hoofboek_andre_bigx
Rubrieke - André le Roux

André le Roux: “Vroue gaan winkels toe oor hul hormone”

Jy begin verstaan hoekom vroue so maklik winkels toe gaan. Dis nie hulle nie, dis hul hormone.

En dit werk glo só: Sy gaan koop ’n langbroek, skoene of iets en kom by die huis aan met die langbroek, skoene of iets – én ’n glimlag. Haar heupe huppel vanself. Sy voel beter al het sy nie sleg gevoel om mee te begin nie. Dis soos hormone werk. “Inkopies doen net iets aan ’n vrou,” erken sy. “Jy moet dit ’n slag probeer.”

Britse navorsing het dit bevestig: In die tien dae voor menstruasie koop vroue dikwels onnodig, onoordeelkundig en impulsief. Hulle kan dit nie help nie. Die navorsers reken dis ’n manier om hul hormone te stabiliseer, stres te hanteer en sommer net beter te voel oor die algemene stand van die lewe. Dis ’n
emosionele reaksie op vroulike estrogeen en progesteroon.

“Dankie tog vir my hormone,” sê sy. “Daarsonder sou ek seker heeldag by die huis gesit het.”

Dis ook die tyd dat jy liewer nie moet skoor soek met haar koopgewoontes nie. Wag tot die tien dae verby is voor jy vra: “Het jy werklik daardie paar skoene nodig?” “Seker nie,” sal sy antwoord. “Maar dis geen rede om nié die skoene te koop nie, nè?”

Sy sê dit asof sy trots is op hierdie hormonale argument (en op haar nuwe skoene, wat sal pas by die rok wat sy verlede maand dié tyd gekoop het, maar nog nie gedra het nie omdat sy toe nog nie skoene gehad het wat daarby pas nie).

Die navorsers sê dit nou nie, maar jy’s seker dis testosteroon wat maak dat mans wil veg-of-vlug wanneer hulle in ’n winkel kom. Hulle loop en kyk nie na alles op pad in of uit nie. Hulle is op pad. “Dis dan ook ’n hormonale ding vir mans . . .” lei sy af. Sy mis heeltemal die punt, maar jy sê: “As jy dus wil spaar, sal dit beter wees om winkels toe te gaan wanneer jou hormone nie so deurmekaar is nie.”

“Wie’t gesê ek wil spaar?” vra sy vinnig. “Dis Krismis!” Jy antwoord so stadig dat jy op die ou end niks sê nie. Dis beter so, want jy wil haar nie emosioneel ontstel of haar hormone per ongeluk herrangskik nie, netnou gaan sy winkels toe en koop nousluitende klere.

Amerikaanse navorsers het sommer nou die dag agtergekom wanneer ’n vrou op haar vrugbaarste is, koop sy (onbewustelik) nousluitende klere – dus sexy. Die bypassende verduideliking: Sy doen dit wanneer daar aantreklike vroue – dus kompetisie – in die nabyheid is. Sy wil eerste raakgesien word deur ’n potensiële maat. “Ek sien jou duidelik!” sê jy. “Hoe hou jy van my potensiaal?” Die navorsers het vroue in verskillende stadiums van hul menstruele siklus foto’s van aantreklike vroue gewys. Toe moes hulle kies watter klere en bykomstighede hulle sal koop. En siedaar: Vroue wat ovuleer, kies die nousluitende, sexy klere omuit te staan, terwyl hulle nie gebodder is deur foto’s van onaantreklike vroue nie, of van vroue wat ver is, minstens 1 600 km ver. (Geen bedreiging nie, sien?)

Hulle wou aantrekliker wees, begeerliker omdat hulle op hul vrugbaarste is. Jy sê dit maak vir jou nogal sin. Wag, wag, wat gebeur nou hier? Dit moet aansteeklik wees, want skielik voel jy self so . . . hoe sal jy nou sê? So hormonaal?

*Volgende maand: “Men buy, women shop”.