Rubrieke - André le Roux

G-strings en gespes

Vroue moet dit nou maar erken: Hulle het mans nodig.

“Sê wie?!” vra sy. Nie om ’n blikkie ertjies oop te maak, die konfytpot oop te draai of ’n spyker in die muur te slaan nie – as dit moet, sal sy sélf die gras ook sny. Hulle het mans nodig om die eenvoudige vraag te beantwoord: “Lyk ek reg?” voor hulle by die huis uitgaan.

“Steek my dinges nie uit nie?” (Vroue praat partykeer so.)

“Draai om dat ek kyk,” sê jy. Jy moet ook kyk of daar nie lipstiffie op haar tande beland het nie, nie ’n haar of rafeltjie op haar skouer sit nie, en of alle ritssluiters toe is.

Sy staan op haar tone voor die spieël terwyl sy oor haar skouer probeer sien wat agter haar aangaan. Moet sê, daar’s iets te sê vir ’n vrou wat op haar tone staan voor die spieël terwyl sy oor haar skouer probeer sien wat agter haar aangaan. Dié houding strek haar bene lenig en lig haar boude effens. Haar rug maak kuiltjies.

O, die lieflike landskap van ’n vrou se lae rug waar die suggesties van ronde heuwels in die maanlig begin …

“My dinges, man, ek bedoel: Steek my G-string uit?”

Met heupbroeke kan dit maklik gebeur. Daardie afsakuitsteek-broeke is lankal nie meer die handelsmerk van tienerseuns op skaatsplanke en Britney Spears nie. Dit het ’n netjiese, styfpassende snit gekry vir alle vroue van enige ouderdom en omtrek.

Trouens, daar’s vroue wat hul deurtrekkers – met aller hande blink diamanté-versierings van agter en selfs tos sels van voor – aspris laat uitsteek. Veral as hulle buk.
(Kyk daardie kelnerin wat by die tafel langsaan hurk om ’n bestelling te neem. Jy’t as ’t ware ’n bird’s eye view. Voëlperspektief, in Afrikaans.)

“Moet net nie buk of hurk nie,” sê jy, “jou suggesties sal uitsteek.”

Sy skrik haar rug regop. Net nou die dag het die stadsvaders van Richmond, Virginië, Amerika met 60 teen 34 stemme besluit onderklere wat uitsteek, is teen die wet, die sg. droopy drawers bill, volgens The Washington Times . Die mense moet hul sokkies én hul broeke optrek. Dit sal die gemeenskap – en die res van Amerika – glo uplift .

Hoe uplifting, dink jy,maar die boete is $50. Sy’s min gepla met Amerika, meer bekommerd oor die waterbeperkings in die Wes-Kaap – en of haar dinges uitsteek.

Gelukkig maak hulle deesdae ’n dinges met die naam hipster G-string, dit sê so op die pakkie. Dis laer as die standaard gestring ( ultra low, nogal).

As mens mooi daaroor dink, is die ontwerp eenvoudig: Neem ’n standaard stukkie onderklere, vat weg aan die kante en agter tot net ’n stukkie lap aan toutjies oorbly – dan’t jy ’n deurtrekker. Daar’s verskillende soorte, onthou.

Party is net ’n dwarsstrepie met ’n af-strepie. Mens noem dit ’n T-back . Dan is daar die tanga – dit bedek meer as enigiets in sy soort, maar minder as ’n bikini. Die V-string is nes die naam sê: Dit vorm ’n V van agter. En die sg. Rio is soos hulle dit in daardie stad dra (ge-Brazilian wax , natuurlik).

Laastens: die thong. Hy’t so ’n dun strook om die middel, maar bedek verder ook nie veel nie. Daar’s nie ’n Afrikaanse woord daarvoor nie – ’n dong vir daai dêng? Of ’n ietsiebikini?

Kom ons noem dit ’n riempiekini, stel jy voor.

Sy kyk jou aan sonder enige suggestie. “Jy was weer op die internet, nè?” (Wikipedia, ’n gratis ensiklopedie-diens.)

“Hulle sê dit kom van die laat 1800’s uit Suid-Amerika, mens sien dit op ou foto’s. En ons eie Boesmans het dit gedra!”

Geen onooglike broekielyn nie en dit dra glo lekker.

En, verduidelik jy, ’n deurtrekker weeg sowat 140 g (as sy sou wou weet, afhangend van die tossels – dit laat ‘n vrou sommer so lig voel). Daarby pas ’n kort toppie en ’n stukkie maag (en rug!) wat uitsteek met ’n belt so laag, die gespe lyk soos ’n private afdakkie. Sy moet mooi gaan sit anders kan sy haarself beseer. (Mans moet liewer nie G-strings met sulke bykomstighede dra nie, jy kan jouself onthoof…)

Pssst, fluister sy. “Ek het ’n nuwe G-string aan, wil jy sien?”

As dit dan nou moet… fluister jy terug. Sy staan op haar tone terwyl sy oor haar skouer na jou loer. Haar rug maak kuiltjies. Jy sien haar suggesties.

“Lyk dit reg?” vra sy. Daar’s skaars ’n fluistering in jou stem oor – net ’n versugting. Want eers toe sy omdraai, sien jy wat aangaan.

“D-d-d-dinges!” is al wat jy uitkry. Sy’t sowaar haar nuwe deurtrekker… Agterstevoor om aan.