vanilla_ice
Rubrieke - André le Roux

Handsakke vs skoene

Maar séwe nuwe handsakke?

Natuurlik bevraagteken jy dit. Sy loop al jare met net twee handsakke rond – een oor haar skouer vir kleiner goed (soos haar beursie, selfoon, pakkie sneespapier, grimeersakkie en juwelesakkie met haar ouma se pêrels, netnou breek hulle by die kluis by die huis in, en diverse ander nodige dingetjies), en een vir groter goed (soos alles wat nie in die sak oor haar skouer pas nie).

So waar val sy nou uit met séwe nuwe sakke?

“Dis nie so erg soos dit klink nie,” verweer sy.

Nou hoe klink dit dan? vra jy. Wil sy sewe sakke sout, een saam met elke handsak opeet?

“Dis nie hándsak-handsakke nie, dis handsak-hándsakke.”

O, nou verstaan jy presies.

Laat ek verduidelik, verduidelik sy.

“Dié een is wel vir alledaagse gebruik, jy kan sien hy’s net groot genoeg. Ek kan hom gebruik in die plek van die een wat ek altyd oor my skouer dra. En dié een is vir wanneer ek moeg is om die groot een rond te dra, hy’s ’n bietjie groter.” (Dis logies, dink jy, hoe groter hoe beter.)

“En hy’s ook lekker om ’n mens se skoene in te dra op pad werk toe.”

’n Handsak vir skoene? Jy sê gaan stadiger, sy’t jou nou verloor.

“’n Mens gaan werk toe in jou loopskoene en dra jou werkskoene in jou handsak. Dan kan jy makliker die motor se koppelaar intrap en flink loop van die parkeerterrein tot by die werk, waar jy net skoene omruil en dan stap jy daar in op jou stilettos – voilà! Ál die vroue in New York doen dit.”

O.

“Kan ek nou aangaan? Kyk, dié een van rooi sy is vir die aand, voel hoe syerig voel hy, en dié een van swart lap is vir die dag as die geleentheid net effens deftig is. Verstaan jy? Handsakke is die nuwe bykomstigheid. Dit het nie hakke wat kan aftrap nie en daar’s juis so ’n mooie op bl. 70 van dié SARIE,” dwaal sy af.

En die ander drie?

“Die ander drie wat? O,” verduidelik sy, “die ander drie is streng gesproke nie hándsak-handsakke nie, dis te onprakties maar so mooi, ’n mens kan dit in ’n groepie teen die muur ophang.

Nou’t jy alles gehoor.

“As jy net vir my drie spykers in die muur kan inkap …”

Jy wonder wat kos die hele spulletjie, maar vra liewer nie.

“Ek kan sien wat jy dink,” sê sy. “Jy wonder wat kos die hele spulletjie. Laat ek dit só verduidelik: Dis darem nie asof ek handsakke koop van afgeslagte volstruise en krokodille nie,” gril sy. “En dis darem nou ook nie Louis Vuitton-handsakke nie.”

Ou Louis het onlangs die duurste handsak ter wêreld bekend gestel, dit lyk soos ’n ontwerpersramp van stukkies afval-leer. Trouens, dit ís gemaak uit 15 ander handsakke en hulle noem dit die Louis Vuitton Tribute Patchwork-handsak. Pure brouwerk as iemand jou sou vra, maar die vroue van New York koop dit.

Teen sowat R350 000. (Jy’t reg gelees.)

Ons eie mode-ghoeroe Gavin Rajah, wat self handsakke maak, reken blykbaar waar vroue tien jaar gelede gemiddeld twee of drie handsakke gehad het, het hulle nou minstens vier of vyf.

“Of séwe,” voeg jy ietwat bitter by.

“Ja, en as jy nie oppas nie, laai ek jou lángs my skoene in hierdie groot nuwe handsak en neem jou oral met my saam!”

Jy gaan haal solank die hamer en drie spykers.