Rubrieke - André le Roux

Dinge wat boe! maak in die nag

(“Hoekom het dit nie ’n prys op nie? Ek’t nie heeldag tyd nie.”)

Kortom: Sy weet wat sy wil hê en sy skrik vir niks. Hoe is dit dan dat sy jóú wakker maak oor ’n muis en dinge wat boe! maak in die nag?

“Hulle breek in,” fluister sy. “Gaan kyk, gaan kyk …” Sy sit regop teen die kussing, klouend aan die duvet. Dis net ’n vloerplank wat gekraak het, mor jy.

“Wees versigtig,” fluister sy. “Jy’s net een en hulle is seker tien …” Jy voel-voel na die krieketkolf onder die bed, wat jy strategies daar aanhou as tradisionele wapen.

“Wassit-wassit?” vra sy toe jy terugkom. “Het hulle messe gehad?” Jy sê jy het nou net ’n krakende vloerplank oor die kop geslaan met ’n krieketkolf. Dit kon ook ’n onskuldige vloerplank gewees het, jy kon nie mooi in die donker sien watter een gekraak het nie.

“Jy’s so sterk,” sug sy.

Swak en deur die slaap, dink jy. Party mans moet eers opwarm voor hulle iets beteken. Skaars ’n uur later hoor jy dit self. ’n Helse slag in die kombuis en ’n gekletter. Het glas gebreek?

Dié keer spring jy sonder aanmoediging op (“Sluit die deur agter my en bel 10111!” beveel jy), gryp die krieketkolf en hol bo-oor krakende vloerplanke, die kolf gelig voor jou soos ’n kwaai vinger. Jou ander hand kruip skigtig om die hoek om die lig aan te sit. Dis stil. Niks gebeur nie. Jy kyk na die venster, die vloer. Geen glasstukke nie. Waar is hulle? Jy lig die kolf hoër, nou vasgevat met albei hande, en beweeg vorentoe soos ’n dapper muis genaamd Chuck Norris.

In die spens neem jou adrenalien af … Jy loop terug, spring skielik om die deur en sê: “Boe!”

“Whaaa!” skrik sy. “Dis nie snaaks nie!”

“Hoekom het jy nie die deur gesluit soos ek gesê het nie?” (Sien, vroue lúister nie.)

“Ek wou hoor wat aangaan. Wat het gebeur?” vra sy.

“Tien inbrekers met messe,” sê jy en tik tevrede met jou vinger teen die krieketkolf. “Hulle lê gesaai op die kombuisvloer.”Dis óók nie snaaks nie, sê sy.

Dit was die dekselse koekblik, verduidelik jy. Die ingeduikte deksel het afgespring. (Deksels, wat ’n nag …)

Toemaar, my dapper muis, sê sy verlig, slaap nou.

“Kom help!” hoor jy. “Help! Help!” Jy hardloop ’n paar stoele uit die pad om tot haar redding te kom.

“Wassit nou weer?” Jy hoef eintlik nie te vra nie, want as sy op die kombuistoonbank staan, weet jy dis ’n muis.

“Daar! Dáár in die hoek!”

“Is dit nodig om my so te laat skrik?” Jy druk die dingetjie met ’n besemstok vas, gryp hom aan die stert, gooi hom in die vuilgoeddrommetjie.

“Nee!” protesteer sy. “Die arme muis gaan versmoor.” Sy kyk jou aan of jy ’n muismoordenaar is.

“Nou wat wil jy hê moet ek doen? Jy’s dan bang vir die ding.” Dit kos jou weer die muis uit die vuilgoeddrommetjie opdiep en by die agterdeur uitsit, so asof jy hom met groot seremonie en beste wense voorspoed op sy lewenspad toewens. Jy verbeel jou jy hoor hoe daardie muis in sy mou vir jou lag terwyl hy vir Arnold Schwarzenegger aanhaal: “I’ll be back!”

Skaars ’n dag later, sowaar, is die polisie daar om ’n koekblik te arresteer. (Julle’t skoon vergeet om te laat weet dit was toe ’n vals alarm.)

Sorry, Sersant, jy weet nie hoe’s my vrou oor hierdie dinge nie.” Vir ’n oomblik het jy gedink hulle kom jou wegvat oor jy ’n dapper muis genaamd Arnold Schwarzenegger in die vuilgoeddrommetjie gegooi het.