Rubrieke - André le Roux

Besluite, besluite …

Soos gewoonlik sê jy by voorbaat trek die bloue aan, maar soos gewoonlik betrek sy jóú by háár besluiteloosheid om die skuldlas eweredig te versprei sou sy verkeerd kies: “Watter een dink jy? Die bloue of die rooie?”

Dit kan enigiets wees – van ’n trui tot ’n skildery of ’n blompot. Sê jy die bloue, sê sy nee, sy’t eintlik gedink die rooie (of andersom). Want eintlik het sy klaar op die rooie besluit, sy was net nie heeltemal seker nie. En toe jy nou sê die bloue, toe weet sy dit moet die rooie wees. Daarom mag jy nooit sê dis vir jou om ’t ewe nie, die rooie is net so mooi soos die bloue, want dan weet sy steeds nie watter een om te kies nie.

En as jy ’n derde moontlikheid inbring (wat van die groene?), is áls deurmekaar en moet sy van vooraf besluit. Dan kan dit dalk die gele wees.

Dis ’n linkerbrein-versus-regterbrein-ding, sê die wetenskaplikes. Emosies (regs), Logika (links). En ons weet tog almal vroue neem emosionele besluite?

“Gee hier daardie besluit!” sê haar linkerbrein.

“Gee terug, dis myne!” sê haar regterbrein. En sy sit in die middel. Besluiteloos, emosioneel, en totaal sonder heenkome …

’n Spyskaart in ’n restaurant bly altyd die moeilikste – twéé maal moeilik. Eers die besluit wat om te drink. Witwyn, rooiwyn, koeldrank (watter soort tog!) of vrugtesap (die keuse tussen Appletiser en Grapetiser is net té groot, nou’s daar nog Peartiser ook). Op die ou einde bestel sy water en proe aan jou wyn.

Dan: Wat om te eet? Sy kyk heel eerste na die nagereg, maar sê sy sal later daarnatoe terugkom, sy kan nie nou besluit tussen die crème brûlée, sjokolade-mousse of sticky toffee nie.

“Hulle moet mens nie so ’n groot keuse gee nie, dis net verwarrend. Áls lyk lekker.”

Ooo, die vis of die hoender? Aaa, die steak of die Wiener Schnitzel? Dan maak ons dit ’n Duitse aand …

Die kelner kom drie keer vra of julle gereed is om te bestel. Drie keer word hy teruggestuur. Gee ons nog net twee minute …

“Jy gaan seker steak bestel,” raai sy. “Ek dink ek moet die vis vat, maar die hoender lyk ook lekker. Wil jy nie die hoender bestel nie? Dan kan ek by jou proe.”

En nes sy uiteindelik besluit het, kom daar ’n bord verby met ’n gereg wat onmiddellik vir haar lekkerder lyk. “Ek moes daai bestel het.”

En mans? Hulle oorweeg hul opsies met hul linkerbrein en besluit dan tjop-tjop, soos in skaaptjops, maak nie saak of hulle in ’n restaurant is of nie.

Toe blykbaar nie. Dit hang af of hulle eers ’n foto van ’n vrou in onderklere gesien het … Sy vra gepas waarvan praat jy? Wat het vroue in onderklere te doen met hoe mans besluite neem?

Jy verduidelik: Hulle het foto’s van mooi vroue in sexy onderklere vir ’n groep mans gewys, en vir ’n ander groep foto’s van landskappe, hoe boring. Toe laat speel hulle die twee groepe ’n finansiële speletjie. (“Waar kom jy aan al dié goed?” vra sy. “Het jy niks beters om te doen nie?”)

Hulle het gevind, gaan jy onverstoord voort, die groep wat eers na die vroue in onderklere gekyk het, was geneig om slegte finansiële besluite te neem. Hulle het dus nie verder gedink as wat hul neuse (en so) lank is nie … Dit beteken seksuele suggestie het die mans se aandag afgelei sodat hulle nie op hul taak kon fokus nie, veral dié wat al klaar hoë testosteroonvlakke gehad het. Dan neem hulle testosteroongevulde besluite op die ingewing van die oomblik.

“A-ha!” sê sy. “Sien? Daar het jy dit! Mans neem besluite met ander organe as hul brein.”

Ter verduideliking, en verskoning namens mans in die algemeen, sê jy dis vir voortplantingsdoeleindes, volgens die wetenskaplikes. Mans soek maar net ’n geleentheid om hul gene oor te dra.

Dis hoekom jy, toe sy sê sy gaan solank slaap – op die ingewing van die oomblik – vra:

“Psst, wil jy van my gene hê? Ek het baie, Jawhol!”