Rubrieke - André le Roux

André le Roux: ‘Kry só meer tyd in jou dag’ WENK #12

Dis baie meer subtiel … ’n minuut hier, twee minute daar. Teen die einde van die dag is dit ’n uur.

[box:full:grey:both]

Noem dit die 13 Reëls van Vinnige Tydbesparing:

[/box]

  • WENK # 1 Knip jou eie storie kort. (“Wat bedoel jy?”) Dit sal moed en aanpassing verg, maar dit kan gedoen word – laat net onnodige detail uit. (“Álle detail is nodig!”)
  • WENK # 2 Moenie als wil verduidelik nie. Jy’t gedoen wat jy gedoen het. Dis klaar gedoen. Los die verduidelikings oor hoekom en waarom en hoe en presies wanneer. Dit mors net tyd en asem. (“Ek sê mos maar net …”)
  • WENK  # 3 Moenie jou bekommer oor goed waaraan jy niks kan doen nie. (“Sê nou die petrolprys gaan wéér op?”) Dit werk só, verduidelik jy: Jy sal moet een keer winkel toe ry pleks van twee keer op dieselfde dag. Kies die naaste winkel, al is die naaste winkel 50 sent duurder as die verste winkel wat 50 sent goedkoper is. Die verskil is nie een rand nie, die verskil is die petrolprys in kilometer – werk dit self uit.
  • WENK # 4 Moenie eenvoudige goed ingewikkeld maak nie. (“Is die verskil tussen 50 sent duurder en 50 sent goedkoper een rand, of hoe’t jy dit bedoel?”)
  • WENK # 5 Moenie beplan vir goed wat nooit gaan gebeur nie. (“Sê nou dit reën? Dan’t ek te min warm goed ingepak.”) Daar gaan ons al weer…
  • WENK # 6 Moenie goed twee keer vra “net om doodseker te maak ek’t reg gehoor” nie. Jy’t die eerste keer reg gehoor. (“Sê net weer: Het jy dit by Shoprite gesien? Teen daardie prys! Gelukkig was ek nog nie vandag by die winkels nie.”)
  • WENK # 7 Moenie so ernstig dink oor wat ander mense dink nie, hetsy van jou of van iemand anders. Laat hulle maar dink. (Kyk ook Reël 3 hierbo.)
  • WENK # 8 Moenie op jou laat wag nie. (M.a.w. maak vinniger klaar en moenie so draai nie, kom net, ons gaan laat wees!)
  • WENK #9 Pak jou handsak reg. Dit vat baie tyd om goed daarin te soek. (“As ek weer sien, is dit deurmekaar. Dit gebeur vanself.”)
  • WENK #10 Moenie ’n swak boek klaar lees nie, daarvoor is die lewe gans te kort. Jy’t jou geld gemors, nie nodig om nou jou tyd ook te mors nie. Hou op lees en gee die ding vir die kerkbasaar.
  • WENK #11 Moenie na “niks” op TV kyk nie. (“Daar is nou vanaand weer net mooi níks op TV om na te kyk nie.”)
  • WENK # 12 En moenie so lank vat om te besluit nie. (Besluit nou!) “Jy weet,” besluit sy, “ek hou eintlik nie daarvan dat jy vir my sê hoe ek my eie tyd mors nie.” En daardie ander ou enetjie (nr. 13), voeg jy by, wat later ’n aanklag teen haarself word omdat dit haar tyd so steel: Sy kan nie nee sê nie …