Rubrieke - André le Roux

‘In die slaghuis’ – André le Roux

Eendag op ‘n Saterdagoggend in ‘n slaghuis in die Klein-Karoo, en hoe gaan jou vriende jou glo as jy vir hulle vertel jy’s in die openbaar met ‘n pakkie skaaptjops aangerand?

Die gewone slaghuisgeluide: stemme, ‘n sifdeur wat klap, elke nou en dan die dun geloei van ‘n saaglem, kasregister-klanke en kleingeld. Verder, sou ‘n mens seker kon sê, is dit vreedsaam en stil.

Tot daar ‘n ou op twee rye spore inkom. Dis tienuur in die oggend, maar hy’s “matig aangeklam dog sigbaar dronk”. En hy praat vreeslik hard, luidrugtig. Hy soek R5 se varkvet. Hy soek dit nou.

By die toonbank tussen ander mense staan ‘n vrou. Sy is nogal… wel… nogal rond met so ‘n hoë boesem. Haar rok trek ‘n bietjie op oor haar maag, dit raak glad nie aan haar knieë nie.

Daar staan sy met enkels in plat skoene en, soos Jan Spies sou sê, so ‘n vies trek om die mond, ‘n dun mondjie. Haar hare is ook dun.

En die ou gaan druk met sy spore voor haar in, sy moet effens tru staan.

“R5 se varkvet!” sê die ou. Die eienaar tree tussenbeide en sê vir hom, gaan staan agter in die ry, jy kan mos sien hier’s ander mense voor jou. Die vrou met die vies trek om die mond kry net daar ‘n aanval van padwoede. Sy gryp haar pakkie skaaptjops, druk dit in haar plastieksak van OK Foods, ruk haar op en sê: “Vir wat ráás jy so vroeg in die oggend?!”

Haar stem styg in desibels tot teen die plafon, twee keer harder as wat die dronk ou praat. Sy betaal en storm deur toe, enkels in plat skoene . . .

Die eienaar gee vir die ou sy varkvet en sê hy moet volgende keer sy eie plastieksak saambring anders moet hy vir een betaal.

“Nou hoe nou? Vir wat?”
“Dis ‘n nuwe wet van die regering.”
“Nou hoe moet ek dit weet? Ek het nie ‘n radio of TV nie!”
“Ek sê jou mos nou.”
Die ou dink. Hy dink.
“Nou hoekom is die minimum loon in die Wes-Kaap R800 ‘n maand en ek kry net R200 ‘n maand?”

Dit hang seker af watse werk die ou doen, maar die eienaar glimlag, want hy ken die antwoord.
“Omdat jy nie in die Wes-Kaap is nie.”
“Nou wáár is ek dan?” kom dit vinnig. Die ou trap ‘n
ongelykheid in die slaghuisvloer net-net mis.
“Jy’s in die Karoo.”
“Nou wáár is die Wes-Kaap dan?”
“Daar van Worcester se kant af aan Kaap toe.”
Nuwe inligting. Nou dink die ou harder. Wat gemaak met die nuwe inligting? Worcester? dink hy.
“Nee,” sê hy. “Vir R800 ‘n maand gaan ek wragtag nie Woester toe nie!”

Teen hierdie tyd het die vies vrou die sifdeur amper bereik, maar enigeen kon sien die deur gaan dit nie maak nie, sy gaan hom uit sy kosyn uit loop. ‘n Vriendelike man staan nader om die deur oop te hou, maar hulle bereik die deur gelyk.

Die man steek sy hand uit na die handvatsel om dit oop te maak. Maar op dieselfde hoogte as die handvatsel, daar sit die vies vrou se regterbors. Die vriendelike man maak toe haar boesem oop pleks van die deur… so ‘n hoë boesem dat die knope spat.

Dis toe dat die vies vrou haar plastieksak met die skaaptjops hier van onder af opbring, en sy slaan die vriendelike man met die pakkie skaaptjops dwarsdeur die gesig. Eers van onder af
op, toe van links na regs. Die tjops maak so wap-wap.

Hoe gaan ek dit aan my vrou verduidelik, dink die man, wat nog te sê my vriende?

Daardie dronk ou het hoeka gesien wat kom, hy’t eenvoudig spore gemaak tussen die ander mense by die toonbank in…