Rubrieke - André le Roux

Elke vrou het ’n ding

“Ek het nou maar eenmaal ’n ding oor mooi plekmatjies,” erken sy. Sy kan nie by ’n stelletjie van ses verbystap nie, dan gaan sy terug en koop nog twee. Dis omdat daar ’n verstommende verskeidenheid van plekmatjies is, jy sou dink die mark is lankal versadig.

Gemaak van materiaal met stikseltjies (soos jy kan dink, die moontlikhede en kleure is eindeloos), of van draad, gevleg van raffia of stukkies stokkies en bloekomtakke of ystervarkpenne. Dis nie dat sy ’n ernstige versamelaar van plekmatjies – of koppies en pierings – is nie. Sy koop net elke keer nog. Soos sy altyd sê: Daar’s altyd plek vir ’n mooi plekmatjie, sy voel nie eens skuldig nie.

Die koppies en pierings word ewe lukraak gekies.

Lukraak? “Kyk net die mooi krakies op dié koppietjie. Dis egte porselein.” (Wat’s die use van ’n gekraakte koppie, wonder jy, maar jy weet dit gaan in elk geval nie gebruik word nie. Dit gaan by die ander gekraakte koppies in die kas beland.)

“Let wel, hy’s nie getjip nie. Dié een kom uit die Ming Tjieng Tjong-dinastie,” verduidelik sy. “En so goedkoop!”

Jy’s seker daardie koppietjie is nou die dag in Hongkong gemaak of net hier anderkant by die Oriental Plaza, dié dat dit gekraak het.

“Ek het dit net hier anderkant by die Oriental Plaza raakgeloop,” sê sy trots.

Vra maar enige man om die braaivleisvuur: Het jou vrou ook ’n ding?

“Hei, jy praat nie so van my vrou nie! Wat bedoel jy?”

Soos ’n ding oor plekmatjies of koppies.

“Ooo, jy bedoel sóóó. Nee, my vrou se ding is kershouers. Ons hele huis staan vol kershouers, ons het net nie genoeg kerse nie,” sal die een sê.

Servette en tissue-bokse, sê ’n ander een, met verskillende patrone op. “En geskenkkaartjies. Sy’t honderde geskenkkaartjies, maar geen geskenke nie.”

“Dis alles nog bekostigbaar,” sê ’n derde. “My vrou het ’n ding oor serpe. Weet julle hoe duur kan serpe wees, veral ingevoerdes uit die Ooste? En sy’t mos net een nek, nou bind sy dit partykeer om haar heupe, maar dit gaan ook uit die mode. Nou hang daar serpe oor elke moontlike bank en stoel in ons huis, sy gebruik dit vir throws. Partykeer drapeer sy ’n serp oor die bedlampies, dan kan mens nie sien om te lees nie.”

“My vrou het óók net een nek,” bieg ’n vierde een. “Maar sy’t stringe en stringe krale, party is so groot, sy kan goed in die huis afstamp as sy te vinnig omdraai. En krale is veel duurder as serpe, daar’s allerhande blink goed by.”

“ My vrou het net twee ore,” hoor jy ’n vyfde een kla, “maar weet julle hoeveel oorbelle het sy? En dis nie asof sy die goed verloor nie (nie die heeltyd nie), dit lê net die laaie vol. Dan staan daar nog oral in die huis tissue-bokse rond met oorbelle in, sy kan nie by die tissues uitkom nie. En ek kan julle verseker die soort oorbelle wat sy koop, is heelwat duurder as krale.”

“Julle weet nie hoe groot mý vrou se ding is nie,” sug ’n sesde ou. (Almal kyk vinnig op.) Hy’s na aan trane. “Haar ding is … motorfietse.”

Soveel manne, soveel vroue met dinge …

“Het ons nie al genoeg plekmatjies nie?” vra jy. Jy ken die antwoord nog voor sy die vraag ignoreer. En saam met die plekmatjies kom coasters. Dis ’n drup- of glasmatjie in Afrikaans, maar sy koop lustig Engelse coasters. Julle het meer drupmatjies as glase wat drup – en gans te veel van die soort wat onderaan die glas vassit en saamkom as jy jou glas oplig.

Daarom sit jy gewoonlik jou glas netjies lángs die drupmatjie neer …

“Mans!” sê sy, en druk die drupmatjies se laai met haar heupe toe, in dieselfde beweging waarin sy omdraai sodat haar krale twee keer om haar nek swaai en die serp om haar heupe swiesj. Praat van lyftaal …

“Weet jy wat?” sê jy. “Jy’s onweerstaanbaar as jy die laai so met jou heupe toemaak …”

‘n Mens kan maar sê jy’t ’n ding oor heupe. Dis amper soos poeding.