Rubrieke - André le Roux

Elders mooiweer en warm

’n Mens kan nie ’n ordentlike gesprek met julle voer nie, want julle mis altyd belangrike detail weens ’n gebrek aan belangstelling. Soos die kleur van die nuwe bure se huis en die vraag: “Hoekom staan weervoorspellers op TV altyd voor die Kaap?”

Sy wag (steeds) op ’n antwoord. Van jou.

Jy weet uit ondervinding: Waar daardie vraag vandaan kom, is daar nog baie. Maar jy’t ’n hele maand lank geworstel met daardie vraag – lewensbelangrik – en jy dink jy’t nou die antwoord:

“Weervoorspellers staan voor die Kaap omdat dit altyd elders mooiweer en warm is!” sê jy triomfantlik.

Sy beskuldig jou van ligsinnigheid en dat jy nie die vraag verstaan nie, toe gaan sit sy op haar sonbril. Sy wip eintlik so.

“Kyk, stukkend,” sê sy onnodig. “Kan jy dit glo?”

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

Jy kan dit glo, jy’t dit so pas self gesien.

“Hoekom kom ek altyd sulke goed oor?” vra sy verbaas en jy vermoed dis nog een van daardie vrae, jy’s nie verbaas nie.

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

Jy kan haar sê dis nou die derde sonbril in drie maande wat sy op dié manier onherkenbaar verfomfaai.

“Nie gekyk waar jy gaan sit nie?” waag jy ’n tentatiewe antwoord.

“Natuurlik het ek nie gekyk waar ek gaan sit nie!” sê sy. “Watse antwoord is dit nou?”

Die vraag is eintlik: Wat het die sonbril in die eerste plek op haar sitplek gesoek? Maar jy vra dit nie.

“Wel,” troos jy, “gewoonlik is jou sonbril weg, nou weet jy darem waar hy is.” (Al is hy plat, nè …? Jy wonder onwillekeurig en filosofies wat is die ergste: ’n Heel sonbril wat weg is of ’n plat sonbril wat nie weg is nie.)

“Dis nie asof sonbrille goedkoop is nie, nè?” kla sy teenoor haarself.

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

A, dis ’n maklike een: “Presies!” sê jy. “Presies!”

Dan kyk sy ongenooid in jou bord: “Hoekom het jy net twee sulke klein skeppies rys oorgelos?”

Jy sou dink dis duidelik dat jy genoeg geëet het/nie meer honger is nie. Maar partykeer, gelukkig, wag sy nie op ’n antwoord nie: “Gee hier, ek sal dit opeet,” sê sy. “Wat maak ’n mens nou anders daarmee?” (Jy vermoed sy maak voorsiening vir ’n moontlike rystekort in China.)

Uit die bloute vra sy, maar jy vermoed dis ook nie so uit die bloute nie, sy sou wel deur assosiasie by die vraag uitgekom het: “Hoekom groei onkruid so vinnig?”

Sy wag op ’n antwoord. Van jou.

Hû?

“Oukei,” sê jy, “jy het my, ek gee op, wat’s die antwoord?”

Sy sê daar bewys jy net weer ’n mens kan nie ’n ordentlike gesprek met ’n man voer nie, jy kry nooit ’n behoorlike antwoord uit hom uit nie. En van tuinmaak weet jy in elk geval min, voeg sy by.

Sy gaan eerder slaap (voor sy weer op iets gaan sit).

Later toets jy voel-voel hoe die wind waai: “Pssst … Verspreide donderbuie, of mooiweer en warm hier?”

Jy wag op ’n antwoord. Van haar.