srstockandre1
Rubrieke - André le Roux

André le Roux: Die ding met lysies

Jy wonder al tien jaar lank wat dit is met vroue en hul lysies. Daarsonder is ’n vrou reddeloos verlore, sy’t niks om aan vas te hou nie. In die supermark, wat sy soos die palm van haar hand ken, is sy skielik rigtingloos.

“Waar’s my lysie? A, hier!” En sy kan voortgaan met haar lewe, in beheer van elke item in die trollie.

Mans verstaan dit. ’n Inkopielysie is daar om haar te help onthou. Dis ’n inventaris. Dis ’n register. Dis soos die stand van die nasie. Sy hou dit op een van twee plekke in die huis waar sy gereeld kom – teen die yskas of langs die telefoon.

As jy wil weet wat’s op in die huis, kyk net op die lysie. As dit nié op die lysie is nie, beteken dit dis nie op nie, of dis nie nodig nie. Dit kan ’n vrou ietwat skuldig laat voel as sy iets van die winkelrak afhaal wat nie op die lysie is nie. Dit sou tog op die lysie gewees het as dit nodig was?

“Hoekom het jy nie vir my gesê die fish paste is op nie? Nou sit ons sonder fish paste, want dit was nie op die lysie nie.”

Dis omdat mans hulle nie steur aan lysies nie, dan kom hulle met die verkeerde goed by die huis aan of sê o, die winkel het nie daarvan gehad nie.

Die vroegste inkopielys van ’n soldaat uit die Romeinse tyd, 75 – 125 n.C., is in noord-Engeland ontdek, met waks op hout geskryf. Natuurlik het sy vrou dit vir hom in die hand gestop.
“Terwyl jy nou gaan oorlog maak, kry sommer vir ons . . .”

Twintig hoenders, 100 appels (“as jy mooies kan vind”), so 100 of 200 eiers (“net as die prys reg is!”). Hel, hoeveel kinders het hulle gehad?

‘n Hedendaagse inkopielys het ’n tweeling, ’n maat. En dis wat mans nie verstaan nie . . . daardie alombekende om-te-doen-lysie.

Dié hou sy nie teen die yskas of by die telefoon nie. Dit kom op ’n aparte stuk papier of in ’n boek, wat albei verlê kan word. Dan moet sy ongelukkig wéér die om-te-doen-lysie saamstel, wat beteken sy vergeet dalk een of twee goed. (“Was daar nie nog iets nie? Ek is seker daar was nog iets? Linnekas regpak? Nee, ek is seker dit was iets anders.”)

(Mans, daarenteen, doen ’n ding of laat staan ’n ding. Dis dan nou maar tot daarnatoe . . . sonder ’n lysie.)

Hier’s die ding wat jy ná tien jaar van lysies agtergekom het: Die om-te-doen-lysie is eintlik ’n uitstel-lysie.

Dis goed wat gedoen moet word, ja, maar sê net nie wanneer nie. As dit dringend was, sou sy dit nie op die lysie gesit het nie, sy sou dit net gedoen het, dan nie? En soms vat dit haar langer om iets op die lysie te sit as wat dit haar sou gevat het om dit net te doen. Maar noudat dit op die lysie is, kan dit mos maar wag . . . Waarom iets vandag doen as jy dit môre kan doen?

Uitgestel, dis wat.

“Ek sien werklik nie nou kans vir daardie bokse vol skoene nie, dis té deurmekaar. En daardie kombers wat gewas moet word, is weliswaar heel bo-aan die lysie, maar kyk nou hoe lyk die weer. Hierdie winter hou nou te lank aan. O, ja, dit herinner my, ek moet vir my ’n paar nuwe pantoffels loop soek.”

Omdat die lysie gewoonlik van belangrik tot minder belangrik gerangskik is – fyn uitgewerk, netjies gebalanseer – kan so ’n kombers die uitvoering van die res van die lysie as ’t ware blokkeer.

En sy moet noodgedwonge weer uitstel.

Ondertussen raak die lysie, met die pantoffels heel onderaan, net onder die skoene, weg . . .

“Het jy my lysie gesien? Nou moet ek van voor af begin!”

Die pantoffels beland dié keer bo-aan die lysie, die kombers is glad nie op nie. En toe sy klaar is – weer in beheer van die wêreld en die winter – waag jy dit om te vra:

“Pssst … is ek op jou lysie? Dis al lente . . .”