Rubrieke - André le Roux

Ietsie kleins

Jy’t nog nie so daaraan gedink nie, maar jy sê ietsie kleins, dis altyd ’n treffer.

“Dink jy nie dis bietjie boring nie?” vra sy. “Jy gee elke Kersfees vir my ietsie kleins.”

O, en jy’t nogals gedink dis oorspronklik.

“Maar met – of sonder – ietsie kleins is jy ’n fees vir die oog!” probeer jy.

Presies, sê sy. Dis nie dat sy ondankbaar wil klink nie, maar die probleem met ietsie kleins is dat dit meer van ’n present vir jóú is as vir haar – met of sonder stilettos – want die een wat die meeste plesier daaruit kry, is jy, jy kan nie ophou kyk nie.

O. (Dis nogals waar, veral as sy so omdraai met haar derrière.)

Daarom, sê sy, het sy dié Kersfees eintlik ietsie groters in gedagte gehad.

“Ietsie groters? Maar ék is jou ietsie groters!” sê jy. (Wil jy sien?)

Sy’t meer gedink aan iemand soos Russell Hobbs.

“Wie? ’n Nuwe ou by die werk? Hoekom het jy my nog nie van hom vertel nie?”

“’n Russell Hobbs-koffiemaker,” sê sy.

“O, daai Russell,” sê jy en voeg dadelik by: “Hy’s buite my prysklas.”

Laas toe sy een van daardie Jamie Oliver-panne wou gehad het met die rooi kol wat gloei in die donker moes jy ’n tweede verband op die huis uitneem, onthou? En het die kinders nie klere nodig nie?

’n Mens kry verskillende modelle, sê sy, en siende dat jy bonus gekry het …

Nog voor jy kan vra wat’s verkeerd met die ou koffiemasjien, sê sy: “Die ou koffiemasjien maak die laaste tyd net so poer-poer en hou nie meer die koffie behoorlik warm nie. (Gooi net minder melk in, wil jy sê, maar dis seker nie ’n oplossing nie.) ’n Russell Hobbs, daarenteen, se moontlikhede is eindeloos. Van café latte tot café mocha, espresso tot ristretto (jy sê sy hoef nie so lelik te praat nie).

“Met egte koffiebone uit Guatemala,” gaan sy voort, “ek kan dit al klaar ruik. ’n Mens kan selfs skuimpatroontjies op jou cappuccino maak, hartjies en sulke goed.”

Ja, met dié Russell Hobbs, som sy op, sal ons ons eie, persoonlike barista – koffiemaker van formaat – in die kombuis hê.

Vir jou lyk dit of die ding enige oomblik kan opstyg, daar’s liggies, handvatsels en knoppies met Auto-off, jy kan hom selfs op Pause sit.

“Kan hy skottelgoed was?” vra jy. “Buitendien, wie wil nou soggens by die kombuis inkom en vra: ‘Môre, Russell, is die koffie al klaar?’” Jy sal nie verbaas wees as hy terugpraat nie.

“Dink net, ons sal feitlik nooit weer na ’n koffiewinkel hoef te gaan nie.”

Jy dink. Nie? Jy begin sommetjies maak in jou kop. Daar’s soveel dae in die jaar, soveel koffiewinkels in die stad, ’n eenvoudige cappuccino kos soveel, as ’n mens nou vat dat julle soveel … hoe lank sal dit dan neem om Russell Hobbs as ’t ware af te betaal deur besparing op koffie in koffiewinkels?

“Sê net weer, wat kan die ding alles doen? Kry ’n mens ’n model wat muffins en chocolate brownies ook kan maak?” Anders gaan dit nie help nie …

“Buitendien,” sê sy ongestoord, “as daar wéér ietsie kleins van jou vir my onder die Kersboom lê, en ek kan dit wéér nie voor die ander mense oopmaak nie, gaan hulle jóú skuins aankyk.”

Miskien het sy ’n punt beet daar, maar jy sê: “Met ietsie kleins is dit tog elke dag Krismis, nè?”

Mmm, stem sy saam. “Veral met die reuk van vars koffie uit Guatemala daarby, nè?”

Terloops, vra sy, wat wil jý vir Kersfees hê? Jy’t gedink sy gaan nooit vra nie.

Ag, sommer ietsie kleins, sê jy.