Windplase en lande by Bloomington.

Reise

Yvonnel du Toit oor haar lewe in Bloomington, Illinois, Amerika.

Yvonnel du Toit het Bloomington toe verhuis, sodat haar oudste dogter en haar gesin nie alleen moet wees in die vreemde nie.

Waar woon jy?
Bloomington is in die middel van die staat Illinois so 3 ure suid van Chicago af. My woonstel is in ʼn blok wat in 1919 gebou is in die middestad van Bloomington. Hier kronkel ʼn staproete deur die stad,  veilig en rustig vir stappers, drawwers en fietse.  Die gemeenskap maak tuin langs dié roete en daar’s waterpunte en afdakke vir ʼn blaaskansie. Hier’s twee univerisiteite, twee hospitaalgroepe, klinieke, verskeie kolleges en sentrums vir kuns en ontspanning. Die lughawe hanteer ongeveer 300 000 passasiers per jaar.

Voor my woonstel.

Voor my woonstel.

Waarom is jy soontoe en wat doen jy daar?
My oudste dogter, Ironette, en haar gesin woon van 2002 hier. Sy is getroud met Keith Marshall en het twee kinders, Megan (13) en Nicholas (8). Ironette het my aansoek om hier te kom woon en werk gehanteer en ek is in besit van my Groenkaart. Ek het besluit om te kom, omdat ek gedink dit sal goed wees as hulle nog ʼn familielid in Amerika het. Ek is ʼn ontvangsdame by ʼn mediese sentrum, Die Orde van St. Francis, ʼn  nie-winsgewende groep met hospitale en klinieke verspreid in die middel van die staat Illinois.

Ironette, Nicholas, Megan en Keith.

Ironette, Nicholas, Megan en Keith.

Is dit maklik om oor die weg te kom daar?
Baie gesegdes en daaglikse benodighede is anders en ek moet soms fyn luister om te verstaan wat die mense sê. Dit het nogal ʼn tydjie geneem om my voete te vind in die kruidenierswinkels. Die rye is lank, en hier is soveel snoeperye om aan te peusel. Dit veroorsaak ook dat die mense baie oorgewig is. My lewe begin nou makliker raak en sover is almal goedgesind teenoor my. Ek het heelwat nuwe dinge geleer en Amerika is baie tegnies en sover werk alles. Hier kan jy sommer jou hele geskiedenis kry deur jou selnommer of die laaste vier syfers van jou ID-nommer.

Op Foodnetwork in SA lyk dit altyd of die keuse van restaurante reusagtig is en of dit geriefliker is om elke dag by een te eet. Is dit ʼn wanpersepsie?
Die waarnemings is korrek en dit veroorsaak dat baie Amerikaners so oorgewig is. Dié land is blykbaar nou derde op die lys van die vetste nasies in die wêreld. Almal ry hier outomatiese karre en  hoef  by baie plekke nie eers uit te klim nie. Mens kan deurry by meeste van die restaurante, apteke, banke en droogskoonmakers.

Besig om wol te kies.

Besig om wol te kies.

Het jy stokperdjies?
Ek het by ʼn breigroep aangesluit. Ek geniet dit regtig baie. Ons kom Dinsdagaande bymekaar in ʼn wolwinkel en koop wol, klets en brei. Die breipatrone en ontwerpers in Amerika is oneindig.Verder knap ek my Hebreeus en Duits op. Ek wil later ook Spaans leer, want daar is tog ‘n behoefte daarvoor. Dit sal my help om met nog meer mense te kan kommunikeer.

Saam met die breigroep by Village Stitches.

Saam met die breigroep by Village Stitches.

As jy raad aan iemand kan gee wat daar wil gaan woon, wat sal dit wees?
Dis moeilik om raad te gee en ek dink die besluit om te emigreer moet met baie erns oorweeg word. Kry vriende en familie bymekaar om dit te bespreek. Bekom ook soveel inligting as wat jy kan voor die tyd. Daar moet ook ʼn netwerk aan die anderkant wees, wat sal help dat die aanpassing aanvanklik makliker gaan wees.

Die mooi wandelroete.

Die mooi wandelroete.

Yvonnel du Toit

Yvonnel du Toit

Wat mis jy die meeste?
Alhoewel ek baie interessante mense ontmoet het deur my kerk en werk, verlang ek tog huis toe. Ek mis my land en sy mense! My ander kinders wat agtergebly het, familie, vriende en my naeltegnikus. Hier behoort die meeste salonne aan Vietnamese en die taal is nogal ʼn probleem. Dan natuurlik Woolworths, Truworths en ʼn teetuin waar ek kan tee drink en koek eet. Suid-Afrika is klein, maar spesiaal.