dsc00906
Reise

Alta Labuschagne vertel uit Wene, Oostenryk

Vertel meer van Wene se kultuur.
Dis die wêreldstad van klassieke musiek en almal is geweldig kultuurvas. Klassieke musiek word daagliks by verskillende konsertsale aangebied. Hier is ook baie kerke en museums. Alles word bewaar en in stand gehou. Die Sint Stefanskerk in die middel van die stad is die bekendste. Dis gebou in die jaar 1137. Daar is elke Sondag dienste en die kerk is regdeur die week oop vir besoekers.

Hoe is die mense se leefwyse?
Hulle is baie gesondheidsbewus en stap baie. Dis nie soos in Suid-Afrika waar elke huisgesin ‘n motor of twee besit nie. Die helfte van die mense het nie motors nie en gebruik openbare vervoer. Ons woonplek is in die Grinzing-distrik van Wene wat grens aan die Weense woud, waar mense tot laat saans stap. Dis niks vreemds om mense wat met kieries loop te sien inkopies doen en terugstap huis toe nie. Wat wel baie vreemd is vir my, is dat jy ‘n tee vir elke kwaal kry.

Wanneer jy dokter toe gaan, kom jy met ‘n voorskrif vir ‘n tee daaruit en nie vir antibiotika nie. Hulle is baie gekant teen antibiotika en jy moet baie siek wees voor jy dit sal kry. Mense drink ook baie water. Saam met elke koppie koffie kry jy ‘n glas water en saam met elke ete ‘n kraffie water op die tafel.

En hulle herwin. In elke straat is groot asblikke vir: wit glas, bont glas, plastiek en papier. In elke huis is ‘n asblik vir jou kombuisafval en een vir tuinafval (bio).

Huisvesting is gewoonlik in apartments. Bitter min mense het huise hier, net die baie rykes. Hier is ook glad nie meubelwinkels met vertoonlokale nie – ruimte daarvoor bestaan net nie. ‘n Mens kies uit ‘n katalogus wat jy wil hê en dan word dit vir jou gemaak. Ons moes agt weke wag vir ‘n dubbelbed. (Hulle ken net enkelbeddens!)

Saam met wie is jy daar?
My man, Henko, en my dogter, Claudine, wat in Suid-Afrika in ‘n ernstige motorongeluk was en nou sorgafhanklik is. Ons is diplomate wat vir vier jaar buitelandse diens doen.

Was dit maklik om daar te gaan woon?
Nee, maar dis ‘n pragtige land met ‘n uitstekende openbare vervoerstelsel (bus, trein en trem) en veilig. In die begin was dit baie moeilik om die linkerhandstuur gewoond te raak, asook die smal straatjies. ‘n Mens is verlore as jy nie Duits kan praat nie. Weinig mense hier praat Engels.

Lewenskoste?
Duurder as in Suid-Afrika.

Hoe ontspan julle?
Wene is bekend vir sy koffie. Daarom het ons altyd ‘n verskoning om te gaan rondstap en dan iewers by ‘n mooi koffieplek te stop. Ons ry graag rond en verken die land. Ons is lief vir die natuur en wanneer ons kan, gaan ons Salzburg toe om by die Alpe te wees.

Het jy maklik vriende gemaak?
Ongelukkig nie. Die mense maak nie maklik vriende nie. Wanneer jy byvoorbeeld in ‘n trein of trem ry en die mense op die bankie oorkant jou groet, kyk hulle dadelik anderpad.
Dis vir ons baie snaaks, want dis die teenoorgestelde wanneer jy by ‘n winkel instap – jy moet onmiddellik groet, en die verkoopsmense sal jou teruggroet.

Wat mis jy?
Ek mis Suid-Afrika! En ons familie en vriende, ons taal, ons kos, ons breë paaie, ons winkelsentrums en natuurlik die son en see.