Rubrieke - André le Roux

Hoe om ’n man te verlei

Staan net naby genoeg aan hom … dis al.

Maar soms moet jy tog ’n bietjie harder probeer, soos wanneer hy baie moeg of bekommerd is. Sê net, toemaar alles sal regkom, dan kan jy maar weer nader staan. Sy moegheid sal ook verdwyn.

“Jy het darem maar net die vermoë om my te laat ontspan,” sal hy sê. “Ek voel nou so ontspanne ek kan in jou arms aan die slaap raak.”

Hou hom wakker! Daarvoor hoef jy nie jou arms te swaai of geraas te maak nie, want dikwels lê die grootste verleiding in die kleinste gebaar. Soos wanneer jy opstaan en jou lekker staaadig uitrek, arms bo die kop, als lig op en vorentoe en ’n stukkie van jou maag steek uit. (’n Stukkie maag kan ’n man so spelerig soos ’n worshondjie maak, sy tong sal uithang.)

Of staan in die deur met jou heup teen die kosyn. Terwyl jy aan ’n roomys lek en onder effens wulpse wenkbroue deur na hom loer, eers na die roomys, dan na hom, dan terug na die roomys. Hy sal smelt.

As jy jou toonnaels rooi verf met jou een been opgetrek, het dit dieselfde uitwerking. Veral as jy uit die bad kom en jy’t nog nie kans gehad om klere aan te trek nie. Of as jy gaan sit met die een been ingevou onder die ander een, dis amper soos Sharon Stone, net beter. Hy sal sirkeltjies om jou loop om niks te mis nie.

Om te buk, daarenteen, is ’n grootser gebaar en dit werk elke keer. (Die derrière kom sterk deur, sien?) Maak nie saak watter kant toe jy buk nie, vooroor of agteroor, g’n man kan dit weerstaan nie. Maak net seker hy sien jou raak, anders loop en buk jy dalk die hele aand oral deur die huis en daar gebeur niks nie. Dit moet lyk asof jy per ongeluk gebuk het. (“Oeps, hoe buk ek nou per ongeluk voor jou.”)

Teen die tyd dat jy weer regop kom, is hy totaal verlei, hy trippel.

Pasop net vir daardie klassieke een, daar waar jy hom by die voordeur inwag in ’n oopgevoude kamerjas, of ’n rooi bra met kniehoogte stewels en niks meer nie. Wanneer hy die voordeur oopmaak en jy drapeer jouself sysag teen die kosyn, heup eerste – so met die oop kamerjas of rooi bra en stewels – staan hy daar en smile en skuins agter hom staan sy baas. Wat hy genooi het vir ete sonder om jou te sê. (Mans doen dit.) Jy voel dalk later sleg omdat jy die deur in sy baas se gesig toegeklap het sonder om eers te groet.

Bly liewer in die bad en stuur ’n SMS kort voor huistoekomtyd: Eks ini bad, ko gee asb vi my di handdoek an. Hy sal tien minute vroeër by die werk wegloop. Of: Wag vi jo oppi mat ini stkamer. Hy sal oor sy voete val. (Onthou die rooi bra.)

Uiteindelik werk vroulike verleiding op net twee beginsels – óf die direkte aanslag, óf subtiele suggestie. Albei werk goed, maar laasgenoemde werk beter, want dit skep ’n bepaalde belofte, ’n soort afwagting, ’n soort opwarming, ’n soort uitgestelde vergoeding.

Byvoorbeeld: Daar lê jy op die bed met jou kniehoogte stewels en niks meer nie en vra ewe: “Wil jy nie my bootse vir my uittrek nie?” Hy kom net daar om.

Dis die direkte aanslag. Suggestie is wanneer jou bloes se boonste drie knope onverklaarbaar losglip en jy maak of jy dit nie eintlik agterkom nie. Dis wanneer jy weet hy weet en hy weet jy weet hy weet. (So iets.)

’n T-hemp – nét ’n T-hemp – is ook suggestie. Of wanneer jy sê: “Ek gaan nou slaap, kom jy ook?”

Nou moet hy kies tussen jou en die TV. Dis nie altyd maklik nie, maar as jy sê jy kry koud, en hy wéét jy sal nie sonder hom aan die slaap kan raak nie, jy soek hom agter jou rug, sal hy jou rugkant kies.

Loshande, elke keer.

Veral as jy vooroor buk om die TV af te sit.