Rubrieke - André le Roux

In haar klerekas

Jy kan dit nie glo nie, maar jy sien dit met jou eie oë.

Hopies klere op die vloer.

Dit moet hierdie tyd van die jaar wees … Hou sy uitverkoping of beteken dit sy skep uiteindelik orde in haar klerekas?

“Ek skep orde,” sê sy. Sy wil die nuwe jaar ligter in – gaan. “Hier’s ’n hoop klere wat ek nooit weer sal dra nie.”

Buitendien, fluister sy vir die mat, hier’s klere waarin ek nooit weer sal pas nie …

Nè? Laas toe jy dieselfde dinge geuiter het, moes jy noodgedwonge op ’n hopie gaan sit omdat jy skielik in die pad was.

Nou’s daar drie hopies. Die een hopie se naam is GOOI WEG of GEE WEG. (Goed so, dink jy, laat ons gee vir dié wat minder bevoorreg is. Die Salvation Army sal bly wees.)

Die ander hopie is HOU en die derde een heet ONSEKER.

Onseker is die grootste hopie, terwyl kledingstukke tussen die hopies rondskuif: van die Gooi Weg-hopie na die Onseker-hopie na die Hou-hopie, wat al hoe groter word. (Iets soos hopie-hopping.)

Heel agter in die kas kom sy af op ’n paar tops met … sowaar … daar sit dit, jy sien dit met jou eie oë!

“Daai top – en dáái een,” wys jy, “het sowaar nog ’n etiket aan.”

Dit blyk sy het dit ’n hele ruk terug gekoop, maar kon toe nie besluit of sy daarvan hou nie. In die winkel het dit so mooi gesit … En dié een wou sy nog terugneem, maar sy’t nooit daarby uitgekom nie, en dis nou al ’n jaar of wat later en sy’t nie meer die strokie nie.

“Kan mens dit nie in die koerant adverteer nie?” vra jy: Tops. Nog nooit gedra. Met die label aan. En hoekom word die Hou-hopie al hoe groter en die Gooi Weg-hopie hier links vorder niks? Daar gaan steeds te min hangplek wees, want daar het ondertussen nog klere bygekom wat sy vir Kersfees present gekry het – en dié wat sy self gekoop het (vir die Groot Dae, jy weet?).

“Die vraag is tog of jy dit weer gaan dra. Indien nie, gooi uit,” moedig jy aan.

“Dis nie so eenvoudig nie,” sê sy.

Nee, want voortspruitend uit die Onseker-hopie ontstaan ’n vierde hopie: PAS EERS AAN. En hier kom die byvoordeel: in die middel van die week, in die slaapkamer, reg voor die klerekas, kry jy die kans om ’n aanpas-sessie dop te hou – én sy vra jou wat jy dink.

“Dink jy dié een sit te styf? Miskien kan ek net hierdie rok se soom uithaal, maar is pers nou in die mode? Onthou jy hierdie een? Dit was in ’n stadium jou gunsteling omdat die materiaal so sag voel. Dit het by hierdie top gepas.”

Mm-mm, pas aan laat ek bietjie voel …

“Terwyl jy nou daarmee besig is, hoekom gooi jy nie sommer ook daardie bra uit nie?” stel jy voor. “Die ding voel so hard soos ’n borswering.”

“Dit bied ondersteuning,” sê sy en klaar.

Jy slaan jou oë op na die plafon, waar sal jou ondersteuning vandaan kom? Toe jy weer afkyk, sien jy die skoenbokse, rye en rye onderin die kas.

“Is daar nie skoene wat jy ook …?” waag jy dit. Want jy weet, sy’t tog skoene gekoop om te pas by bepaalde klere, en as sy nou van daardie klere ontslae raak, gaan daar skoene wees wat by niks pas nie, dis logies.

Sy sê moenie my nou in ’n boks probeer druk nie, ek’s besig met die klere.

“Kyk hier!” trek sy jou aandag af. “Kan jy dit glo?”

Jy kan. Netjies behoue in ’n lang plastieksak … haar … matriekafskeidsrok.

Blinkertjies om die hoë hals, ’n wye strik om die middel, met pienk pofmoue, ’n swiepende gewaad met ’n onderrok wat lyk soos ’n badkamergordyntjie in die wind.

Sy sou kon deurgaan as ’n strooimeisie.
Help ’n bietjie met die ritssluiter, sê sy.

Trek in jou asem, sê jy.

“Sjoe,” blaas sy haar asem uit. “Dit pas sowaar!”

Sy draai rond voor die spieël. “Hoe kón ek so ’n rok gedra het?! Ek lyk soos ’n strooimeisie op pad na die onthaal.”

“Wragtig,” sê jy. “Kom ons dans!”

PS. Liewe leser: Volgende maand kuier ons by die Heilsleër.