Rubrieke - André le Roux

Die vrou se naam Begeerte

Soos presies wanneer en waar en hoe laat jy vir haar ’n Jamie Oliver-pan gekoop het, die een met die sexy rooi kol in die middel, jy sukkel nog om die finansiële verlies te verwerk. En kompleet met die vrou wat jou tjek gevat het se naam ook op die strokie, gloeiend.

Desire.

Nie Desiré of Dezi nie. Desire. Desire Kruger.

(“Hi, I’m Desire …” Wat sê mens nou daarop? Haai, ja, ek voel ook so?)

Goed, dis duidelik die masjientjie wat die betaalstrokies uitdruk, ken nie aksente en sulke leestekens nie, nou’s die vrou se naam Desire pleks van Desiré. Dan weer: Wat van Tennessee Williams se klassieke A Streetcar named Desire (1947)? As mens ’n trem Desire kan noem, kan jy seker ’n vrou agter ’n toonbank ook so noem. (Sy lyk in elk geval ’n bietjie soos ’n trem, of ’n minibus. Van agter.)

Die trem se naam Begeerte. In Afrikaans is hierdie drama ook al vertaal as Bestemming Wellus, maar dit gaan dalk ’n bietjie te ver …

Nietemin, toe jy sien die vrou op die betaalstrokie se naam is Desire, begin ’n wellustige idee in jou kop kom. Jy neem jou voor om terug te gaan na daardie winkel en te vra vir Desire …

Want op daardie strokie staan ook baie duidelik: Exchanges and refunds valid for 14 DAYS with original packaging and till slip!

A, jou geldterug-waarborg! Gelukkig het sy die boks waarin die pan gekom het bo-op ’n rak in die spens gesit – vroue kan mos nie ’n boks weggooi nie. Nou oorweeg jy die moontlikhede …

Jy kan altyd sê sy het eintlik die pan as present vir jou gekoop, maar toe kom jy agter julle het reeds ’n pan. So, as hulle nou haar geld vir jou teruggee, sal jy sorg dat sy dit kry, julle sien mekaar tog elke dag.

Jy wonder ook wat sal gebeur as jy die ding per ongeluk hoog bo jou kop lig en laat val. (“Ek hou nog so lekker die pan vas, toe trek ’n vlieg my aandag af en daar val die pan. Per ongeluk.”) Nee, netnou breek ’n vloerteël en dan’t jy groter probleme.

Jy oorweeg dit om haarfyn krakies met ’n Koki-pen op die pan se boom in te teken. A! Sien? Nog nie 14 dae nie, en die pan is klaar gekraak, so, kan ek asseblief my geld terugkry?

Of jy kan sê die pan het sulke sisgeluide gemaak toe jy ’n eier daarin wou bak (net toe jy die botter ingooi), en jy’s seker jy’t rook sien trek toe jy die eier bietjies te lank laat bak het. Sê nou die pan het ontplof, dan was dit mos ’n gemors? Kyk, hier kan mens nog sien hoe swart die pan van onder is, jy jok nie. So, gee terug my geld!

‘n Mens kan seker nie teruggaan winkel toe en sê jy soek Wellus nie. Jy sal moet sê: “Hi, I’m looking for Desire.” (Maar dit klink ook nie reg nie.) Of in gewone Afrikaans: “Hallo, waar’s daardie Desire heen? Ek wil haar pan vir haar teruggee.”

Maar intussen is die pan druk in gebruik, hy gloei.

“Hou jy nog van jou pan?” vra jy.

“Hoe bedoel jy nou?” vra sy.

“Ek bedoel: Is jy nog tevrede met die pan? Hy kook nie dalk maklik oor of iets nie? Hy’t nie dalk afgetjip nie?”

“Nee,” sê sy.

“Werk daardie rooi kol in die middel nog om te wys wanneer die pan warm genoeg is?”

“Perfek,” sê sy.

“Ek’s seker daai kol gaan homself nog uitbrand. Moet ons nie liewer die pan gaan teruggee voor dit gebeur nie?”

“Jy vat nie aan my pan nie!” (Daar gaan al jou plannetjies met die pan. En Desire daarmee saam …)

“Dis die beste pan wat jy nóg vir my gekoop het. En buitendien: Jy’t al vir álmal loop en vertel ons het ’n Jamie Oliver-pan.”

O.