sr1003kuberkuier_4_
Reise

Katinka Boer e-pos uit Waterdown, Kanada

Waar woon julle?
Waterdown is ‘n uur se ry met die trein van Toronto af. Dis in Ontario, die Kanadese provinsie met die meeste inwoners. Dis ‘n regte plaasdorpie. Ons het aanvanklik by vriende hier kom afpak en só baie van die dorp gehou dat ons hier ‘n huis gekoop het. In die winter word dit ‘n sneeu-sprokie.

Watter werk doen julle?
My man, Johan, is ‘n ouditeur en werk by die ouditeurgeneraal van Ontario. Ek werk as ‘n parajuris by ‘n prokureursfirma in Toronto. Ons oudste seun, Jan (19), is ‘n student. Christo (18) en Jamien (14), ons dogter, is op hoërskool. Hannes (11) is op laerskool en is mal oor buite wees. Ek moet hom dwing om in te kom.

Hou julle van die weer daar?
Ons was baie benoud oor die winter en het al ‘n ysige minus 29 beleef. Die regte klere vir buite is natuurlik die antwoord en hier is oral sentrale verhitting.

Jou grootste aanpassing?
Het jy gedink Engels is Engels? Dink weer. Ek het myself al lekker vasgeloop. Lift is elevator, petrol is gas, gas is propane, en tissues is kleenex. Ons SA humor kan nie eens in ons beste Engels oorgedra word nie, al probeer jy hoe hard. Ons aksent klink vir hulle Australies. Die Afrikaanse spelling en uitspraak van ons vanne is ‘n groot bron van humor. Niemand kan “Boer” uitspreek nie en ons is nou “Boor”. Ek lag oor die uitspraak van “muis”, “Koekemoer”, ens. Kanada werk in onse en ponde, voete en elle. Ek is aanmekaar verlore, want ek het grootgeword met die metrieke stelsel.

Daar is blykbaar baie reëls en regulasies?
Hier’s ‘n wet vir elke ding. Kinders mag nie kaalvoet loop nie en ook nie boomklim nie. Hoe vertel ‘n mens dít vir ‘n SA kind? Jy moet jou sypaadjie skoonskraap vir almal se gebruik. Jy moet jou vullis sorteer en in verskillende asblikke gooi. Jy moet aan die regterkant van die trappe of roltrappe beweeg vir dié wat links verby hou. As jy vinniger as die snelheidsperk van 50 km/h ry, word jy geklassifiseer as ‘n renjaer en jy verloor jou lisensie en jou kar word vernietig.

Hoe ontspan julle?
Ons ontspan in die winter in die hot tub. Somers braai ons soos dit ware Suid-Afrikaners betaam. Ons stap graag en is ywerige kampeerders. In die winter ry ons rond, besoek interessante dorpies, speel speletjies met die kinders. Die kinders gaan ysskaats en dan fliek ons.

Mis julle SA?
Ja, die mooi land, die berge, dale, vlaktes en ander ooptes, die wildlewe. Ja, ook familie en geliefdes. Ek mis Afrikaans. Ek mis die Kaap en Afrika-musiek en -geluide. Maar daar is ook ‘n nee. Ons mis nie die gejaagdheid van SA nie. Hier is balans in die lewe.

Die mooiste van Kanada?
Die omgee van mense. Ek is verlede jaar met kolonkanker gediagnoseer. Almal by die werk, die ouers van my kinders se skoolvriende en my kerk het hul arms wyd oopgemaak om ons te help. Kosmaak, wasgoed was, huis skoonmaak, geldelik asook emosioneel. Ek is versorg totdat ek weer kon werk. My werk is vir my behou en ek kon terugkom nadat my onkoloog my gesond verklaar het.