srstockandre1
Rubrieke - André le Roux

Andre le Roux: ‘Sy beskerm, sy bid, sy maak vrede’

Sy maak vensters toe teen die koue.

Sy maak stukkende plekke heel teen die wêreld. Die skadu van haar vlerke val wyd, nog wyer die skadu van haar hart. Haar liefde is ’n groot kombers en afvlerke is altyd welkom by haar vuur.

Haar hande skik.

Sy voed. Aan haar tafel is altyd plek vir nog een. Sy sorg en versorg al is sy moeg. Sy dink aan ander mense en verstaan. Sy vat hande. Sy gee onselfsugtig uit dankbaarheid en kom klaar met minder as wat sy nodig het.

Sy beskerm.

Sy bid.

Sy maak vrede. Sy keer, nes sagte woorde, die grimmigheid af. Sy’s lig. Sy sing al hoor niemand nie.

Sy sê mooi goed onverwags. “Ek wil nie sonder jou wakker word nie.”

“Hei, kom ons gaan slaap!”

Dan sê sy jy’s laf.

Sy lag.

“Jy kan nie so goed dans nie, maar jy kan soen!”

“Hei, kom ek wys jou. Ons kan soen terwyl ons maak of ons dans!”

“Ek sê mos jy’s laf! En gedra jou.” (Mans wil nie gedra wees nie.)

Soms kyk sy na jou, sommer net.

“Wat nou? Hoekom kyk jy so vir my?” (’n Man dink dadelik: Wat het ek verkeerd gedoen?)

Niks: “Ek kyk sommer vir jou omdat jy so dierbaar is.” (Dier-baar, nè?)

En as jy by die huis kom: “Ek kon nie wag om jou te vertel nie . . . jy sal dit nie glo nie!”

Al antwoord jy nie juis terug nie, wat moet jy nou eintlik sê as die kat van die vensterbank afgeval het. Op haar rug nogal! Jy sien die prentjie.

“Dit was net só snaaks. Jy moes die kat se gesig gesien het, asof sy haar eie oë – en pote! – nie kon glo nie.” Sy’t die kat gestreel soos ’n kind. Die kat lek net haar pote en kry nog troos.

Al wat jy kan sê, is: “Ek’t jou gesê daai kat is nie lekker nie. Sy hou glad nie van biltong nie, maar sy eet Nik Naks en partykeer sit en kyk sy vir my asof ek deur ’n kat hier ingedra is.”

“Miskien is jy! En ek wonder wie kou die Nik Naks vir die kat fyn? Mmm?”

Mmm . . . Sy lag.

Sy kla soms, maar het net ’n ekstra skouer nodig teen die kla, twee arms teen die trane wat sy oral opvee, die klein dingetjies wat dalk te veel word.

Maar sy gaan slaap nie voor die dag nie heeltemal klaar is nie . . . die vuur koud, die vensters toe.

Vrouedag.

Elke dag