Rubrieke - André le Roux

Is jy romanties?

Jy onthou intieme aande met warm hande en Julio Iglesias, aarbeie en roomys, sjokoladekoek op die sitkamermat, sjampanje op die strand met kerse in die sand wat jy self daar geplant het.

En pizza in die bed.

Julle het eenkeer by Churchhaven op die strandmeer gevaar. Die bootjie het sommer daar op die strand gelê, toe sê jy klim in, ek vat jou vir ’n spin. (As dit nou nie romanties is nie . . .) Julle het ál om en om gevaar, want daar was net een spaan, en die bootjie was nie juis seevaardig nie. Gelukkig was die water vlak, maar julle moes nogtans kniediep terug wal toe waad. Jy wou haar op die hande dra, maar julle was nog effens vreemd vir mekaar, toe word haar romp sopnat.

”Kom ons sit hier op die sand om droog te word,” het jy voorgestel.

Met ’n nat skirt op die sand? het sy gevra.

“Moet jy nie liewer jou romp uittrek nie? Dan word dit gouer droog, hier’s tog nie ’n mens in sig nie.”

Dis soos dit moet voel op ’n verlate eiland, het jy gedink, net julle twee. Dit was jul eerste date. (Wonder wat daardie ou gedink het toe hy agterkom sy boot met die een spaan is weg.)

Sy’t in die kar gaan sit, nat skirt en al. “Nou’s my sandale ook geruïneer.”

Toe gaan eet julle maar kreef op Paternoster.

Die volgende keer (sy’t weer nie geweet waarheen jy haar neem nie) was dit ’n sjampanje-piekniek met Oros (dit was die einde van die maand) langs die Bergrivier in Du Toitskloof. Tussen muggies. Jy kon dit nie voorsien het nie. Op die tamatiesous. Op die hot dogs. Dit was asof die tamatiesous louwarm gestol het.

Moet sê, jy was half verbaas toe sy jou uitnodiging ’n tweede keer aanvaar. Sy moes iets romanties in jou gesien het waarvan jy nie toe bewus was nie.

Jy’t toe al besef: Enigiets wat ’n man doen sodat ’n vrou nie hoef kos te maak nie, is romanties. Dan is ’n bootreis aan die Weskus eintlik nie nodig nie (maar ’n
eilandvakansie kan help).

Jy kondig net aan: “Ek neem jou uit vir ete.” Agter ’n potplant in die hoek, die ligte ge-dim. Dan is dit ’n verrassing.

Want enigiets romanties moet ’n verrassingselement hê. ’n Gewoonte is gewoonlik nie romanties nie, verstaan?

Gee net blomme wanneer sy dit die heel minste verwag. As sy gewoond raak daaraan, dink sy jy bedoel dit nie meer nie. Soen haar van agter in haar nek. Eers
as sy omdraai, sien sy dis jy en is op die plek aangenaam verras – asof sy iemand anders verwag het.

As sy weer vra waaraan jy dink (vroue gaan nie ophou met daardie vraag nie), sê jy dink aan ’n bootjie onder die water by Churchhaven, m.a.w. jy dink aan die heel eerste romantiese ding wat julle saam gedoen het en hoe ’n nat skirt aan ’n vrou se lyf kan kleef en deurskynend word.

Die onverwagse nostalgie sal haar oë met herinneringe vul en joune laat blink.

Sit iets pienks in ’n boksie, draai ’n strikkie om, sit ’n kaartjie by en jy’t nog ’n verrassing. Jy kan haar die maan en ’n paar sterre gee, maar as dit nie toegedraai
is met ’n strikkie om nie help dit niks. Vroue is mal oor strikkies en kaartjies wat hulle in boksies kan bêre. (Sy’t nou nog die albaster wat haar eerste kêrel in die
kleuterskool vir haar gegee het.) En pienk laat haar dink aan spookasem en goeie tye. Dis ’n romantiese kleur soos milkshake.

Nè?

Jy onthou jy’t dit laas in 2002 ook gedoen, toe’t dit gewerk. Dit was só romanties . . . nou doen jy dit weer: Jy verskyn in die badkamerdeur soos ’n verrassingselement – met net ’n strikkie om.

’n Pienke.

  • Sarien Hibbert

    Uit…stekend!

  • Lizelle coetsee

    Sjoe!! Dit is regtig goed. Dame kan dit nie met my so iets gebeur nie.

  • Servaas

    Jou geskrifte gee my nog steeds rede tot ‘n stille lag hier in New Zealand. Ek kan verstaan hoekom Marte kort kort hard lag. Wanneer skryf jy oor die Oudam?