you_dont_have_to_say_you_love_me
Lewe + Liefdes

Top 5: Romantiese verhale

Die week het ek ‘n klompie boeke met liefde en romanse as tema gekies. Soos dit in die lewe gaan, is teleurstellings en pyn soms ook deel van die liefde. Die klompie karakters in die verhale beleef op hul eie manier liefde. Vir party is dit die band tussen vriendinne, vir ander ‘n speel-speel verhouding wat nie so bly nie, natuurlik is daar ook familieliefde. Ek hoop julle verdwaal so ‘n bietjie in die wonderwêreld van liefde wanneer julle die verhale lees.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel te besoek om van die boeke aanlyn teen afslagpryse te bestel.

You don’t have to say you love me, Sarra Manning (Corgi Books, R115)

Neve is die lelike eendjie in die verhaal en haar sussie Celia is die swaan, volgens Neve natuurlik. Neve se hele lewe draai daarom om ook die swaan te word. Sy wil haarself transformeer sodat William (haar studenteliefde) wat in Amerika studeer, malverlief op haar sal raak wanneer hy terugkom Engeland toe en haar onmiddellik om die hals val en vra om te trou. In hierdie transformasieproses wil sy sommer terselfdertyd ondervinding oor verhoudings opdoen. So, sy soek na ‘n jong man op wie sy kan oefen hoe om in ‘n verhouding op te tree, maar hy mag nie ernstig oor haar raak of eise stel waaraan sy nie wil voldoen nie, want sy spaar haarself vir William. Dis seker ‘n slim plannetjie, maar soos almal weet, werk dit mos nooit soos jy wil hê dit moet nie. Max is die vlieg in die salf. Hy is die perfekte kandidaat vir Neve – nie verbind tot ernstige verhoudings nie en hy is pret om mee uit te gaan. Haar prioriteite verander egter en sy kom tot ander insigte, maar wat nou gemaak? Dit klink na ‘n baie ligsinnige boek, maar dit is nie. Manning raak ‘n hele klomp goed aan wat baie jong vrouens se dilemma is – gewig, verhoudings, onrealistiese verwagtinge en liefde. Die verhaal is vermaaklik, en tog diep genoeg dat jy voel jy het iets uit Neve se storie geleer. En die boek is glad nie stroperig of prekerig nie. ‘n Genotvolle lees!

Players

Players, Karen Swan (Pan Books, R115)
Tor, Cress en Kate is al vir jare beste vriendinne.  Hulle is al deur dik en dun saam – huwelike, kinders en loopbane.  Wanneer Harry, ‘n bekende vabond-skrywer op sy unieke manier deel word van elkeen van hul lewens, toets dit die vroue en hul vriendskap tot die uiterste.

Harry met sy seepgladde mond en suave maniere is ‘n karakter wat elke vrou se hare laat rys. Die genot van die boek sit daarin om uit te vind of Harry uiteindelik terugkry wat hy uitdeel. Die drie vrouekarakters is sterk, moderne vroue met wie die leser maklik identifiseer.

Hierdie is ligte vermaak, wat ‘n mens sommer in ‘n naweek van lekkerlees kan kafdraf.  Players is Karen Swan se debuutroman.  – Marick Hornsveld

Savour the Moment

Savour the Moment, Nora Roberts (Piatkus Books, R125)

Daar is ’n resep wanneer dit kom by ’n voelgoed-roman. Dié dat dit so maklik ’n cliché kan wees. Nora Roberts stel egter nooit teleur nie. Met elke boek kry sy dit reg om op een of ander wyse die resep so ‘n bietjie aan te pas om steeds dieselfde lekkerkry-gevoel by lesers te ontlok.

 In die derde boek van haar Bride Quartet-reeks, is Roberts op haar beste. Een van vier vriendinne wat ’n troubeplanner-besigheid het, is aan die beurt met liefde vind, dié in die vorm van een van die ander vriendinne se broer wat sy al jare ken. In ’n afwyking van die norm (die toekomstige skoonma wat inmeng met ’n paartjie se sake) veroorsaak een van die ander vriendinne se ma’s moeilikheid tussen die twee hoofkarakters. Enige Nora Roberts-aanhanger sal egter weet dat ’n goeie einde steeds in sig is. – Liesl du Toit

Spin the Bottle

Spin the Bottle, Monica  McInerney (Pan Books, R119)
Hierdie is ‘n boek vir ‘n vakansie of ‘n vliegrit, mens kan dit nie neersit as jy eers begin lees nie. McInerney se karakters word binne die eerste hoofstuk kennisse; almal ken mense soos dié in Larney Byrne se gesin en in hierdie gesin is daar meer as genoeg drama.

Haar lewe in Australië verander in ‘n japtrap wanneer ‘n nuwe testament gevind word na haar tante onverwags in Ierland sterf. Iemand moet die oorledene se B&B in Meath vir ‘n jaar gaan bestuur voor Larney se sukkelende ouers in Melbourne dit kan erf en die enigste een wat dit moontlik kan doen, is Larney.

Maar sy’t ‘n loopbaan en ‘n kêrel daar onder en haar geboorteland, Ierland, is net ‘n vae herinnering. Boonop hou sy nie van huiswerk nie, kan nie juis kosmaak nie en is ‘n stadsmeisie wat ontwerpersklere dra.

Dis  ‘n komiese romantiese verhaal wat jou dalk laat besluit dat Ierland jou volgende vakansiebestemming is.  – Susan Puren

The Choice

The choice,  Susan Lewis  (Arrow Books, R115)

Lewis pak ‘n baie moeilike onderwerp na aan die hart van elke ma aan.

Nikki  gaan vertel haar ouers van haar onbeplande swangerskap. As enigste kind van snobistiese ouers met ‘n konserwatiewe lewensuitkyk verwag sy teenkanting, maar nie soveel afkeur dat hulle finaal uitmekaardryf nie. Die lojaliteit en ondersteuning van Spence en sy vriende maak dit vir haar makliker, selfs wanneer sy so dikwels deur die jaloerse Kristin verneder word. Sy vind gelukkig baat by die vriendskap van ‘n moederlike mevrou Adani.

Nikki word met die wrede werklikheid gekonfronteer wanneer Spence se beroep hom aanvanklik van haar wegneem. Haar eie drome moet eers eenkant gestoot word, dink sy aanvanklik.

Wanneer Zac eers gebore word, en die skokgebeure Nikki later met wrede aantygings konfronteer, verdonker die trant van die verhaal. Haar en Spence se verhouding word getoets en die vraag is hoe hulle anderkant sal uitkom.  – Mariette Postma

  • Celine

    julle het middel Mei ‘n boek geadverteer. Die storielyn het oulik geklink – en ek kan vir die dood nie onthou wat die boek se naam was nie. Die storie handel oor ‘n vrou wie se man op sy eie met vakansie gaan. Hy’t nodig om weg te kom van al die stres ens ens. Hy verdwyn egter, en almal dink hy is dood, maar 15 jaar later kruis hul paaie weer..

    Ek weet ek gooi ‘n klip in die bos, maar kan julle my moontlik help om die naam van die boek op te spoor?

    Groetnis
    Celine