van uitstaande gehalte vergeleke met wat ons al hier ervaar het. Nederlanders is oor die algemeen ook baie privaat, en spontane gesprekke met vreemdelinge is raar.