michelle_lombardi_bike
Rubrieke - André le Roux

Die taal van vroue

Sy vra jou om die suiker aan te gee, maar sy bedoel eintlik die rys. Sy kan nie wag om die telefoon te beantwoord nie, want sy wil dadelik weet wie bel. Sy vertel ’n kort storie lank en val jou in die rede met vrae as jy ‘n lang storie kort vertel. Sy vra baie vrae. En 9 uit 10 keer kan sy nie nee sê nie, want sy’s vir almal jammer.

(Waaroor jy nogals bly is, behalwe dat sy nie altyd vir jou jammer is nie.)

Daar hoor jy haar êrens in die kombuis praat, maar jy kan nie hoor wat sy sê nie, want die ketel kook of die tuimeldroër raas. Gesels na alle waarskynlikheid met iemand oor die telefoon.

Tot jy voetstappe hoor nader kom.

“Hoekom antwoord jy nie as ek met jou praat nie?”

Jy verduidelik van die ketel of die tuimeldroër en vra tereg: “Hoe verwag jy moet ek jou dan hoor?”

“Dis net ’n gerieflike verskoning, want jy luister in die eerste plek nie.”

“Ek luister nou. Wat het jy gesê?” vra jy.

Dan sê sy: “Toemaar, los dit.”

Wanneer sy wel praat as niks in die huis raas nie, bevind jy jou drie vertrekke verder af in die gang. Jy loop selfs nader om te hoor wat is wat, dan sê sy: “Ek het nie met jou gepraat nie.”

Partykeer loop sy na jou toe (Mohammed en die berg). Dis wanneer jy voetstappe hoor: “Ek wou nou vir jou iets gesê het. Wat was dit?”

Jy sê jy weet nie, gee my ’n wenk.

“Moet my nie in die rede val nie,” sê sy. “Ek probeer onthou wat dit was, nou’t ek heeltemal vergeet.”

Ander kere sê sy heeltemal niks, maar sy volg dit nietemin op met: “Het ek jou gesê die tuimeldroër maak ’n snaakse geluid, of het ek dit net gedink?”

Sy dink dikwels hardop. (Dis wanneer sy nie met jou gepraat het nie.)

“Ek het dit toe weggegooi,” sê sy. Dan’s jy veronderstel om te weet waarvan sy praat.

“Waarvan praat jy?”

“Die boks. Onthou jy, jy’t gisteraand gevra hoekom gooi ek nie daardie boks weg nie?”

Jy onthou. Sy’t bloot die gesprek van gisteraand hervat, amper vier-en-twintig uur later, uit die bloute.

“O, ja,” onthou sy. “Wat ek netnou wou gesê het … ek wou met jou praat oor jy altyd jou voete op die koffietafel sit.”

O.

“Dis die tiende keer dat ek met jou daaroor praat.” (Jy weet net van nege keer, miskien het sy dit die tiende keer nie gesê nie, net gedink.) “En dis nie asof jou voete altyd skoon is nie, nè?” gaan sy voort. “Ek sê maar net …”

As ’n vrou sê ek sê maar net, kan jy maar weet sy sê nie maar net nie.

Jy gaan tap badwater in vir jou voete en de lot. Net toe die water lekker raas, hoor jy die stertkant van haar woorde: “… net voor jy inklim.”

“Wat nou?” vra jy en draai die krane toe. “Sê weer, die water het geraas, ek kon jou nie hoor nie. Ek gáán nog my klere van die vloer af optel,” sê jy vir ingeval.

“Ek’t maar net gesê ek hou daarvan as jy so uithang oor die bad se rand net voor jy inklim.”

O …

Jy klim sommer weer uit.

* Volgende maand: Die taal van mans.